Die Kissie

Junie 12, 2009 in Sonder kategorie

Die Kissie.

 

Die son bak wit op die binneplein – wit soos die skulp van
’n josefslelie, wit soos ’n sluier. Kleur is uitgewis onder die genadelose son.

 

Daar is ’n outomatiese skuifdeur vir aflewerings en
ontvangstes.

 

Die man by die toonbank van die kraaminrigting kyk uit op
die binneplein, hy sien die hitte uit die sementblad opslaan in skitterende
golwe. Hy sien die skuifdeur en die versengde wit sementblad. Hy sien dit maar
neem dit nie in nie.

 

Buite hou ’n wit bakkie stil. Dis ’n gewone bakkie met ‘n logo
op die kajuitdeur. Dis te ver vir die man om die logo uit te maak.

 

Die man sien hoe iemand uitklim en doelgerig na die
skuifdeur loop. Agter hom skuif die deur toe.

 

Agter die toonbank werskaf twee nonne om sy rekening op te
stel. Hulle blik en houding is vol deernis en blyke van meegevoel. Hulle
gesigte is omlyn met die wit rand van die lanferswart habyt. Asof hulle voltyds
in rou is.

 

Buite gaan die skuifdeur oop.

 

Die man van die bakkie kom tevoorskyn. Hy het iets wits
onder sy arm. Dit lyk soos ’n kissie. Hy gooi dit argeloos agter op die bakkie.

 

Die man se vrou is die vorige aand ontslaan. Die dogtertjie
was dood by geboorte. Sy was volmaak gevorm, swart haartjies, melkbleek vel –
Sneeuwitjie ná die gifappel.

 

Die non het hom gewys op die wurgmerk wat die naelstring om
die nekkie gelaat het. Eers later besef hy die non se growwe mistasting – hy
kon vireers nie die gebeure objektief oordink nie.

 

Nou moet hy die rekening vir die bevalling betaal.

 

’n Non stoot die rekening oor die toonbank. Die man
oorhandig sy kredietkaart – hy slaan geen ag op die bedrag nie. Hy wag vir die
strokie wat geteken moet word. Dan kan
hy weer terug na die woonstel waar sy vrou wag.

 

Die man teken die strokie. Hy sit sy kredietkaart terug in
sy beursie en tel sy motorsleutels van die toonbank op. Hy hoor nie die non se
groet nie.

 

Die verkeerslig is rooi, hy wag vir die groen lig. Opeens
sien hy weer in sy geestesoog die skuifdeur wat oopgaan, hoe die man die kissie
op die bakkie gooi.

 

“My God!” dink hy, “is dit die kissie?”

Foto:

http://farm1.static.flickr.com/113/295099828_58422c69ea.jpg?v=0

 

3 antwoorde op Die Kissie

  1. loudavisi het gesê op Junie 13, 2009

    Ek se mos, ek verstaan niks meer nie!!

  2. loudavisi het gesê op Junie 13, 2009

    Oor jou vraag daar by my:
    Ek bedoel ek verstaan nie hoekom vrouens swanger raak en babas verloor nie.. wat kan die doel daarvan wees, behalwe om uiterste hartseer te beproef. Ek verstaan nie die dood, honger en lyding van mense nie.
    Ek verstaan maar min – so verskoon my onnoselgeit.
    Sien jy nou?

  3. skaawagter het gesê op Junie 23, 2009

    …onvergeetlik triest…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.