by

Die steuring van versteurings…

September 29, 2010 in Sonder kategorie

…wat soos jou soos ’n skim van agter bekruip en jou soos ’n koue nat wit laken toevou…dit klou en kleef en trek diep in jou lyf in soos duur room en laat ’n vetlaag soos cheap seep.

Jy kan dit nie sien kom nie. Jy kan dit nie voel kom nie. Jy kan dit nie ruik kom nie. Ek kan dit proe…soos grond in my kieste en sand op my tong…en dan hoor ek hom. Dit is daardie klop-klap-klop-klap voetstappe diep van binne die essensie van my siel…en dan is dit reeds te laat.

Die elektriese skok het klaar verlam en die navolg van mini skokke trek al van bo na onder sonder om geaard te word en weer terug…tot waar die hartklop en borskas stamper-strompel resies jaag en die eindstreep te vêr buite myself geplaas word…na êrens waar nêrens is…en nooit sal wees.

Dit is op daardie presiese oomblik dat jou sintuie jou verraai en belieg en bedrieg en jou buite jouself laat en vir ‘’n wyle nie weer ingelaat word nie. Dit is soos om voor ’n geslote deur te staan terwyl die hond jou van agter bespring…of daardie oomblik waar jy die donker gang afstap en skielik net begin hardloop…maar net in jou brein en jou liggaam beweeg nie. Om vir ’n minuut of tien met die doodsengel aan’t hand te stap op ’n mat van suigende duisternis…en wonder wanneer dit gaan ophou…tussen die aanhou en die ophou…het jou gees die gees gegee…

En dan…dan’s dit verby. Net so. Net soos ’n lig wat jy aanskakel. Kliek en dis lig.

En jy bewe en jy wonder en jy wag…en wag…bang, so verskriklik bang…in afwagting vir die volgende skim se besoek…miskien kom hy sommer nou-nou weer. Dalk môre, dalk die naweek…miskien volgende maand, twee maande…jaar, dalk nooit. Maar jy wag…en met die wag word dit ’n wens en met te veel wens word dit ’n demand en met die demand…forseer jy ’n manifestasie…en die siklus herhaal homself…die vleeslike binne die geestlike dood wat jou insuig…en ‘hopelik’ weer keer op keer sal uitspoeg.

Natuurlik is daar soveel ander sensasies wat hiermee gepaart gaan…Oorsensitiewe gehoor…wisselvallige liggaams tempratuur, steek hoofpyne, borskas pyn, needles and pins, verlamming, en vele ander fisiese ervarings…maar om die doodsengel aan die hand te vat…is die ergste. Om ‘mal’ te word is erger. Om iemand te vertel wat nie verstaan nie, heelwat erger…

Vir my is al die bogenoemde deesdae ewe erg…en erg genoeg.

To fear the fear itself…is die knoppie tot selfdestruction…

Paniekversteuring is nie ’n ullisie nie. Dit is so real soos in die spieël kyk…al lieg dit soms.

6 antwoorde op Die steuring van versteurings…

  1. Daardie drukking op die bors wat dit maak voel jou longe werk nie…

  2. maar ek slaap dan nie eers op my maag nie?
    🙂
    Maar ja, hierdie is nie lekker nie.

  3. As dit maar net was Pa-Flenters, dan het ek lankal die lig aangeskakel…

  4. ??
    !!!!!!!
    Dankie.
    😉

  5. TS het gesê op September 30, 2010

    Sjoe ken jy sowaar die Skim?

  6. abrham het gesê op September 30, 2010

    ” allenig moet ek bed toe gaan
    dit is donker in die gang …”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.