Jy blaai in die argief vir Uncategorized.

by tfbe

Nie meer is ek geskok

Augustus 11, 2020 in Uncategorized

Nie meer is ek geskok
deur die ondade
van hartseer mense
nie

maar

my hart by seer
vir hulle wat
swaar dra
aan die swaar sake
van swaar lewens
in ‘n swaar wêreld.

Tog koer die duiwe
steeds
met dankbaarheid
sonder ophou
wanneer die môreson
weer dagsê

want die môreson
kom immer weer
sonder twyfel
sonder saak
met hoe donker die nag was.

by tfbe

As daar maar net ‘n kuur was

Augustus 11, 2020 in Uncategorized

As daar maar net

‘n kuur was

vir die siek wat

mense dra

in harte…

in psige…

As daar maar net

geloof was

in die goedheid van

alledaagse dade

goed bedoel…

sonder verwagting…

Want ‘n bitterheid in die oȅ

verklein jou wȇreld tot ‘n

donker kis

wat wag om ses voet diep

gelaat sak te word.

En wanneer die ewige stilte

kom

loop jy steeds rond

in harte…

in psige…

(van díe wat graag nog glimlag)

as herinnering

van dit wat nie hoort nie.

by tfbe

Jou goedheid is jou ondergang

Augustus 10, 2020 in Uncategorized

Jou goedheid is jou ondergang…
Effens onbewus,
effens kind so met jou grys hare.

Seer kom. Weer en weer.

Met tyd en hoop kom die strale
van onse môreson

om te heel dit wat so diep
letsels sal laat.

Maar jy moet leer

want jou goedheid is jou ondergang.

by tfbe

Herinnering

September 6, 2012 in Uncategorized

Ja, daagliks loop ek met my eie voete.

Heen en weer,

amper doelloos.

Met my eie voete voel ek die sandkorrels,

hier waar ek al jare lank heen en weer loop,

so asof ek elkeen onthou.

Ek kyk, ja , ek tuur lank die herinneringe in van tye wat verlore is.

Met my eie voete plant ek myself,

reg om te begin groei.

by tfbe

..

Julie 27, 2012 in Uncategorized

Laag op laag lê die vlaktes oor die dorre uitkyk van wie ek is.

Sonder twyfel benoem ek myself.

Doelloos lê die spore, met geen rigting.

Blind, ja blind loer ek deur die krake.

Skaars skaars sien ek die effense lig.

by tfbe

Junie 15, 2012 in Uncategorized

Skerp skiet die son oor die berge my oë tot skrefies. Dit is dag.

Soet verlang ek na die donker van die nag. Dit was koud.

Glimlag op glimlag karjakker op die gesig van my gedagtes.

Dit is dag.

by tfbe

Lekker slaap my kind.

Maart 15, 2011 in Uncategorized

Slaap ,kindjie, slaap. Daar buite loop ‘n skaap… Saggie neurie ek rustig die nagsê deuntjie in die ore van ‘n stil kind.

Wieg, heen en weer, heen en weer.

Stil, so stil, rus die kind in my arms; amper dood.

Die kers se was loop lang trane soos die lig verdof. Stadig verdwyn my sig, stadig.

Die son breek deur die hangsel voor die ruit. Silhouetteagtig  beweeg die lap eers verder en dan  nader  soos die oggendbries dit stoot.

Ek hoor die dag roep, maar steeds neurie ek die nagsê deuntjie in die ore van ‘n stil kind.

Slaap, kindjie, slaap. Daar buite loop ‘n skaap…