Wanneer…
September 30, 2010 in Sonder kategorie
September 29, 2010 in Sonder kategorie
…wat soos jou soos ’n skim van agter bekruip en jou soos ’n koue nat wit laken toevou…dit klou en kleef en trek diep in jou lyf in soos duur room en laat ’n vetlaag soos cheap seep.
Jy kan dit nie sien kom nie. Jy kan dit nie voel kom nie. Jy kan dit nie ruik kom nie. Ek kan dit proe…soos grond in my kieste en sand op my tong…en dan hoor ek hom. Dit is daardie klop-klap-klop-klap voetstappe diep van binne die essensie van my siel…en dan is dit reeds te laat.
Die elektriese skok het klaar verlam en die navolg van mini skokke trek al van bo na onder sonder om geaard te word en weer terug…tot waar die hartklop en borskas stamper-strompel resies jaag en die eindstreep te vêr buite myself geplaas word…na êrens waar nêrens is…en nooit sal wees.
Dit is op daardie presiese oomblik dat jou sintuie jou verraai en belieg en bedrieg en jou buite jouself laat en vir ‘’n wyle nie weer ingelaat word nie. Dit is soos om voor ’n geslote deur te staan terwyl die hond jou van agter bespring…of daardie oomblik waar jy die donker gang afstap en skielik net begin hardloop…maar net in jou brein en jou liggaam beweeg nie. Om vir ’n minuut of tien met die doodsengel aan’t hand te stap op ’n mat van suigende duisternis…en wonder wanneer dit gaan ophou…tussen die aanhou en die ophou…het jou gees die gees gegee…
En dan…dan’s dit verby. Net so. Net soos ’n lig wat jy aanskakel. Kliek en dis lig.
En jy bewe en jy wonder en jy wag…en wag…bang, so verskriklik bang…in afwagting vir die volgende skim se besoek…miskien kom hy sommer nou-nou weer. Dalk môre, dalk die naweek…miskien volgende maand, twee maande…jaar, dalk nooit. Maar jy wag…en met die wag word dit ’n wens en met te veel wens word dit ’n demand en met die demand…forseer jy ’n manifestasie…en die siklus herhaal homself…die vleeslike binne die geestlike dood wat jou insuig…en ‘hopelik’ weer keer op keer sal uitspoeg.
Natuurlik is daar soveel ander sensasies wat hiermee gepaart gaan…Oorsensitiewe gehoor…wisselvallige liggaams tempratuur, steek hoofpyne, borskas pyn, needles and pins, verlamming, en vele ander fisiese ervarings…maar om die doodsengel aan die hand te vat…is die ergste. Om ‘mal’ te word is erger. Om iemand te vertel wat nie verstaan nie, heelwat erger…
Vir my is al die bogenoemde deesdae ewe erg…en erg genoeg.
To fear the fear itself…is die knoppie tot selfdestruction…
Paniekversteuring is nie ’n ullisie nie. Dit is so real soos in die spieël kyk…al lieg dit soms.
September 26, 2010 in Sonder kategorie
Ons is almal poppe aan ‘n toutjie, dis net die puppetmaster wat verander. So is dit mos maar, niemand is waarlik toutjieloos vry nie.
Van kindsbeen af word ons toutjies getrek; wie ons moet wees, wat om te doen, wat om te glo en hoe ons veronderstel is om te lewe. Ons word soms genadeloos in rigtings getrek teen ons wil, soms kry ons dit reg om ‘n tou of twee te breek…net om weer getou te word.
Namate ons ouer word en die toutjies wegval…en vryheid voor jou deur kom staan…neem jy dit alles wat jy geleer het en draai jouself met kettings toe, sluit jy self die slot van die ketting om jou enkels…want jy het nog nooit geleer wat vryheid is nie, en as jy dit kry voel jy ongeanker en uit balans…net om weer hierdie keer deur jouself getou te word.
Miskien is dit tyd om van die toutjie na die ketting na die vlerke te beweeg…net jammer nie almal met vlerke kan vlieg nie.
September 25, 2010 in Sonder kategorie
In die winterstreek
dor met gras se sade
ongeblom laag gaan lê
soms nie eers met wonder
of het die reën gekom
September 24, 2010 in Sonder kategorie
September 22, 2010 in Sonder kategorie
Stilte
onkeerbaar stemloos
waardeur skryf spartel
gewaardeer gewentel gewoel gepas
gee skryf gewaag
geleidelik stom
akkoord
Stilswye
Die woord het mag,
met ontsag lê
dit wagtend stil
So gaan ek ook maar stil raak totdat ek dalk weer
hier verby kom.
Los net asb vir my die ligte aan.
Groete.
September 22, 2010 in Sonder kategorie
Ons almal ken daai gevoel van jy praat en praat en skree net om
bloot nie gehoor te word nie…
Ja-nee…
September 21, 2010 in Sonder kategorie
Ek sit vanaand alleen met ‘n koppie koffie en vier ons 15de! Nee, nie die gewone herdenking nie. Vandag ‘n hele 15 jaar gelede het ons hierdie huisie gekoop. Ons eerste en volgens my woorde jare gelede – die laaste.
Maar dit is nie al nie. My hondjie “Babetjie” is ook vandag 15 jaar oud. Ja, sy is steeds hier en het ‘n ekstra bederfie gekry toe ek vanmiddag by die huis gekom het. Sy hardloop nog lustig rond, jaag duiwe van haar drinkbak weg en speel met Fuzzy – kleinding se hond en blaf vir die skadu’s op ‘n volmaan aand.
Maar steeds vier ek alles alleen, want kleinding en manlief kuier by sy familie en kleinding het my vanmiddag van Valparaiso, Chile gebel het vanwaar hulle krappe op die strand jaag…om my opgewonde mee te deel dat hulle môre vir ‘n paar dae berge toe gaan om te gaan snowboard. Ai, hoe geniet hy nie sy verlengde vakansie nie, terwyl Ma moet werk en baie verlang….
Ek gaan ook vandag se datum in my dagboek aanteken vir ‘n ander spesiale rede… Ek het vandag geleer dat dit nie saak maak as jy nie perfek is nie. Dat dit okay is om ‘n skewe tone te hê, dat dit okay is as jou mascara smeer, dat dit okay is as jy nie lekker voel nie. Dat dit okay is as jy wil lag as iets snaaks is. Dat dit okay is as jy nie saam met ander stem nie. Dat dit okay is om te sê; “Ek weet nie” en om “Nee” te sê. Dat dit okay is as jy nie al die antwoorde kan kry waaroor jy vra nie.
Miskien gaan ek nog eendag leer dat dit okay is om te huil, dat dit okay is as sekere vrae nie antwoorde het nie. Dat dit okay is om te vra; “help my” en dat dit okay is as jy nie altyd almal kan help en gelukkig hou terwyl jy dalk jouself daardeur te na kom. Dat dit okay is om soms selfsugtig met jou tyd en jouself te wees. Dat dit okay is, om net jouself te wees en jouself te kan vergewe voor jy ander opreg kan vergewe…jip, miskien eendag…maar vanaand is ek te dom.
September 21, 2010 in Sonder kategorie
Die rukwind deur jou hart
wat jou na asem snak
en suur deur are pomp
tot sout versteen in oë wat kyk
’n siel verstom
slegs in die gees vermom
Onlangse kommentare