‘n Skewe Draai

Augustus 8, 2011 in Sonder kategorie

Ek en my geel kar stop gister voor Hobe Educare Centre in Green Park informele nedersetting. ek was seker ‘n maand laas hier! dink ek by myself terwyl ek opkyk net voor ek my deur oopmaak. Die oomblik wat ek die deur-knip na my trek, spring drie kinders op my skoot. Lumka, Anita, en ‘n ander kiddie wie se naam ek nog nie kan uitspreek nie. Toe ek uiteindelik by my kar uitkom gaan ek solank na die klas kamer om pollifiller te begin aansmeer op al die plekke weer die rhino-borde begin ontmoed, terwyl ek vir tannie elsabe wag om te kom. (vir meer inligting oor Tannie elsabe, gaan lees gerus: http://blogs.litnet.co.za/Sonnet_Sestet/tannie-elsabewhat-a-legend )

Kyk…Green park is ‘n ander plek. Nie so anders as my woonbuurt nie, maar tog helemal verskillend. Toe al die pleister werk vir eers klaar is en Tannie Elsabe laat weet het sy brand bietjie vas, speel ek maar die kinders wat so al om my draai. Ek swaai hulle aan hul arms rond en besef weer dat al kominuskasie wat dieselfde in Afrikaans en Xhosa is, is die klank van ekstasiese gelag.

Hul wil in die kar gaan rond ry, word daar vir my beduie. ek laai toe 7 kinders in my reeds oorvol golfie en skakel aan. broem broem broem , maak die een langs my. Ons ry nerens spesifies nie. Ons ry net so bietjie rond in die plakkerskamp om vir al die ander kinders te gaan waai. Terug by die skool is tannie Elsabe daar. Ons moet gou ry om nog rhino-bord te gaan koop.

 

Ek klim in haar Jesus bakkie soos sy hom noem, (Hy kan nie sluit nie, maar is nog nooit probeer steel nie.) en daar gaan ons. Eers brackenfell toe om daar in ‘n scrapyard ‘n “nuwe” venster te gaan koop. Aangesien tannie Elsabe onlangs ‘n hand opperasie gehad het, is haar hand steeds in ‘n stud. Daarom, elke 5 minute, hoor ons iemand toet, en besef dan dis net tannie Elsabe wie se hand nou weer te hard op die stuurwiel leen. Sy voel mos nie wat die stud doen nie. 

 

Van Brackenfell ry ons Parrow toe vir die Rhino-bord. Stop. Klim uit. Koop die bord. Laai dit op dak. Bind dit met toue vas. (nee, die winkel assistent help die vrou met die afhand nie. Maar ons gaan ons nie daardeur laat keer nie.)  van daar, met die borde op die Jesus-bakkie se dak trap ons weer die petrol terug delft se kant toe.

 

2 minute later hoor ons dit.    Doep doep doep doep. Die borde flap op die dak rond. Ag fok tog. tannie Elsabe sê ek moennie so vloek nie. Ons trek af op so dodgy pad erens tussen Parrow en die R300. Is skaars uit die kar toe twee mans met hul winkeltrollie vol ‘n ander man se gemors nader gehardloop kom. Gewoonlik sou ek my veiligheid bevraagteken, maar as jy met overalls en frokkie langs ‘n Jesus-bakkie met rhino-borde op die dak staan, dan bevraagteken jy niks. Jy sê dankie vir die hulp.

 

15 Of wat minute later vat ek en Tannie Elsabe weer die pad. Haar venster is afgerol en sy hou die borde op die dak vas. Ek trek die tou wat by my deur in, en by haar venster uit gaan, styf. Tussen deur toet ons elke 5 minute want tannie elsabe voel steeds nie wat haar hand maak nie, en ons albei clutch ‘n sigaret. Ons is terug in Green Park.

 

Die borde word afgelaai, en word teen die mure ingekap. Dit lyk netjies. Soos ‘n vertrek in ‘n baksteen huis. Sondag oggend gaan koop ons die kleuterskool se kos-vooraad vir ‘n maand met ‘n R1000. Glo dit of nie. 

 

Ek dink skielik aan hoe ek more weer op my hoë-hakke en blomrok in die kaap gaan rond trippel terwyl ek leer hoe om ‘n mode ontwerper te wees. Ek dink aan hoe SA fashion week my genooi het om my werk op hul loop-plank te gaan vertoon, September in Johannesburg. As hul my nou moet sien….

 

My hare is vuil gevat deur klein handjies wat weke laas gewas is. Ek loop in shoprite rond met slippers, overalls vol verf, en ‘n frokkie sonder soom of neklyn. Ek kou my bubblegum onvroulik en blaas borrels. Oor ‘n paar oomblikke sit ek weer plat op my jis en plak mure toe.

Ek dink terug aan so paar maande terug. Het annie Elsabe raakgeloop iewers anders as op ‘n stof-pad vol gate. “sjoe kind maar jy lyk darm móóí. Het jy jou hare gekleur of iets?”… Ek lag…”nee tannie…Ek het net grimering aan.”

Die lewe loop darm snaakse draaie met ‘n mens! 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.