Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

by VozSola

Oëverblindery

Augustus 24, 2010 in Sonder kategorie

Woorde is ’n spieël…

Niemand kan ooit doeltreffend daarin of daaragter skuil nie.

by VozSola

Onfatsoenlik vrou

Augustus 23, 2010 in Sonder kategorie

Mag ek vandag onfatsoenlik vrou wees,

my pote met skoene en al op die stoel,

eergister se make-up en

knip inni hare met gisteraand se pajamas,

sommer so voor die son ondergaan?

Mag ek vandag onfatsoenlik vrou wees,

en vir ander sê; los my net uit…want ekke

voel nie flippen lekker nie?

Mag ek vandag onfatsoenlik vrou wees,

met seer keel en hees stem soos daai tannie

oppi hoek gil…fo*of net!?

Mag ek vandag onfatsoenlik vrou wees,

en gillende aan die man verduidelik dat

ek nie ’n computer is nie, en dat anti-virus

upgrades nie by my sal werk nie…en dat

tlc nog nie ’n taal is wat hy verstaan nie..,

of enige ander man van staal nie…

Ag fokkie toggie…laat my vandag tog

net onfatsoenlik vrou wees…

Asseblief!

by VozSola

Ongebalanseerde balans (van uiterstes)

Augustus 23, 2010 in Sonder kategorie

 

Ons lewe ongebalanseerd tussen ‘n balans van uiterstes. Lewensienings is óf wit óf swart, maar daar is geen aanvaarbare balans in die grys?

Die glas is halfvol of halfleeg en dit is verstaanbaar, maar niemand waardeer slegs ‘n halwe glas nie? Jy’s té regs en die ander ou té links en die reguit pad is meestal ‘n eensame pad. Een bid glo té veel, ander weer té min, maar niemand mag slegs gewoon bid nie. Een groep vlieg té hoog terwyl ‘n ander té laag ondergronds moet bly lê, terwyl dit blyk om onaanvaarbaar te wees teenoor die een wat regop, reguit wil loop. Jy lees té veel en ek dalk té min, maar selde of ooit word die geskrewe woord daadwerklik verstaan.

Die goue middeweg van aanvaarding en verdraagsaamheid het dus die voortbestaan van hierdie foutiewe weegskaal verewig. Die lewe is werklik onvoorwaarlik uit balans geruk.

Is dit slegs sigbaar in die natuur of is dit ook die geval ten opsigte van die moderne mens se psigiese samestelling, persepsies, wanorde, emosies en ervarings vanuit ? daaglikse voortbestaan? Is hierdie onbalans die rede dat ons as mense nie meer die groter prentjie kan sien nie, maar distorte variasies, opgebreek in stukkies wat ons so venynig maak oor die dinge en die mense in ons daaglikse lewens?

Het ons onsself deur die blote strewe tot vooruitgang dalk hiermee ons einste voortbestaan belemmer deur die ongebalanseerde weegskaal van die verlede ons terug na die verlede druk?

Is dit hier tussen die super-uiterstes van regverdigheid en onregverdigheid, tussen reg en verkeerd, dat daar dalk net nooit ‘n balans was nie, en dus nooit sal wees nie?

Dalk is dit juis die grootste vraag met die kortste antwoord. Of die kortste vraag met die langste antwoord? Dalk is die vraag die antwoord self? Miskien is die antwoord ook die vraag. Sou dit verklaar hoekom die mens altyd, ewig, soekend bly?

Ons probeer normaal lewe, maar almal loop op dieselfde pad van glas en wonder soms dan heel verbaas hoekom ons dan bloei.

Bron

by VozSola

Plofbaar

Augustus 23, 2010 in Sonder kategorie

Die jaar het so te sê die einde van die halfpadmerk bereik. Die een dag vloei in die ander soos ? ewige lopende stroom. Daar is geen stil water in hierdie jaar nie, eerder net een stroomversnelling na die ander. Die een groter as die ander. Skaars kans vir herstel en jy vind jouself binne in die volgende.

