by

Stofpad grondpad langs

Augustus 25, 2010 in Sonder kategorie

As opvolg vir my vorige inskrywing het ek besluit om nou eerder die grondpad langs na die stofpad te neem… julle is welkom om saam te stap, al is dit net ‘n entjie…of dalk net vir geselskap…vir my gaan dit nie saakmaak nie…want ek ken reeds die pad. Ek het al opgehou tel hoeveel keer ek hierdie pad gestap het. Soms loop hy vinnig, soos ‘n maklik-lees-boek. Soms loop hy so moeilik soos die bybel self as wankelinge geloof die woorde wasig maak.

Ek glo min is meer…hoe minder woorde, hoeveel meer kan gesê word. Maar aan die ander kant, is dit nie die normale pad wat onverklaarbare denke wil loop nie. Dit kan nie. Dus, ek vra ek verskoning as hierdie woordepad dalk te lank raak…en weet dat dit alweer net ek alleen sal wees as ek die laaste punt van die pen hier dooddruk.

In die laat middag son van die jaar se einde wonder ons almal maar oor dieper dinge. So asof die spreekwoordelike ‘spring cleaning’ eintlik direk op ons as mense van toepassing moes wees en dat die nie gaan oor vensters en gordyne was nie. Maar emosionele spring cleaning van jouself.

Oor die wêreld om ons, gaan ek nie eers na verwys nie. Ons lees almal dieselfde koerante, kyk na dieselfde nuus, sien dieselfde lewendige nagmerries wat om ons afspeel. Die uitwerkings op almal wat opreg mens is met ‘n hart en siel, is min of meer dieselfde. Almal word aangeraak. Sommiges meer en ander minder.

Al staan ons saam, bid ons saam, glo ons saam, vier ons blydskap saam en huil ons saam – beteken dit bitter min as jy alleen daar lê, in die paar onsekere sekondes voor die slaap jou oorval. Soms jaag daardie einste sekondes die horlosie van die uur af en laat jou vergete en alleen agter. As God nie welkom is nie, is dit die eensaamste gevoel denkbaar. Dit vacuum jou logiese denke van diep binne jou eie verstand en laat jou leeg.

Wanneer dit gebeur, is dan wanneer jy die grondpad vat. Jy met jou hobo bindle gevul met liggaam, siel en gees.

Ek het weer die pad gevat. Hierdie keer met pen en papier. Ek het ‘n afspraak met ‘n paar mense gemaak wat gerieflikke oornag plekkies padlangs het. Elk verder van die begin en ander nader aan die einde. Hulle is daar geplaas juis om as rusplek te dien.

Die eerste persoon met wie ek ‘n afspraak het is God. Ek wou ‘n onderhoud met God gedoen het en dan aan julle met sensasie dit kom deel. Maar God het nie ingestem nie. Hy het gesê; Al bly Sy boodskap aan alle mense ten alle tye en deur alle tye presies dieselfde, sal dit onregverdig wees om sy gesprek aan my te herhaal, want ons HOOR nie dieselfde nie, net soos ons nie almal dieselfde kan SIEN nie, en dus nie almal op dieselfde tyd met dieselfde oortuiging kan GLO nie.

Om dit te regverdig, gaan ek eerder my dialoog aan Hom met julle deel.

“Here, hoekom het u die mooi saam met die lelik gemaak? Die goed saam met die minder goed? Die blydskap met ‘n traan gevul? Hoekom is die moeilike dinge soveel makliker om te verstaan as wat die soms mees eenvoudigste en kleinste dinge is? Hoekom is dit so maklik om te glo aan die maan en sterre en die heelal, maar ons verstaan steeds nie die wonder van die mier nie? Hoekom voel ons so skuldig en ja, soms bang as dinge met ons goed gaan, en as dinge nie so goed gaan nie, trek ons bloot ons skouers op en sê; Dis mos maar hoe dit moet wees? Here, Is dit hoe dit moet wees?”

God het die pad saam met my geloop en saam met my by hierdie spesiale mense in my lewe gaan uitrus. Soms het ons ‘n rukkie vertoef, soms net met die hand in erkenning gewuif, nie dat hulle minder belangrik was nie, maar dit is wat hulle veronderstel was om te doen…ondersteuning en erkenning dat ek op die regte pad is. Hulle is rigting aanwysers. Ander se doel was as onderwysers, raadgewers, vriende, familie, vyande, vreemdelinge en selfs troeteldiere.

Soms sien ons hulle nie raak vir wie hulle is nie, want emosioneel staar ons ons te blind aan omstandighede en nie die werklikheid nie. Ons sien altyd beter as ons terugkyk die donker in, as wat die son jou sig verblind in die toekoms in. “Here, is dit hoe u dit nog altyd wou gehad het?” Ons sien niks in die toekoms en word nie wiser uit die verlede…maar steeds kan ons nie sien wat reg langs ons staan nie? “Here, diegene wat wel langs hul kan sien, het hulle die ware lewe soos wat u dit vir ons geskep het?”

Wat is die sin in die lewe?

Die LEWE is die sin self. Dis al.

LEWE

Ek het nou-nou by die stofpad aangekom. Die einde van die pad. Ek het die stofpad oorgesteek. Ek het nou weer begin aanstap grondpad langs oppad na die stofpad.

En so sal ek weer loop…die volgende grondpad mag dalk ‘n grootpad wees en nie hierdie moeilike kronkelpaadjie van dieafgelope jaar nie.

Maar stap steeds…

 

Tot by die:

Stofpad

‘n Gegiete engel

‘n sement traan gehuil

wang tot ken diep geskilfer,

aan die oorkant ‘n babakruis

skeef ingelê langs ‘n bottel glas

gevul met dooie herwin

ongegeur maar

skreeu-helder

skril soos die Indian minor

in die skynsipres op almal wag

nog ‘n blink ketting

om ‘n kis te bring

nog te blink

en nou te dof

10 antwoorde op Stofpad grondpad langs

  1. VozSola het gesê op Augustus 26, 2010

    ;-( – want jy’s alweer nice.

  2. Die lees was SINVOL!

  3. VozSola het gesê op Augustus 26, 2010

    Baie Dankie Lisa…!

  4. Sjoe indrukwekkend!

  5. VozSola het gesê op Augustus 26, 2010

    Hallo!!
    Dankie vir die saamstap.

  6. dankie vir die saam stap!

  7. VozSola het gesê op Augustus 26, 2010

    dankie vir die geselskap langs die pad…dis jammer dat so min saam kom stap het…

  8. Neander het gesê op Augustus 27, 2010

    Goeie blog.
    Die sin van die lewe is wat elkeen vir homself uitmaak, almal dink mos nie dieselfde nie.

  9. VozSola het gesê op Augustus 27, 2010

    ai, dankie MK,
    soos altyd!
    XXXoooXXX

  10. VozSola het gesê op Augustus 27, 2010

    Baie dankie vir saamlees! Ek waardeer dit!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.