
Gisteraand op SABC3 is die film Good night and good luck uitgesaai. Julle sal onthou dat dit die verhaal vertel van CBS se blootlê van die Amerikaanse senator Joseph McCarthey se vervolging van werklike en vermeende kommuniste. Die destydse Oos-Duitse STASI en die USSR se KGB sou trots gewees het op McCarthy se metodes om van hoorsê, innuendo en skinderstories gebruik te maak om mense te verguis. Veral die vermaaklikheidswêreld se sterre moes dit ontgeld.
CBS se joernaliste het nie onder groot druk van die bestuur en van politici geswig nie, en voortgegaan met hulle exposé – wat grootliks tot die einde van McCarthy se waansinnige vervolgings bygedra het.
Die eienaardigheid van die uitsending was dat daar aan die begin en telkens ná ‘n onderbreking vir advertensies, ‘n waarskuwing op die skerm vertoon is. Sien die foto hierbo. Die film is ook aanbeveel vir kykers ouer as 12.
In die film is daar geen geweld, geen seks, geen naaktheid, geen vloekery, geen godslaster, niks aanstootliks nie.
Die vraag is: Waarom dan die waarskuwing? Waarteen kan ons kykers moontlik aanstoot neem?
Is dit dalk omdat die SABC dink dat ‘n onafhanklike span joernaliste vir ons aanstootlik kan wees?

David Strathairn as Edward R. Murrow
Onlangse kommentare