Was dit nou werklik nodig

Propaganda op sy beste, kompleet met voordragstem en musiek vir dramatiese effek. Menselyding vervlak tot fliekvoorskou-materiaal van wat binnekort in sosialemedia-teaters te siene sal wees.

Ten aanskoue van hierdie video het ek vir ’n oomblik gewonder of dit nie dalk as Russiese propaganda ingespan word om met die Westerse wêreld die spot te dryf nie. Veral in die lig van pres. Zelenski wat ’n akteur was voor hy tot president verkies is. 

Dit blyk egter ’n produk van rekenaarfoendies te wees wat hul veglus ten gunste van Oekraïne knus voor hul rekenaarskerms uitleef.

Ek self is ook teen die oorlog in Oekraïne gekant. Het nooit gedink die Russe sou die land werklik binneval nie en het die aanloop digby die grens bloot as Poetin-spierebult afgemaak. Selfs toe sy troepe die twee selfverklaarde onafhanklike gebiede binnegaan, het ek gereken dis waar dit sou eindig. Daar waar die meerderheid inwoners in elk geval as Russe identifiseer. Dalk word die voortslepende geweld en konflik in dié gebiede sodoende beëindig, het ek gedink.

Toe ons egter ons oë uitvee, begin ’n volskaalse oorlog op ons skerms afspeel. Met Wolodimir Zelenski (’n god in wording?) in die hoofrol teenoor Wladimir Poetin die Verskriklike wat wát sou gee om as Wladimir die Grote onthou te word. 

Geskiedenis in wording reg voor ons vierkantige oë, hardkoppig uitgerek tot bloedige uiterstes.

Wie gaan eerste toegee?

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.