Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

ONDERBREUKING VAN DIE DAPPER MUIS STORIES, NA AANLEIDING VAN MODDERKOEKIE SE KINDERDAE STORIE

Januarie 23, 2010 in Sonder kategorie

Oom Boetie kom op die plaas aan met sy splinternuwe Ford.
As jy my nou gaan vra watter soort Ford, sal ek nou wragtig vir jou moet ‘n erge leun vertel.
Al wat belangrik vir my as kind was, was die feit dat hy wit was. Nou nie spierwit soos deesdae se karre nie, maar so wit soos wat vars room is net na die koei gemelk is.


Die rooi kunsleer sitplekke het nog geruik na nuwe kar. Die stiksels van dik wit garing het lang spore teen elke sitplek opgeloop. Die voorste bank was groot genoeg dat ek uitgestrek kon le daarop, nie soos deesdae se karre wat twee aparte sitplekke het nie. Een groot sitplek sodat mens op ma se skoot kan le en slaap.


En die kar se kattebak was amper groter as oupa se plaasdam, en die plaasdam was vir ons as kinders so groot soos die see.
Dit het moontlik te doen gehad met die feit dat ons Karoo kinders nie te gewoond was aan water- sien nie.
Enige iets wat meer as die bad se water kon hou, was so groot soos die see.
Dit moes onmiddelik met die grootste ontsag behandel word en wou ons natuurlik onmiddelik ons witstof voete daarin sit.


Dis ook met die opgewondenheid wat ons dan die middag, terwyl die grootmense gaan skuins le het op die beddens op die stoep, wat ons buite om en om die wit kar geloop het.

So nou en dan het een van die grootmense ons stil gemaak van agter die ogiesdraad en muskietgaas wat die hele stoep omhul het.
Was gewoontlik ‘n skril stem van een van die tannies, want as dit een van die ooms was, sou ons darem wraggies die eerste keer al geluister het.


Die enigeste ding wat groter opgewondenheid vir ons kon veroorsaak, was as dit gereen het.
Dit het maar selde in daardie jare gebeur. Dit was voorwaar ‘n fees vir ons. Water wat van ooral kom, water om jou voete in af te koel terwyl die bruin modder spatsels teen jou bene en klere maak. Lang gille soos een van die groter nefies hardloop en in die poel water hier reg langs jou twee voete gelyk kom land.

Bruin modder water wat oor jou gesig spat. In jou mond in. Jou taai geswete hare nog ‘n laag toffie water ook bygee.
En so in die speel dan, op te kyk en vir oupa te sien staan in die deur van die stoep. Vors. Lank. Regop. Sy staatspresident hoed op die kop. Koffie in die hand terwyl hy stil glimlag.Sy stille teenwoordigheid,  ‘n vrede wat ons almal ongesiens beskerm het.

STAAN OP DAPPER MUIS!

Januarie 7, 2010 in Sonder kategorie

Na die ‘jammer- vir- myself’ dag en aand in Wildernis Hotel, het ek die volgende oggend besef dat ek nie net my sokkies sal moet optrek nie, maar sommer my broek (soos in bangbroek) ook sal moet optrek tot hier neffens my oorlelle. Ek het met genade van bo besef dat ek iets sal moet doen aan die donker wolke wat om my kom saampak het.

Ek het toe met die opstaanslag myself gedwing om vriendin S in George te bel en vir haar te vra of dit hulle sal pas as ek wel die aand by hulle sal kom kuier (ek het haar al reeds voorheen ingelig dat ek die daktent byderhand het, aangesien sy 3 kinders het en nie noodwendig ‘n oop bed vir my sou hê nie)

Aangesien ek ‘n vreeslike probleem het om te commit, kon ek nie vir haar se of ek slegs een aand of 2 aande sou oorbly nie.

Ek besluit toe om oppad George toe aan te doen by Victoriabaai en ry vandaar na Haroldsbaai., wat ek nie te bekend mee is nie. Wat ‘n aangename verassing!

Haroldsbaai het my laat dink aan ‘n David Hockney skildery. Die prentjie wat voor my afgespeel het, het gevoel soos ‘n 1950’s foto (behalwe vir die klere en die karre). Gesinne wat op hul grasperk hier reg by die strand sit onder sambrele.

Jonk en oud wat in ‘n ry staan vir roomys by die roomys karavaan.

Hoog teen die koppie uit het ek by ‘n restaurant ‘n glas wyn gaan drink. Het daar opgemerk hoe die meeste mense daar Afrikaans sprekend is. Gesien hoe jongemense in hul twintigs sukkelend met gisteraand se partytjiekop, in die hittige son kon sit en maar net weer begin met die roetine van ‘kuier’.

Die warm wind van Heroldsbaai het die donker wolke laat begin smelt.

Heerlike 2 dae saam met dierbare vriendin S en haar familie het my ‘n kans gegee om luilekker op hul stoep te sit. Na baie lang gestaar na die berge en gedagtes wat vrye teels gehad het, het ek tot ‘n besef gekom:

Die Dapper muis se reis het nie net ‘n sosiale impak op die muisbestaan nie, maar gee die muis se gedagtes tyd om die sirkel te voltooi.

In die gewone lewe is ons so besig, soms met absoluut niks, dat daar nie tyd is om die gedagtegang sy volle loop te laat neem nie. Ons denke en gedagtes fladder soos ‘n flinder die en daai kant toe, maar ons staan nooit terug om te sien wat die patroon van die vlug was nie. Ons kyk nie na waarheen dit oppad was nie. In kort, ons sit en wag nie tot daar ‘n slotsom is nie.

