Woensdagaand toe ek sien dat kleinding sy skerpsinnige sin vir humor verloor het, het ek geweet, hierdie kind voel nie lekker nie. Donderdagoggend straal hy hitte uit wat my laat smag het om hom om my te vou vir ‘n bersie en saam werk toe neem.
Nodeloos om te sê 09h00 is ek terug by die huis, dokter toe, apteek toe, huis toe met ‘n klein pakkie wat ‘n hele maand se petrol kos. Antibiotika (wat skree teen my geloof) en allerande ander goeters om die snotterye onderbeheer te hou. Griep is ‘n lelike ding. En vir ‘n ma is ‘n siek kind ‘n slegte ondervinding.
Net na een lui my foon, manlief was in ‘n klein robot-onderonsie van bumber-tot-sy betrokke. Sug, Maak kleinding in die bed toe, jaag na die ‘scene’ en kyk en beluister maar die gedoente soos ‘n goeie vrou betaam…in die agtergrond met bek op die grond… en ry maar net stil-stil weer huis toe.
Later in die aand toe alles net begin rustig raak, breek die cowboys en crooks geveg in onse straat uit…sirens, skree van remme, groot ‘thump’ toe kom daar nog ‘n skree van remme en nog ‘n ‘thump’…toe stilte. Soos goeie bure agter gordyne betaam, loer almal deur die skrefies…nie lank nie, kom die sirens terug…weer by die straat af, eers ‘n BMW en baie bloue liggies kort op sy spoor…
Teen daardie tyd het die dag se stress hom netjies regs agter my oor kom tuismaak. Hoofpyn galore!
Vrydag was rustiger…
Vandag beter… (en ek sien die oorblyfsels van daardie ‘thumps’ op die randsteen…centimetres van die lamppaal af…die nogal scary want ons bly om ‘n skerp draai…dit kon lelik gewees het…)
En môre hoop ek vir die beste…dit is nou te sê as buurvrou se tuinhulp eerder 7h00 na die besem sal gryp en nie die leafblower nie… en dat die hadida paartjie nie weer besluit om bostelegraaf vieruur in die oggend met die hele Garsfontein wil speel nie. Netnou word ek verantwoordelik gehou vir die aksie van die voëls op myse erf.
Fluit-fluit
Ps. Op langafstand…sterkte aan die langasems môre. Ek sal cheer met my oggend koffie en left-over biltong.
Onlangse kommentare