Niemand kla oor die dinge na aan hulle nie. Niemand praat oor hulle eie oorlewing nie. Dit is altyd makliker om te kla oor ‘n ander. Dit is makliker om vir iemand anders jammer te voel. Dit is soveel makliker om jou eie daaglikse frustrasies op die res uit te haal. Swak tydskrifte. Slegte publisiteit. Die Regering. Die Banke. Die President. Die buurman se hond. Die Polisie. Die Stadsraad. Die swak kondisie van die paaie. Die ongerief van sokkerwedstryde. Die voedselpryse. Hoë lewenskoste en duur krag en ongereguleerde gas-pryse. Die Dominee. Die swak stand van onderwys. Kinder-druggies teenoor kindermishandeling.

Hierdie soort van druk het mense emosioneel uit proporsie geruk. Daar is skielik ? oorvloed aan ‘nuwe’ geestesversteurings. Nee, dit is nie net meer ‘afgeboek vir stres’ nie, daar is nou ‘post-traumatiese stres’ en elke vierde persoon ly in ? mindere of meerdere mate aan depressie. Kinders ly aan depressie. Veral die mans ly in stilte … tot ? koerantopskrif dit bevestig met foto’s by ‘n oop familiegraf. Die steunpilaar van die gesin, steunpilare van die gemeenskap, gooi moedeloos hande in die lug. Mense het plofbaar geword. Hulle daaglikse stryd het hulle plofbaar gemaak. Enige iets (gewoonlik die klein dingetjies) stamp hulle oor die rand na die donker kant. Hulle verloor perspektief. Niks normaal maak meer sin nie.

Skielik is daar ? nuwe soort van oplewing in geloof. Die kerke is nie meer vol nie, maar mense is ernstig op soek na ‘n dieper betekenis tussen die daaglikse niks van ‘n voortbestaan. Spiritualiteit is aan die orde van die dag. Meditasie is die nuwe ‘oggendkoffie’ om jou deur die dag te sien en word jou ‘night cap’ voor jy deur doellose drome ploeter.

Ander weer gaan oorboord met drankmisbruik, enige vorm van goedkoop dwelms en straatekstase. Kinders word afgeskeep terwyl ? moeder deur drie ‘day jobs’ swoeg, terwyl ? pa te ‘moeg’ is om te werk. Te ‘moeg’ gesoek is, te ‘moeg’ baklei is en dan eindig dit op ‘n uitgeputte moeder se blou-gemerkte kleed wat sy dag na dag onder lang klere moet versteek.

Nog ? witgeverfde dansende hoesende kind met ? bottel gom in die een hand en ‘n bedelblikkie in die ander by die verkeerslig. Nog ‘n jong wit man met ? verwese stomme uitdrukkinglose kyk, met ? swak-geskryfde ‘help’-bordjie om die nek. Nog ? onwettige uitlander met ‘n ‘car-charger’ in ‘n karvenster. Waar sal hulle hulp vandaan kom? As dit koud is, kla mense. As dit warm is, kla mense. As die krag af is, kla mense. As die krag aan is, is dit te duur. Hoeveel meer kan mense hulle broodjies aan beide kante botter?

Ou mense voer ‘n sukkelbestaan tussen tee en pap. Hulle lewensgeldjie wat oornag na ? oorlewingsgeldjie verander. Die superryk belê miljoene in ‘fly-by-night-drome’ terwyl al wat hierdie oumense aan die gang hou, die ‘fly-by-day-drome’ is dat daar nie genoeg is vir môre nie, en oormôre bestaan nie … en vandag kan maar net nie gou genoeg verby gaan nie.

Steeds kla niemand oor hulself nie. Maar almal is bewus van die skielike sak van die skouers. Die skielike leë kyk in die oë. Die skielike onverklaarbare ‘siektes’ en gedurige hoofpyne. Die onbehoud van ? glimlag. Die lag met ‘n traan te veel. Skielike stilte en onttrekking van vriende. Die uitstel en afstel van ‘n koffiedrinkuitnodiging. Die skielike klingel van hordes sente by die petrolpompe en die verslae stil kindergesiggies by die supermark in die chocolate-en-chippies-gang. Kinderbene wat vinniger groei as wat die sweetpakbroeke hou en verslete tekkies waar skaam krul-toontjies vir die wêreld loer.

