Ek het immers lank hieroor nagedink, jare oor sekere gedagtes, maande oor ander. My grootword jare met diep ingeëtste godsdienstige beginsels het hard teen hierdie goddelose gedagtes geskop, maar hierdie nuwe gedagtes wou nie wyk nie.
Vandag het ek die moed om sommer hardop hier te wonder – wie weet, môre het ek dalk nie.
Dit grein teen my eie persoonlike vlak en eerbied van geloof om na singende-dansende kerke te gaan. Dit grein teen my beginsels om die culture-vereenigings van opsweeping te dien soos die hedendaagse tv-kerke. Die grein teen my om ‘n bywoning te bewerkstellig na die transendeering dienste van geloofs-healers – high on the God Spirit. Dit grein teen die tiende skenkings aan die bling-bling-credit-card-kerke. Dit grein teen die natuur om in ‘n seisoen ingedeel te word en in tale te spreek. Dit grein teen my om Haleluja en Amen met elke asemteug uit te jubel.
Dit grein teen my om vir elke afgryslike daad teenoor ‘n ander ‘n nuwe oplewing van vergifnis te wil preek, vir elke vrou ‘n nuwe lewenswyse te wil aanwys – ter wille van volledig vrou wees en vir elke man ‘n nuwe lewe in geloof sonder sy vrou te wil meebring. Dit grein teen my my dat die Bybel teen ieder en elk gebruik word – nie ten goede nie, maar as verdoemde staf vir ons almal as sondaars.
Van al die letterkundige gedrukte werke tans op die rakke is ‘n goeie twee derdes of naby genoeg – geloof orientated. Nou vra ek – As daar die Bybel is – ewig verwysend as die Woord van God – en alles wat uit Christenskap spruit gebasseer is op die Woord van God – Hoekom is dit dan nie genoeg nie? Hoekom dan nie net die Bybel gebruik soos dit is nie?
Nee, ons moet ander daaruit skrywe – Hoe om te bid. Hoe om te glo. Hoe om te aanbid. Hoe om ‘n Christen te wees. Hoe om vrou te wees in Christus. Hoe om man te wees in Christus en so kan die lys aangaan totdat hierdie lysie nog ‘n Cum boekwinkel op papier kan vul.
Die Bybel kan nie genoeg wees nie, want die soeke van die mens het verander. Wat ons gedink het ons weet – is nie meer genoeg nie. Wat doen ons? – Ons vertaal, oorvertaal, oorvertel, oorskryf, oordruk en oorverklaar dit alles wat nog altyd van die begin af daar was. Elke geleerde gelowige skryf iets nuuts uit dit wat nog maar altyd was.
Hoekom dan nie die Bybel in geheel oorskryf nie? Hoekom nie mense, profete, dienaars gebruik wat nie so lank gelede nog met ons was nie? Hoekom nie meer onbesingde saints daarin weergee nie? Hoekom kan Moses nie Mandela word nie? Hoekom kan Moeder Theresa nie met en sonder al haar foute ingelyf word nie? Hoekom kan morderne digters nie hul klaagliedere en lofsange daar plaas nie? Hoekom kan Hitler nie daarin weergegee word nie? Hoekom kan Sannie van die weeshuis nie ‘n Rut of Ragab wees nie? Hoekom kan die buurman-omie nie ‘n Jacob wees nie?
Hoekom werk alles in die lewe deesdae soos ‘n Goliat en Dawid geveg? Hoekom manupileer die kerke soos Goliat en die lidmate soos Dawid voor God hom met durf, moed en insig geseën het?
Hoe durf ons om nie ‘n morderne Bybel aan te moedig wat gewone mense se lewens beskryf nie? Omdat ons nie “heilig” genoeg is nie? Maar dit is eerder makliker om tou te staan vir die nuutste Huisgenoot of FHM en dies meer – want daardie mense is meer ‘vatbaar en real’ en ons glo mos alles wat hulle skryf?
Durf ek nou aanvaar dat iemand my na dese as ongelowig beskou? Nee.
Durf ek aanvaar dat iemand my as ‘n first rated goddelose verraaier afmaak? Nee.
Durf ek aanvaar dat iemand my as onchristelik afmaak? Nee
– Want jy ken my nie- ook nie my verhouding met God nie.
Twyfel en struikel ek soms uit blote ongeloof aangevuur deur menslike gebeure om my? Ja, soos ek dit eendag aan iemand gestel het – In sulke tye gebruik ek spirituality as ‘n stop-gap vir daardie dae waar geloof self so ongelooflik moeilik is.
Dit is onstellend om openbare godsdiensdebatte te volg – Christene teenoor Christene is seker een van die mees selfsugtigste, afgunstigste en moedswillige gesprekke tussen mense wat daar is. Hulle deel nie hulle God met mede Christene nie. Hulle sal stry en baklei oor hulle eie insigte van ‘hul’ God en sy werke – Dieselfde God wat oor almal sy hand hou. Slegs as hulle tesame teenoor ‘n ongelowige oor hulle God getuig – kom sing hulle graag op dieselfde noot.
Miskien, miskien eendag sal daar een kerk wees vir almal wat glo – maak nie saak in watter ‘skool-graad” van geloof jy tans is nie – maak nie saak hoeveel jare sonder geestelike groei jy vorder nie, maak nie saak hoe vinnig jy deur ‘grade-school’ vorder nie – maak nie saak of jy deurvlieg of deurkruip nie – EEN KERK SONDER GEESTELIKE GRENSE –
Miskien eendag…
Ek wil nie hier net nog ‘n godsdiens debat begin nie – want dit maak nie saak hoe ons hieroor stry en baklei nie – op die ou einde van die dag gaan dit nie oor hoe, wie en waar op aarde nie – maar elkeen van ons loop ons eie pad saam met God – na God – binne ons eie geestelike grense. Niemand gaan die pad namens jou stap nie – nie met al die mensgemaakte vereistes wat elke kerk aan jou stel nie.
Ek stel tans net belang aan die vereistes wat God aan my stel – wanneer, waar, hoe en op die regte tyd wanneer God dit goed dink om my nog ‘n stappie voorentoe op Sy pad te neem.
Is dit dan so verkeerd om hierdie denke te oordink? – Ek is seker ek gaan hiermee dalk in die spervuur van ander se woorde beland – en van die kruisverhoor na die tugverhoor gebied word – maar vir my gaan dit oor die vryheid van Godsdiens sonder mensbehoude geestelike grense.
Elk op sy eie tyd…soos God dit bestem het.
Amen.
Onlangse kommentare