Somer, Son en Napier I
Oktober 25, 2013 in aardverwarming, Allerlei
[subscribe2]
Vuurklip, Polleneis en die Dapper Waghond het vir ‘n paar dae in Napier “afgetree”.
“Waar de hel is Napier?”, Vra jy.
Vanaf Kaapstad met die N2 ry jy opwaarts. As jy díe voëlverskrikkers sien, hou jy nog ‘n entjie aan en draai regs. Die lemme is om die voëls wat nie skrik nie, fyn te kap. Dis nou alles om die koring te beskerm. Ongelukkig word vlêrmuise ook opgekerf en die onvoorsiene gevolg is ‘n goggaplaag.
As jy nou regs gedraai het, kom jy by ‘n groterige dorp. Hou aan ry, regs is Pick ‘n Pay, links graansilos. Dan ry jy en ry jy en ry jy. As jy die see sien het jy Napier gemis. Draai om en ry terug. Jy kom weer by ‘n groterige dorp. Draai links ry deur die dorp en ry en ry en ry tot jy díe kerk sien. Nou is jy in Napier. Êrens aan die linkerkant is daar ook ‘n begraafplaas – nog een van die besienswaardighede. Later meer oor die besienswaardighede.
Dis maar ‘n stil ou dorpie met twee soorte mense: Díe in die begraafplaas en díe op pad soontoe.
Hou dus maar die kuier kort!
ek-myself het gesê op Oktober 25, 2013
Lekke glimlag ek nou 🙂 Gelukkig was julle atrede nie permanent nie. lol!
skaawagter het gesê op Oktober 25, 2013
My oupagrootjie is ook in die begrafplaas daar. Hy was die meulenaar op Klein Sanddrif, maar het meeste van sy tyd op die heuwels verwyl met die pluk van wit sewejaartjies vir die blomkranse op Russiese grafte na die Krimoorlog. Sy sewe seuns het almal hul studies betaal met sewejaartjiegeld…
tina10 het gesê op Oktober 25, 2013
Pragtige foto’s… Klink of julle darem goed gerus het
perdebytjie het gesê op Oktober 25, 2013
Ek hou van jou padaanwysings..lekker humoristies!
Elly het gesê op Oktober 25, 2013
Al baie van Napier gehoor, maar was nog nooit daar nie. Sal bietjie wag vir jou besienswaardighede, om te besluit of vakansietyd daar moet rondgekyk word.
vega het gesê op Oktober 25, 2013
Nou weet ek ook.
Henry @kompethenry het gesê op Oktober 25, 2013
Jy konfuse my – as jy noord ry, en jy draai regs, en ry tot jy die see sien, is dit die Indiese oseaan – ry en ry en ry is reg…
Of het ek die wyfiekat aan die ballas beet?
vuurklip het gesê op Oktober 25, 2013
Die N2 loop naastenby Oos. As jy dus regs draai ry jy Suid – rigting Napier, Bredasdorp, Struisbaai/Agulhas …
En nee, die wyfiekat is veilig maar jy probeer die bul melk.
Lewies het gesê op Oktober 25, 2013
Aha! Ek ken van Napier!! Was al selfs ‘n keer of wat daar.Het êrens gelees dat die nimlike Max du Preez ook vir ‘n tyd daar gewoon het.
Carol R @ Losbek het gesê op Oktober 25, 2013
Ek was al in Napier! Mooi plek!
lora2me het gesê op Oktober 25, 2013
Ek weet dit kan in die winter baie koud daar word.
blikskottel het gesê op Oktober 26, 2013
Jy maak dit dalk erger as wat dit is. Lyk vir my heel skaflik en rustigheid is ‘n bate deesdae.
vuurklip het gesê op Oktober 26, 2013
Ek dog ek was neutraal t.o.v. die rustigheid?
rosiemetdorings het gesê op Oktober 26, 2013
Ry net altyd woerts warts verby. Sal tog punt maak om eendag daar te stop en te besigtig