by tfbe

Dit loop net.

Mei 30, 2011 in Sonder kategorie

Soms

loop dit

net sonder keer.

Soms huiwer dit,

soms nie. Jou gesig is

leeg,mensloos moeg,

sonder lewe. Soms kuier ‘n

glimlag kortliks by jou, met goeie

bedoeling; jy sê nee.Soms wonder ek,

 soms weet ek, soms huil ek ook. Soos

slakspore lê die bewyse op jou skone gesig,

pragtig. Die slierte hang skuins oor jou gelaat,

amper die verskuiler.Jy praat stil. Jy lag stil.

 Jy huil stil. Jy is stil. In die stilte van jou roepe skree

 die klamheid om hulp. Jy het verloor teen die

wêreld, of so het jy vertel.Die druppeltjies

 op die vloer  is soos broodkrummels

met doel.Te laat het die kykers

 dit gesien,te laat.

 Jy le stil. Mooi.

Hartseer.

 Stil.

 

 

by tfbe

Oggend.

Maart 16, 2011 in Sonder kategorie

Deur krake sien ek die lug wat verkleur na die mooiste blou.

Sag sing die bries in my ore, die venster is oop.

Dou drup droog teen die nat gewasemde ruit,

dit is pragtig.

Alles rustig.

Ver verdwaal die klank van ‘n laksman, dit weerklink in die bosse.

Oordenkend van die komende nag staar ek die maan in die oë.

Dit is helder oor dag.

by tfbe

Lekker slaap my kind.

Maart 15, 2011 in Uncategorized

Slaap ,kindjie, slaap. Daar buite loop ‘n skaap… Saggie neurie ek rustig die nagsê deuntjie in die ore van ‘n stil kind.

Wieg, heen en weer, heen en weer.

Stil, so stil, rus die kind in my arms; amper dood.

Die kers se was loop lang trane soos die lig verdof. Stadig verdwyn my sig, stadig.

Die son breek deur die hangsel voor die ruit. Silhouetteagtig  beweeg die lap eers verder en dan  nader  soos die oggendbries dit stoot.

Ek hoor die dag roep, maar steeds neurie ek die nagsê deuntjie in die ore van ‘n stil kind.

Slaap, kindjie, slaap. Daar buite loop ‘n skaap…

by tfbe

Dit Sneeu.

Maart 13, 2011 in Sonder kategorie

Kunsmatig verf ek daagliks my mombakkies, dit neem tyd. Ek is moeg, dit pla my.

Soos sneeu val my trane, maar die vog verdamp voor dit die grond tref.

Keer my, stop my, skiet my.

Stoomaangedrewe wurg ek voort. Met bloedbelope kykers sukkel ek om te sien. Dit is oordonderend.

Saggies, so saggies val jy, keer op keer. Ek is moeg, swak, ongewillig.

Dit sneeu.

by tfbe

Jy is ver…

Februarie 28, 2011 in Sonder kategorie

stadig het die eelte van verre vergete trane genees.

rustigheid het haarself knus kom tuismaak in my kloppende huis.

angs het vedwyn, maar die mis het bly hang voor my oë.

jou beeld is vaag.

vinnig is ‘n graf bespreek,

vinnig is dit gevul.

stadig het die grond ingesak,

stadig is die blomme dood.

leë karoovlaktes kan luid spreek van die ongewensde afstand,

die niksheid wat ons skei.

kom terug, kom terug, kom gou terug.

by tfbe

16 Desember 2007

Februarie 23, 2011 in Sonder kategorie

Vlam na vlam flikker die rooi-oranje die niksheid in. Blouwarm gloei die kole soos oë van ‘n verwilderde dier. Die onskuld en nederigheid van die verflentering spreek diep woorde in die verlate donkerheid van die sterrelose nag.

‘n Traan loop oor die plooie van ‘n jong gesig. Seer en gebroke bewandel hy die niksheid van die lewe, sonder ‘n greintjie liefde om aan vas te klou.

Hard plons die druppels op die harde bros grond; die klank weergalm in sy gedagtes.

Sterwend vlees, gebroke siel, mismoedig.

Dood.

by tfbe

Swanesang

Februarie 23, 2011 in Sonder kategorie

Dit is ‘n sonnige, helder lentedag met geen wolke in die lug nie. Die prag van die natuur is ooral in sig. Blomme pronk en die skoenlappers baljaar tussen die mooi kleure.

Die park is stil, net hier en daar is mense te siene.

Op ‘n bankie sit twee figure, al tuurend diep in mekaar se oë. Dit is baie duidelik dat liefde in oorvloed teenwoordig is…’n defenitiewe teenstelling.

Eensaamheid oorheers in een van die ander. Hy staar die vertes in met ‘n verwardheid in sy hart. Sy denke is op hol en hy verstaan nie. Wonderend hoekom hy nie die een is wat haar kan vertroos en vertroetel nie.

Ware soeke na liefde.

Hulle glimlag.

Glimlag na glimlag verskyn op haar sagte voorkoms.

Lag sy omdat hy daar is? of lag sy van pure liefde, pure vreugde?

Dit maak sy hart bly om haar so gelukkig te sien, maar dit breek hom ook om te weet dat dit nie hy is wat gaar so gelukkig maak nie.

Hulle vingers vleg soos riete in die vlei, die een gebroke sonder die ander.

Hy voel soos ‘n swaan wat maatloos treur.

Hy sukkel om die lewe lief te hê wanneer hy haar saam met hom sien.

                                                          *                              *                            * 

Wolke vorm in die lug.

                                                          *                              *                            *

Een…twee…driekeer hop die klippie op die water voordat dit met ‘n harde plons die water betree en wegsink na die lewelose bodem. Met elke hop is daar hoop dat die klippie verder sal kan gaan.

Daar is rimpels op die water.  Dit begin klein, word dan groter, totdat dit nie meer sigbaar is nie.

                                                           *                              *                            *

Die son sak en die voëltjies raak stil. Hy sit emosieloos met ‘n traan wat stadig teen sy wang afloop.

Die wete dat hy haar nooit sal kan bederf soos ‘n ouma haar kleinkinders bederf nie, of dat hy haar nooit sal kan liefhê soos ‘n man sy vrou lief het nie, ruk sy hart in ‘n duisend onheelbare stukkies.

                                                           *                               *                            *

Hy sit alleen in die park. Sy hart in flardes, ‘n miljoen onhegbare segmente, getrooi op die grond soos die sterre in die hemelruium.

                                                          *                                *                             *

Hy is roerloos, yskoud. Al wat beweeg is die laaste moed wat uitwaarts oor sy lippe seil…