Waneer net bene en organe oorbly.

Augustus 23, 2011 in Sonder kategorie

Ek klim vanaand 10 voor 7 in my kar en ry af Louis Leipold hospitaal toe. Besoek tyd begin om 19hoo. My oupa is ‘n week terug uit die ICU na ‘n gewone saal oorgeplaas en ek het uiteindelik die moed bymekaar geskraap om te gaan kuier. Ek is elke aand by my ouma om haar te ondersteun, maar ek het nog nie kans gesien om die eindelike moeilike besoek af te lê nie.

My Ouma hou my darm op hoogte. Dit gaan baie beter met Oupa. Hy is nog net aan twee sakkies en die suurstof masjien gekoppel. Hulle het die staps waarmee hul sy arms vas gebind het ook al afgehaal. Hy is nie meer so aggeresief nie.

Aggresief? Ek kan dit amper nie indink nie. Voor my Oupa twee weke terug geval het was hy reeds gekrimp tot die helfe van wat hy altyd was, met ‘n rug so krom en bene wat soos vuurhoudjies gelyk het.

Die hyser neem my na die 6de vloer. Ek stap vinnig in die gang af en hoor by die toonbank in watter saal ek mnr Maree sal kan kry. “Hier agter jou”, verduidelik die vriendelike verpleegter met ‘n wink na ‘n deur wat soos al die ander lyk. Ek skep asem en klop.

Niks kon my voorberei op wat ek daar sou aantref nie. Op die bed voor my lê ‘n hopie bene wat verwoed bewe soos die Parkisons dit al afgetakel het. My oupa kyk nie eers in my rigting nie. Ek dink nie hy weet van my teenwoordigheid nie. Nee, hy slaap nie. Kyk onrustig na die dak bo hom as of daar insekte is wat hy met sy oe probeer vaspen.

Sy laken is opgetrek tot sy middellyf. Bo dit steek ‘n geraamte wat in ‘n bros vel oorgetrek is uit, bedek in ‘n wit kleedjie. Sy mond bewe. Ek soen hom op sy voorkop. Sy oë soek steeds na iets teen die plofon. ” hallo oupa. ek het verlang!”

Niks.

Ek neem sy hand in myne.

Niks.

Ek vra hom of hy gemaklik is.

Niks.

Net ‘n hopie bene, en organe wat steeds werk.

verder niks.

3 antwoorde op Waneer net bene en organe oorbly.

  1. Een van die groot tragedies van die lewe wanneer mense wat eens hul plek in die samelewing volgestaan het, so afgebreek word tot niks, soos jy sè.

  2. Dis baie hartseer! Sterkte vir julle familie!

  3. Miserable. Sterkte!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.