Jy blaai in die argief vir 2009 November.

Profile photo of VozSola

by VozSola

Weeskinders

November 13, 2009 in Sonder kategorie

Ek griffel al ’n hele paar jare op SêNet. Ongesegte woord-gedagtes ploeg ek eerder op Woes onder ’n ander naam. Dan kêkkel ek te lekker op ’n forum of twee van ’n ander aard. Maar hierdie bloggerasie is ’n woordeland van ’n ander dimensie!

Dit het my lank geneem om wel die besluit te neem om hier te kom kuier. Tyd is een groot faktor wat ’n rol speel. (Vader Tyd het ’n manier gevind om elke uur met ’n halfuur te verkort op enige klok in my nabyheid!) Ook wou ek nie hê my blog moes in ’n online dagboek ontaard nie, ook nie ’n notepad om alledaagse gebeure en herinneringe aan te teken nie. Ek wou met woordespel ’n magspel van omseilende gedagtes oordra. Iets om aan te knibbel soos ’n stukkie Kudu-biltong…

Maar ek sien ek het nie daarin geslaag nie. Nou wonder ek…tog of ek nie maar…net moet skryf vir die sake van skryf nie, want lyk my blogging gaan oor kwantiteit en nie kwaliteit nie?

Ja wel, dit is seker maar hoe die internet-weeskinders in hierdie woorde koshuis voel? So baie mense en tog so alleen…een van vele en vele van een?

Profile photo of VozSola

by VozSola

Spiral op of Spiral af?

November 11, 2009 in Sonder kategorie

Skielike elektrisie skok wat deur die liggaam snel. ’n Bloedstollende rippelende gedruis deur die liggaam, lamheid en toe die naalde en spelde gevoel. Die hartkloppings en hartpyne en borspyne. Kortasem en benoudheid.

Toe is dit weg.

WTF? Die simtome klink só bekend. Dit is skokkend dieselfde wat my man ’n jaar en ’n half gelede ervaar het. Die uiteinde – Ampertjies ’n hartomleiding, maar drie stents later is hy weer so reg soos reën. Die nadraai van daardie ondervinding is nooit te vêr binne my kreukelkamers gebêre nie. Daar is altyd die vrees dat dit weer kan gebeur.

Toe gebeur dit weer en weer. Dadelik is ek dokter toe. Daar is groot fout êrens! Toetse hier, toetse daar en ek word as ’n uiters gesonde persoon verklaar. Tog, hoekom glo niemand my nie. Ek weet mos as daar fout is. Ek wat nie eers ’n hoofpyn pilletjie drink nie. Ek het na 21 jaar sedert my tienerjare (tussen in ’n moeder geword) nog nooit een kilogram opgetel nie. Ek eet gesond en kry weekliks my ‘mommy–down-time’ om te doen wat ek plesierig en ontspannend vind.

Na ek deur die wintergriep geworstel het, het dit goed gegaan vir ’n rukkie.

Ek het rustig by die werk gesit. Skielik ’n steekpyn in die bors, my hart wat wil uitspring. My gesig voel verlam, my vingers het geen gevoel nie, pyn in my arm. Ek is raak lighooftig en voel of ek vir ’n wyle uit my liggaam is en sien wit. Oh nee, is dit hoe dit voel om dood te gaan? So verskriklik geskok en ‘out of touch?’

Hierdie keer gaan ek na ’n ander dokter. Daar moet groot fout wees, dit kan net nie normaal wees nie! Ek kies koers na my kleinding se dokter toe. Hy toets hier en toets daar, bloed hiervoor en daarvoor. Die uitslag… Ek is so gesond soos enige ander gesonde mens!

Maar dit kan nie wees nie! Daaropvolge dae kry ek daardie ‘jellie-bene’ gevoel. Bewerigheid, chills en ’n kruipende tingle gevoel deur my bors. Ek is bekommerd. Ek sê niks vir niemand  nie. My man weet nie eers dat ek by die dokters was nie. Ek wil hom nie ontstel nie.

Op die eerste Oktober ry ek huis toe. Net duskant die huis moes ek stop. Ek kan nie verder ry nie. Ek voel of ek besig is om ’n hartaanval te kry. Na ’n paar minute ry ek verder. By die huis vra ek my man om my asb hospitaal toe te neem. Teen daardie tyd kon ek nie eers loop nie!

Onmiddelik is ek ingejaag. Toetse, drade, knoppies, EKG en dinge. Uitslag…Daar is niks fout nie!

Ek is teen hierdie tyd amper histeries. Ek voel of ek in die twilight zone lewe. Is ek besig om mal te word? Het ek alle sense van realiteit verloor? Hoekom glo mense my nie. Hoe is dit moonlik dat my liggaam so kan short-circuit en niemand kan iets fout kry nie? Ek is by die hospitaal weg met ’n pakkie pilletjies…

Vrydag aand sit ek rustig en koerant lees en “Wham!” slaan dit my! So ploeter ek deur Saterdag en Sondag, daardie gevoel dat ek of gaan mal word of gaan doodgaan! Maandag, is ek terug dokter toe…en gedurende ’n volledige ondersoek gebeur dit weer. “dankie tog!” hopelik sal sy my nou glo! Weereens is ek so gesond soos ’n pig in Palistine!