Die skielike gedurige laat-kom van ? kollega, omdat sy haar kar verloor het. Die ver stap om ? ‘stage’ of twee se busgeld te spaar. Kinderpartytjies in die park sonder ? verjaardagkoek. Die leë lunch-boksies wat deesdae swaarder as die broodjie weeg. Die kraanwater in ? fênsie ‘name-brand’ bottel. Verlede jaar se wintertruitjie wat bo die middel uitstyg.

Waar presies lê die aangemaakte en aangeplakte wêreld se lyn van “contentment”? Maak dié dinge regtig saak? Moet ons begin leer om selfsugtig te wees net om emosioneel te kan oorleef? Om eerder net aan ons eie heil te dink en oë toemaak teenoor die lewe om ons? Of het ons juis die derglike dinge om ons nodig om ons eie waarde teen te meet? Waarteen meet jy deesdae jou tevredenheid? Jou geloof dat alles goed gaan of sal goedgaan? Of dalk in die wete dat jy alles moontlik doen/gedoen het? Of meet jy deesdae jouself in jou ontevredenheid van jou eie bestaan?

Trots is die voedsellyn vir plofbaarheid.

En jý, hoe hanteer die lewe jou? Nee, die vraag moet eintlik lees: “Hoe hanteer jý jou lewe?”

Bron – uit my SêNet briewe – Sue

by VozSola

Bloggerasies

Augustus 22, 2010 in Sonder kategorie

(okay, ekke weet dis nie ‘n regte word nie, maar ekke laaik dit)

Eers wil ekke dankie sê aan almal wat my beterskap toegewens het. Ek voel effens beter en is die eerste keer sedert Donderdag honger en gaan nou Avo en crackers eet. Medisyne het my goed laat slaap – te veel maar die hoofpyn wil nie heeltemal weg nie…

Ek kom nou eers weer by die blogs uit en sien ek het blykbaar uitgemis. Vir die eerste keer is ek dankbaar ek het…want ek sien daar is weer onmin in die land van Blog. Ek wens mense wil besef hoe onnodig dit is om met mense te stry en baklei wat hulle nie eers ken nie. Ekke baklei nie eers met mense wat ek wel ken nie, al ervaar ek hulle sienings ook hoe verkeerd volgens my eie verwysings raamwerk, sal ek nie baklei daaroor nie, want woorde maak seerder as dade.

Ek lê nou ek kyk ‘exstreme home makeover’ en my hart gaan uit na hoeveel hartseer en trauma mense daarbuite regtig elke dag moet deurmaak. Maar ook staan ek in skaamte om te sien hoeveel deursettings vermoë en liefde hulle het. Dit is ongelooflik.

Hier op die blogs is ook heelwat sulke persone…en ek staan in skaamte voor hulle in my kleinheid van menswees en wonder…as dit ek was, sou ek dit ook sulke beproewinge kon hanteer? Nee. Ek sou nie kon nie. Ek salueer ons ligaamlike eina blog maters, ek salueer ons emosionele eina blog maters, ek salueer die grapmakers, die skoorsoekers, die skrywers, die digters, die denkers en ek salueer die lesers. Dit is wat bloggerasie pret, opwindend en tasbaar eg maak.

Maar een ding wat ek nie kan hanteer nie, is onmin, jaloesie, stry en baklei, sleg praat en dood praat en om onmenslik beledigend te wees teenoor ander mense…

Wat as die blog net oornag gaan verdwyn…soos hulle sê jy is net so goed soos jou laaste skrywe, jou laaste woorde, jou laaste dade…

Laat dit dan eerder mooi en bedagsaam wees…al is dit net om een iemand ‘n smile vir ‘n wyle te gee…en nie ‘n traan van hartseer of ‘n dolk van haat nie…

Daar is te veel dinge wat hierdie wêreld laat tick…en mense sal altyd mense nodig hê…

by VozSola

Good Night

Augustus 20, 2010 in Sonder kategorie

Die dokter het my nou siek verklaar.

