Weer Klimaatverandering

Maart 31, 2009 in Sonder kategorie

Weer Klimaatverandering

Dit wil voorkom of daar ten minste drie maniere is waarop beskikbare kennis en onkunde mense se reaksie tot talle vraagstukke beïnvloed:

  1. Gebrek aan inligting – m.a.w. die afwesigheid van inligting, feite en/of waarneming.

    Onder hierdie kondisie vind ons groot groeperings wat teenstrydige standpunte handhaaf – die verskille kan óf baie klein, óf baie groot wees, met alle skakerings tussen in. Die groeperings word sterk deur kulturele en/of tradisionele gebruike gelei, gewoonlik met ‘n kader van ingewydes om die standpunte te beskerm en te interpreteer. Die natuurlike voorbeeld hiervoor is die wêreld se religië. Daar is gewoon geen manier waarop een religië bo ‘n ander verkies kan word nie – behalwe dalk met beginsels van menseregte wat buite religië kan staan.

  2. Die bestaan van ‘n magdom inligting, feite en kennis gebaseer op navorsing.

    Onder hierdie omstandighede vind ons groot groeperings wat naasteby dieselfde standpunte handhaaf, tesame met kleiner groepe wat
    a) die bestaande kennis verwerp,
    b) wat onkundig is ten opsigte van sodanige kennis en
    c) wat ‘n totaal ander interpretasie vir die bestaande inligting voorstaan.

    Voorbeelde hier is o.a. HIV en VIGS, Itelligente Ontwerp, Kreasionisme, Kosmologie en Evolusie. So vind ons in bv. Kosmologie die konsep van doe Oerknal waarin ruimte en tyd ontstaan het. Hierdie interpretasie word deur die meeste kosmoloë onderskryf. Daarteenoor is daardie konsep van ‘n polsende heelal – ‘n minderheids posisie wat (nog) nie as vals bewys kan word nie.

  3. Die bestaan van ‘n groot versameling inligting wat ondanks van die omvang steeds grootliks onvolledig is.

    Hier vind ons groeperings van alle groottes met teenstrydige interpretasies vir dieselfde stel waarnemings. Soos met religië is daar ‘n hele spektrum van oorvleueling onder die verskillende interpretasies. ‘n Voorbeeld hiervan is natuurlik klimaatverandering, die faktore wat dit veroorsaak en spesifiek die mens se bydrae daartoe. Klimaatverandering as sulks is ‘n gegewe, die dispuut gaan daaroor wat die oorsake is en of ons iets daaraan kan doen. My persoonlike mening is dat ons feitlik geen beheer daaroor het nie en dat ons uiters min daartoe bydra. Die verskil hier met religië is dat, soos wat kennis verbreed, ons mettertyd wel tussen die verskillende interpretasies sal kan onderskei.

    Om dus op hierdie tydstip groot aanpassings te doen, aanpassings wat groot beleggings sal vereis, wat ‘n onbekende uitwerking sal hê, ons duur te staan sal kom. Hierdie beleggings kan tans veel beter aangewend word vir ontwikkeling en armoedeverligting.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.