Lewensvieringe. So anders as die ou, tradisionele begrafnisse. Geen verwysings na gode, hemele of helle nie. Slegs kosbare, plat-op-die-aarde herinneringe wat met hartseer sowel as humor met mekaar gedeel word.
So het ek ‘n jaar gelede die lewensviering bygewoon van goeie vriend en oud-medeblogger Douwe van der Zee wat in ‘n motorongeluk dood is.
Ons paadjies het elf jaar tevore gekruis toe ek ‘n onderhoud met dié gesoute speelspesialis, wat ek vroeër op SêNet raakgelees het, gevoer het. As vryskutjoernalis het ek daarna die kans behoorlik aangegryp om ook deel te neem aan speelwerkswinkels, wildernisstaptogte (die veelsydige man was ook ‘n wildernisgids) en ander interessanthede om oor te skryf.
Natuurlik het ek en Douwe ook ons verskille gehad en só het hy dit heel humoristies opgesom onder die bedankings in sy boek From Intellect to Intelligence:
‘n Klompie jare later het Douwe Kaap toe verhuis, maar het gereeld vir ‘n paar dae by my en Wederhelf kom oorbly wanneer hy hom in Gauteng bevind het. Dit was tydens een van dié kuiers dat hy ‘n groentetuin vir ons uitgelê het waaroor ek nog op ‘n stadium sal skryf. Organiese boerdery was ook een van sy passies.
Maar toe, skielik, is hy weg.
En is dit slegs die herinneringe wat oorbly.

‘n Ondeunde Douwe met ‘n bol olifantmis. Ook op die boomstomp is Fred Donaldson, skrywer van Playing by Heart, wat ‘n groot invloed op Douwe se lewe gehad het.
“The fear of death follows from the fear of life. A man who lives fully is prepared to die at any time.” – Mark Twain.
Voluit leef, dié het Douwe beslis.
Lekker om jou te sien
Tina! Wat ‘n aangename verrassing.