My ouma

Oktober 15, 2012 in Sonder kategorie

Ek is gereeld spyt oor al die tyd wat ek gemors het op kind wees. Dit klink vreemd, ek weet, maar daar is soveel goed waarvan jy nie die waarde ken waneer jy klein is nie, en waneer jy oud genoeg is om dit te besef  dan is dit soms al te laat of oppad om verby te gaan. Kon ek nie maar op 5 geweet het wat ek nou weet nie? seker nie… Ek glo altyd daar is ‘n tyd vir alles en sekere stadiums waardeer mens moet gaan. Die geheim is sekerlik om te waardeer wat jy NOU het. Een van die dinge wat ek vroer sou wou weet is dat my ma meer weet as wat ek gedink het, en dat sy dalk wel verstaan het. Daarom kies ek om haar nou te glo waneer sy sê: “Koester gister, en moet nie spyt wees nie want jy kan dit nie meer verander nie. Droom oor môre want jy kan nie WEET wat kom nie. Belangrikste, LEEF vandag want jy gaan dit nie weer kan beleef nie.”

‘n Tweede skat wat se waarde ek graag vroër van sou wou weet is my ouma. Ja, my ouers het ons na hulle geneem maar op sestien het ek nie geglo ek kan enigsins aanklank by my ouma vind nie. wat kan ons dan nou moontlik in gemeen hê. Vandag, op 24, wens ek ek kon die klok terug draai en elke moontlike minuut insyfer wat ek saam met my ouma spandeer het. Wat ‘n Fantastiese mens is sy nie? Eintlik, hoe Fantasties is dit nie om so baie van myself in haar te sien nie.

Hierdie is die ouma met wie ek my hart sake deel. Die ouma wat ek vertel van die man wat ek op die lugtoring gesoen het. Die Ouma by wie ek raad kry oor groot lewens kwessies. Die ouma wat my leer wat geloof is en die ouma wat ‘n voorbeeld stel in alles wat sy doen. Sy is ‘n sterk vrou en staan op 81 nog 1.7m lank in haar skoene. Sy bestuur ‘n Moderne Merc, en gaan sien nog haar makelaar. Mag ek nes sy oud word!

‘n Paar jaar terug het my oupa se gesonheid agteruit begin gaan en tot sy afsterwe op 23 Augustus het my ouma hom nog versorg. Hy was amper ‘n jaar bedlëend, maar my ouma het volgehou: “oupa het my vir meers as 50 jaar versorg. Nou is dit my beurt.” Waneer hy hospitaal toe is met die ambulans het die dokters my ouma gesmeek om my oupa siekeboeg toe te neem. Sy verstand was al lank nie meer helder nie en daar sou hy die beste sorg kry en my ouma se lewe hoef nie stil te staan nie. My oupa was skaars by die siekeboeg in gerol dan rol my ouma hom weer daaruit huis toe. Na sy meubels en sy vrou se kos. So het sy aangehou tot hy op die einde net ‘n hopie organe en bene was, en uiteindelik sy laaste asem uit geblaas het.

Nou is hy weg en my ouma bly alleen oor met die meubels en die kos. Sy lyk fine maar orals in die huis sien ek klein dingetjies wat wys hoeveel sy my oupa na 59 jaar mis. sy hou vol dit gaan goed maar ek kan nie indink hoe mens aangaan na jou lewensdoel skielik van jou weg geneem word nie. Hy was werklik haar ander halfte.

Stukkie vir stukkie kan ek agterkom hoe my ouma ook skielik begin ouer word. Haar bene het skielik ingegee na my oupa se afsterwe en vandag om half ses kry ek ‘n oproep van my ouma. Sy is siek. In die laaste vyf jaar wat ek my ouma werklik leer ken het, het ek haar nog NOOIT siek gesien nie. Nog nooit met ‘n kuggie of ‘n kramp nie, en nou is sy siek. Sy wil weet of ek nie vir haar ‘n koppie tee sal kom maak na werk nie. “natuurlik!”

‘n Uur later lê ek en my ouma in haar bed elk met ‘n dubbele whiskey. Wat ‘n merkwaardige vrou, en wat ‘n wonderlike voorreg om haar in my lewe te hê!

8 antwoorde op My ouma

  1. TS het gesê op Oktober 15, 2012

    Aha wat ‘n wonderlike wete dat mense mekaar nog waardeer. Dankie dat jy ‘n goeie kleinkind is wat omgee.

  2. Ouma’s forever!

  3. wat ‘n bevoorregte mens is jy nie om ‘n ouma soos sy te kan hê

  4. lora2me het gesê op Oktober 16, 2012

    Ouma’s is kosbaar. Geniet julle tydjies saam.

  5. frandr het gesê op Oktober 16, 2012

    Ai, jou ouma is ‘n gelukkige en geseënde vrou om jou in haar lewe te hê! En ek sê dit nie net oor die whiskey nie ;0)

  6. Fantastiese getuigskrif vir ‘n ouma.Oumas word soms nie genoeg waardeer nie.

  7. Kyk mooi na haar – sulke mense is skaars!

  8. die waarde van ons groot-ouers, is die mees onderskatte juweel van ons bestaan en wees

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.