Medisyne lysie is langer as malva poeding bestandele.

Good night…julle.

by VozSola

‘bersie mense

Augustus 20, 2010 in Sonder kategorie

Dit sluit jou ook in. Jy is ook ’n blokkie in die lewe se laslappie kombers.

Dit is amazingly wonderlik en fantasties om te sien hoe die wêreld en sy dinge mense by mekaar bring. Hoekom sekere mense se paaie kruis en ander wie se paaie saamloop…en hoe meer mens daaraan dink, hoe meer vreemd en wonderlik kom die redes en waarhede na vore.

Soms kruis ons paaie met ander jare gelede – sonder ons medewete, en dan skielik op ’n dag besef ons dat ons iemand al van te vore deur ander kanale ontmoet het.

Soms kruis ons paaie met iemand net vir ’n wyle…en wonder dan hoekom ons paaie gekruis het.

Soms kruis ons paaie met iemand wie dit voel jy al jare en jare ken…en wonder dan soms hoe dit moontlik is.

Soms kry ons net daardie een persoon langs die pad…wat jou werklik verstaan vir wie jy is.

Soms, net soms, kom daar iemand padlangs vir ’n kort kuiertjie in jou lewe…maar ’n groot impak en verdwyn dan weer…en dit laat jou wonder…

En dan op ’n dag besef jy…ons is almal ’n blokkie in die lewe se laslap kombers…en elke blokkie is ook opgemaak deur ander kleiner blokkies van mense in jou lewe… Omstandighede, vriendskap, liefde, verstaan, empatie, geloof en hoop word die stikwerk wat die blokkies heg…

Steeds wonder ek hoekom sekere mense op my pad gestuur is… want soms is dit net te goed om waar te wees…en soms, soms voel ek skuldig…want ek weet nie hoe om vir hulle dankie te sê dat hulle my kombers se blokkies volgemaak het nie.

Mooi dag vir al die blokkie mense.

by VozSola

Kort-Kort verhaal

Augustus 19, 2010 in Sonder kategorie

Woorde uit drome…is ‘n baie vreemde ervaring…

In die hart van die kuise dogter het die draak ‘n saad geplant. Die draak het ‘n slang gebaar – voortgeplant uit wraak en haat. Wie staan as die sondaar daar?

Hierdie na-nagse gedagtes word sonverbrande drome in ‘n droomland waar die sand vir Klaasvakie ontwyk en die mensgemaakte monsters klaagliedere in jou hart kom speel met ‘n stukkende snaar. Die onvervulde liefde in die hart van ‘n houtswaan smee…

In hierdie ontwykende slaap-tradisie het woorde net ontstaan. Ek skryf met pen in die hand, groot letters op skoon papier. Die argelose woorde uit die hart van die swaan, doelloos gerig aan my in beswyming, want môre gaan ek dit ook nie verstaan… 

Uit SêNet se argief – Sue

by VozSola

Maankind wil hê my gewete moet my pla…

Augustus 19, 2010 in Sonder kategorie

Okay…here goes…

  1. Ekke stuur gereeld verkeerde mail en sms’s aan die verkeerde mense.
  1. Ek vra altyd stupid vra.
  1. Kan nie ’n ‘straight-face’ pose hou nie.
  1. Ek is vreeslik boring.
  1. Ek sal baklei vir ander maar nooit vir myself nie.
  1. Ek blog omdat ek nie kan skryf nie.
  1. Ek skryf omdat ek nie praat nie.
  1. Ek praat nie waaroor ek blog nie.

Okay, okay…en ek voel vandag regtig nie lekker nie…

Sorry…

by VozSola

Oorbluf

Augustus 19, 2010 in Sonder kategorie

Siel kaal gelaat

onbeskaamd

onbekwaam;

self te sien

die spieël

het gelieg

nes woorde

bedrieg