Dit wat nooit verander nie…

April 30, 2011 in Sonder kategorie

Na ek my BEd kursus laat vaar het, en die lewe op Stellenbosch verruil het om Mode-Ontwerp in Kaapstad te gaan studeer het baie dinge verander. Ek moes binne ‘n week uit my koshuis-kamer trek wat teen daardie tyd al vir my “huis” geraak het. Van daar is ek na ‘n klein Ouma-woonstelletjie in welgemoed, en nie lank daarna nie, na ‘n woonstel op die 7de verdieping in Kloof straat. Ek moes leer engels praat en verstaan, en selfs notas neem in hierdie taal. Ek moes begin werk sodat ek my pa stadig maar seker kon terug betaal vir die geel kar wat hy daai tyd vir my gekoop het, en skielik moes ek op die N1 leer bestuur, parralel parkeer, en ‘n uur vroer opstaan sodat ek die verkeer mis klas toe. Hoeveel anders was hierdie nie as die verkeer van voete op die rooi plein nie?

My ma het in hierdie tyd die idee laat vaar dat ek my droom-man sal raakloop tussen die bib en die Neelsie, en het hard en ernstig begin bid dat ek Vader asseblief tog net nie met ‘n oorbel-seun in ‘n skinny-jean by die huis sal aankom nie.

Hiedie tyd in my lewe wat soos gister voel, is nou al vier jaar terug. Dinge in my lewe verander steeds daagliks, en deesdae is dit baie meer opwindend as intimiderend, maar sekere dinge verander nooit nie.

In my eerste jaar by Stellenbosch het ek hierdie unieke klompie mense leer ken. Hulle was nie in my klas of in my koshuis soos waar almal vir my voorspel het ek gaan my sielsgenote vind nie. Nee. Ek het in hulle lewens ingeval na ek een dag met rooi lipstick en rooi hoë hakke oor die neelsie grasperk getrippel het om ‘n skool vriendin te groet. En van toe af is hul daar.

Hulle was daar toe ek melodramaties my kursus gestaak het. Hul was daar om te bel as ek niemand gehad het om my midag-ete mee te deel nie. Hulle was daar om my te help trek van woning tot woning deur die afgelope vier jaar. Dieselfde mense was daar om te luister waneer ek verlief geraak het. Daar waneer my hart gebreek is.  Daar waneer ek nie weet watter kant toe nie. Daar as ek net ‘n drukkie nodig gehad het. Daar op vir my ‘n lyn te trek waneer ek nie meer seker is waar hy is nie. Hulle is daar met ‘n brood waneer ek honger is, (regtig, no jokes…ek kan nie budget nie) en ek weet hulle sal daar wees vir soveel meer oomblikke. Net soos ek daar sal wees vir hulle.

In hierdie tornado van verandering wat in ons almal se lewens gebeur het ons dit reg gekry om mekaar aan die hand te gryp, by mekaar te bly, en nooit te laat los nie.

Daarom wil ek net vandag dankie sê vir : Die Yorkie Lover, Die Onderwyser, Die UN- Diplomaat, Die Boer, Die Belg, Die Iphone, en Die Rooikop. Julle is almal bene!

4 antwoorde op Dit wat nooit verander nie…

  1. loudavisi het gesê op April 30, 2011

    Dis ‘n gawe om sulke vriende te kan he – en om een te kan wees.

  2. Ek stem!

  3. Geitjie1 het gesê op April 30, 2011

    Ag, wat is die lewe tog sonner dierbare vriende?

  4. boersevrou het gesê op April 30, 2011

    opregte vriende is van die kosbaarste goed op aarde!

Los ’n antwoord vir Geitjie1. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.