Lang vra-lys word ingevul. Analysis word gemaak. Daar is geen vrese, fobies of sielkundige afwykings, stress of ongelukkigheid of ‘skeletons in die hangkas’ nie, geen ‘botteltjies’ opgekorpte gedagtes/gevoelens vir ‘n ander dag se bekommernisse nie. Dit gebeur net so uit die bloute, sonder waarskuwing, sonder rede, sonder oplossing, sonder stress faktore, sommer so selfs terwyl jy slaap of relax. Die fisiese gevoel is vreesaanjaend, die sielkundige uitwerking van die “vrees vir die volgende aanval, of die vrees vir die vrees wat koml” is skrikwekking. Dit het nou ’n naam gekry…Panic/Anxiety disorder!

Ek is platgeslaan. Nie eers my gewone natuurlike happy-go-lucky-kom-ek-maak-’n-grappie-attitute kan my hieroor laat beter voel nie! Dit is hartverskeurend om nou so te worry omdat ek worry juis oor die worry! Dit is nie hoe ek is nie!

Profile photo of VozSola

by VozSola

1880-1990

November 9, 2009 in Sonder kategorie

 

 

Met graaf en pik ’n gat

          mensgemaak

glinster liggies – aardsbehoud

toe Oosterlig

          blink van goud

Sannas gelaai en spies gegooi

Kakie geklee of geleen

          sonder voorval

’n nuwe stad betree

’n Unie het dit weer kom gee

Die land se dors

sonder kapitaal geles

          slaan die ploeg

saam in die stof neer

Staak-staak fluit die

Pennywistle

          saam-saam

op die trein na Pretoria

Rykdom en armmoede

          vir eers geskei,

afgesluit en opgesluit

tussen die Beatles wat sing

en Elvis wie die dood oorbring

          word ons voëlvry verklaar

Terwyl ons ander se roet

uit die kinders se oë moet vee

’n Pêrel halsnoer onder

jou Christmas boom,

          dood is ’n halsnoer

onder ’n ander Seringboom

Binne die verskansing van jou jeug

hou die naggevaar oor jou die wag

weereens voëlvry

          diep onder die vlerk

van ’n spierwit duif

          skuldig gepleit

uit onskuld se eer betoon

             SueEè© (die ander ek)

Profile photo of VozSola

by VozSola

‘n Veer het ‘n boom omgewaai.

November 5, 2009 in Sonder kategorie

My hande rus liggies op die griffelsleutels, hoopvol in afwagting dat die gedagte-neurons skiet gee aan die brein-tienkels om vir my hande te sê, dat my hande my vingers kan vra om die letters te druk. Hierdie blitsvinnige stille kommunikasie kleur die letters van my onsigbare gedagtes in.

Meestal sluip die foute by die gedagtes self in… Is dit nie lagwekkend en soms skrikwekkend wat ons eie gedagtes ons probeer wysmaak nie? Dit noodsaak mens soms om te wonder of schizophrenia nie tog maar eintlik heel normaal is en dood normaal so gewoon abnormaal is nie?

Eish, terug na die onderwerp… alhoewel ek wonder of joernaliste nie maar met towerwoorde hul eie gedages voor brêkfis aan ons opdis nie? Woorde-manupilasie waarteen ons geen verweer het nie – nog voor jy besef, en teen jou wil het jou oë dit klaar gelees en jou brein het dit verslind en die nadraai van die emosionele uitwerking van die nuusberigte versteur jou bio-ritmes heel letterlik tot by die sluk-sluk van die sooibrand-gissende-gas van onplesier.

Al opgelet hoe opskrif woorde gedates kan draai…? En nie gedagtes die woorde nie. Dit is die verskil tussen ‘n nuusberig oorvertel en die werklikheid.

Die meeste gewilde stories handel gewoonlik oor mense wat binne die glansbladsye van tydskrifte bly en wat saans na tienuur deur die 42’ skerm teen die middelste muur van jou sitkamer vir jou loer. Sodra jy klaar gelees en gekyk het, maak jy seker dat jy eers gou die pas geskepte huisgrappie daaroor aan 24 foon vriende sms. Môre oggend maak jy seker jy is vyf minute vroeër by die werk om gou op die kantoor toeristing met ‘gratis’ ADSL oor die gebeure te blog…”Jissie, maar ek is so kwaad, Vanoggend wakker geword, maar iemand het sopas my hart uitgeruk, Nee, Tannie, Die Oom het nie sweeties gegee nie en Oh boy lollipop, was nog nooit my gunsteling song nie…”

So, nou wonder jy seker steeds oor ” ‘n veer het ‘n boom omgewaai…?” Ja, dit is gewoonlik die kleinste woord in die woord-wêreld wat meestal die grootste impak kan vermag.