Jy blaai in die argief vir 2010 September.

OOR SINKDAKKE EN REEN

September 7, 2010 in Sonder kategorie

Daar is min dinge in die lewe wat my werklik so diep kan aanraak, soos om reën te hoor val op ‘n sinkdak.


Dis soos ‘n hemelse simfonie!


‘n Sagte wakker word, soos wanneer  jou lief jou liefdevol wakker fluister dat dit tyd is om wakker te word, maar dat jy nog ‘n rukkie kan lê, want hy gaan eers vir jou tee maak, om in die bed te drink.

Hoe volmaak om die dag vroeg in die oggend ure te begin, deur snoesig wakker te word van die reën!

Voor die koerant-trokke begin ry.

Voor die bergies met hul trollies begin klingel.


‘n Gevoel van dankbaarheid oorweldig my altyd.

Ek wil dit nie noodwendig analiseer nie.

Dalk is ek net dankbaar om in ‘n warm bed te wees, ek weet nie, maar selfs die dankbaarheidsgevoel is innig en warm. ‘Warm and fuzzy’.


Om dan hand uit te steek en te voel waar jou bedmaat lê.

Te voel – voel of jy rugkant of voorkant moet draai, voor jy skuifel – skuifel teen sy lyf inskruip.


Met geen verwagtinge, net die oomblik fisiek met iemand te deel.

Sonder woorde, net ‘n asem wat vir ‘n kort rukkie wakker klink.

‘n Asem wat ritmies weer dieper raak en ‘n rustigheid wat die reën buite aanvul.

Dalk om môre oggend oor ‘n koppie tee te hoor: ‘Did it rain last night?’