Nostalgie in die Noordelike-Voorstede

Mei 2, 2011 in Sonder kategorie

Een van die dinge wat ek die meeste geniet om weer in ‘n Voorstad van Kaapstad te bly is dat daar kinders in my straat speel. Vandag weer toe ek voor my huis stop en uit die kar klim, loer daar ‘n tien-jarige van uit die bos vir my. Op sy kop is ‘n weermag-helm, en oor sy shouer hang ‘n speelgoed punt-22. Dis die selfde kind wat gister verby my op sy fiets gery het en vir sy boetie vertel het : ” Ouma en oupa sit op die stoep. Oupa gee ‘n harde poep. Ouma vra ‘Wat makeer?’ Oupa sê sy maag is seer.”

Ek lag kliphard in my kop. Nie vir die baie bekende rympie nie, maar vir hoe baie die kleiner boetie dit geniet. En skielik wonder ek by myself. “Waneer was dit dat die rympie op gehou het om vir my snaaks te wees?”

Kyk, ek weet 22 is bloedjonk. Ek probeer nie eers om oud te klink nie, belowe. Maar ek is nie meer ‘n kind nie. Ek is nie eers meer ‘n tiener nie.

Ek begin terug dink aan my grootword jare, nie te ver van waar ek nou woon nie. Ek onthou hoe ek op die kerk se parkeer terein met my fiets oor die groot bome se wortels gaan jaag het oor dat díé mens so lekker laat hop. Ek verlang terug na my tiende verjaardag partydjie, en die swempartydjie en die roomys koek. Daar was my “Lion King” swembroek met valletjies op skouertjies vas gewerk en dit was vir my so só mooi. Ek wonder wat van die seuntjie geword het vir wie ek briefies aan gestuur het in standerd 2. (As ek sy naam kan onthou, sou ek hom op facebook gaan soek het.)

Daarna het die tiener-jare natuurlik gekom, waar ek gewens het ek het nooit enige een van hierdie dinge gedoen nie, want dit was “way embarrasing”.  Toe ek net so amper met laerskool klaar was wou ek met alle mag saam met die mooi meisies in die skool, winkelsentrums toe gaan net om daar rond te slenter en weg te wees van onder die ouer oog (vandag kan ek die plekke nie verdra nie.) Ek het geweier om te glimlag op fotos en skielik wou ek skool toe stap want fiets ry was net vir die “losers”, dit maak nie saak hóé ver die skool is nie. En dan natuurlik, net sodra ek uit die huis is, het my skoolrok se belt tot laag oor my heupe gesak.

Ek ry so paar dae gelede verby ‘n höerskool meisie wat haar belt soos hierdie dra. Wie op aarde het besluit dat hierdie ‘n gier behoort te wees? Dit lyk AAKLIG! Haar hare is verslons agter haar kop vasgemaak en al die make-up om haar oë verbloem haar pragtige tiener gesig met mening!

Ek lag maar net weer vir myself want ek besef dit is ek, nie te lank terug nie. As ek maar net my ma geglo het toe sy vir my keer op keer gesê het dat ek oor ‘n paar jaar sal terug kyk en net my kop sal skud.

Skielik wens ek weer ek was agt. Sodat ek vanvoor af kan begin, en al hierdie nonsens fieterjasies kan los. Sodat ek langer barbie sou speel. Sodat ek nie my tyd so gemors het nie, en dat ek elke oomblik meer waardeur het en besef het dat ek nie veraltyd hierdie dinge sal kon doen nie.

Maar ek is nie spyt nie. Ek het soveel geleer en ondervind en besef. Die dinge wat ek vandag weet, en die mens wat ek nou is, is alles te danke aan dit wie ek was.

maar wag…laat ek nou nie te nostalgies raak nie. anders sal ek oor vyf jaar terug kyk en dink, “waarom het ek 22 nie meer waardeer nie?'”

1 antwoord op Nostalgie in die Noordelike-Voorstede

  1. louisna het gesê op Mei 2, 2011

    Ek bly noord van die Magliesberg en dit maak my ook nostalgies.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.