Jy blaai in die argief vir 2011 Januarie.

Het ek jou al vertel? Het ek jou nog nie vertel nie?

Januarie 30, 2011 in Sonder kategorie

Ek HET vir jou gesê die storie broei, het ek nie?

Soos ‘n donderstorm daar vêr op die horizon.

Ek weet die weer steek op.

Ek ruik die reën.

Ek sit in afwagting.

Maar dit gaan nie altyd oor die langpad stories nie, partykeer is daar kortpad stories ook om te vertel.

Ja lag maar, ek weet ek kan met die oorvertel – slag die ding doer anderkant die Kalahari vlaktes gaan haal en dan sommer net vir die wis en die onwis maar ‘n geslagsregister ingooi van ouma of oupa.

Dis dan wat ek so sit en my vingers knoop – sodat ek nie van die goed vergeet wat ek so in die vertel wil wil van vergeet nie.


Jy weet mos.


Jy weet, daardie ‘onthou dat ek jou vertel van’ – goed wat sommer so hier tussen die ander storie wil kom in bodder.

(Onthou dat ek jou nog vertel van ‘mos’…..en my pa…..die twee het nie saam geloop nie…..dis eintlik nou snaaks, was nie toe nie…..snaaks bedoel ek).

Ja ek weet, dis mos wat ek nou vir jou verduidelik.

En dan…

En dan is daar die kere wat daar nie eers vingerknope nodig is nie.

Die kere wat die opkyk na die Hemel net so ‘n lekker geselfs is, so sonder woorde.

En dan is daar ander kere wat die wóórde ons laat opkyk na die Hemel.

Dan wonder ek soms: ‘Waar het al die woorde vandaan gekom?’

AFGROND!

Januarie 7, 2011 in Sonder kategorie

Staan ons elke dag op die kant van ‘n afgrond, of word ons maar net sekere dae bewus daarvan dat ons wel daar staan?

Wat is die illusie?

Die afgrond of die hoeveelheid kere wat ons onbewus daar staan?

En wat is ‘n afgrond nou eintlik?

‘n Hoogte wat onbemeesterlik is en die maag laat draai?

Dalk die einde van alles wat veilig voel?

Wat van: ‘Die mooiste uitsig wat mens nog ooit gesien het’?

Vir die van ons wat bang is vir hoogtes, is dit ‘n aantrekkingskrag wat ons liewer wil van weghardloop. Daardie gevoel dat die grootheid van die hoogte jou wil insluk en laat aftuimel in sy maag in. Asof jy verlei word.

Vir die van ons wat hou van die uitdaging en enige iets sal doen om die grootheid van die ‘onmoontlike’ te oorwin, wel vir ons, is dit sommer net ‘n dom-astrante-uitdaging, wat aangedurf word, baie keer net om met ‘n slaak van verligting te kan weet: ‘Ek het my beste gegee….ek het oorwin….het ek oorwin? As ek nog steeds bang is, beteken dit dat ek oorwin het, al het ek die vrees vir ‘n ruk lank in die oë gestaar?

En vir ander van ons is die uitsig vanaf die afgrond so mooi, dat daar met oorgawe met mense – vlerke afgespring word, met onwrikbare geloof dat daardie vlerke nooit gaan vaal nie. Die roep, van dit wat anderkant die afgrond lê, te groot om te ignoreer.

Ek staan en kyk nog.