Ek besef ELKE dag op hierdie wonderlike reis van my, dat al die dinge wat ‘verkeerd’ gegaan het in my lewe en gesorg het dat ek toe maar die Muistrip moes aanpak, grootse seeninge was. Daardie goed wat ek my so laat vra het: ‘Maar hoekom dit ook nog?’, alles het bygedra dat ek tot ‘n punt gekom het dat ek my goed opgepak het en ‘n journey aangepak het wat ek andersins nie sou nie.

Ek bid die hele jaar hartstogtelik en smekend aan God om vir my te wys waarheen Hy my wil neem. Wat Sy wil vir my lewe is, wil ek volg. Dat Hy vir my sal wys wat my roeping is.

Klaarblyklik was ek te besig om te hoor of te sien deur die jaar. So soekend dat ek van die antwoorde gemis het? So verstrengel in daaglikse oorlewing dat ek nie hierdie pad kon volg by die huis nie?

Ek weet nie, maar dankbaarheid vloei deur my are!

Die reis is nog aan die gang en ek sal die wil saamreis inlaai en binnekort saamneem na Gauritzriviermond vir nuwe jaar!

Dapper Muis se nie so dapper dag nie- Dag 3

Januarie 1, 2010 in Sonder kategorie

Eerstens aan almal baie baie Blessings vir die jaar en die dekade!

Was gisteraand te wonderlik om na die maan te kon kyk hier in Gouritsriviermond.

Dit was nie net ‘n blou maan nie, maar daar was ‘n klein gedeeltelike maansverduistering net na 9 die aand.

Ek was so bevoorreg om saam met pelle van meer as 12 jaar die nuwe jaar in te gaan. Nie net die nuwe jaar nie, maar ‘n nuwe dekade! Hul is voorwaar wonderlike mense, alhoewel ek die enigste single een was, het ek nie vir een oomblik so gevoel nie, gevoel of ek een van die familie is.

Ek het besluit om 20!0 so te skryf. TWINTING TIEN MET ‘N UITROEP IN, want ek glo en vertrou die jaar gaan uitmuntend wees vir almal.

Nou ja ek sal jul so vinnig up to date bring met die roadtrip:

Ek het toe dag 3 deurgery Knysna toe en daar rondgeloop en toe besluit om by 34degrees South restuarant te gaan middag ete eet. (Waar ek op daardie stadium in my journey was, was dit nie noodwendig die regte keuse vir beter voel oor die lewe nie, maar soos met alles loop ons mos maar ‘n paadjie. Soms is daar ‘n bos in die voetpaadjie en moet ons om hom loop. met die omloop krap een van die takke dalk, en dan met die, kyk ons onwillekeurig af na  die wond op die been wat die bos ons toegedien het, en dan vir die eerste keer, sien ons die mooiste skulpie langs ons voet op die grond. Dis hoe dit werk! Stukkende plekke laat ons soms goed raaksien wat ons nooit sou nie).

Ai dwaal ek nou hier van die paadjie af…. anyway… staan in die ry om ‘n sitplekkie te kry, want die plek is werklik populer. Ek kan nou dit nogal snaaks vind, maar op daardie stadium was die uitdrukking op die gesig van die ‘Ek-is-in-beheer-van-wie-sit-waar-girl’ nie heeltemal so snaaks vir my nie. ‘Tafel vir een, asseblief’ is klaarblyklik iets wat sy nog nooit gehoor het nie. Haar mond het eers opgeval, blitsvinnig het haar linkerwenkbrou opgespring in ‘n skerp boog, haar oe het effe vernou, nes ‘n visserman wat oor die viswater tuur om te sien of dit ‘n wolkie is wat daar anderkant aankom. Dit alles, het in ‘n breukdeel van ‘n sekonde gebeur. (Wonder of sy dalk gedink het daar is ‘n versteekte kamera iewers en iemand is besig om haar te verfilm vir ‘n lag-jou-gat-af-vir – simple-mense-movie).

Toe sy oor die skok van wat sy gehoor het kom, het sy aan my verduidelik dat sy my slegs by die rondomtalie sushi bar kan help. Sy het daardie ‘n uitdrukking gekry van ‘n motorwerktuigkundige wat enige oomblik gaan fluit fluit terwyl hy na jou motorenjin kyk en sy kop heen en weer skut. Sy het afgekyk na haar bord, met name en nommers op, vir my verduidelik dat sy geen idee het wanneer sy my andersins sal kan help met ‘n tafel nie.

Aangesien ek toe reeds graag net ‘n glas wyn wou he,  het ek maar besluit om wel my plek in te neem by die rondomtalie sushi kroeg.

Na ‘n rukkie het ek maar 3 bakkies sushi verlos van hul oneindigende lot van om en om en om te ry op die sushi trein.

Om een of ander rede het die grootste vaak van alle tye my beetgekry (nee ek het net 2 glase wyn gedrink!). Op daardie stadium het ek toe nog nie eintlik verder beplan as waar om te lunch nie. So verblyf vir die aand was toe nog nie naastenby beplan nie. Die rowwe beplanning was om aan te skuif na goeie vriendin ‘S’ wat in George woon die afgelope paar jare.

Met die ry in die algemene rigting van George, raak die vaak so oorweldigend dat ek by die garage stop en ‘n roomys koop, met die gedagte dat suiker dalk die onwelkome vaak sou kon verdryf.

NIks gebeur nie. Oe word swaarder.

Ek besluit toe om in Sedgefield in te draai, kannie regtig onthou presies hoekom nie, so ent af na die water se kant toe, merk ek toe op dat daar vissemanne se families lekker uitgespan is onder die bome.

Net daar parkeer ek toe so klein entjie van hulle af, maak toe maar of ek ook vir my eie visserman wag, gryp my kussing van net hier agter sitplek uit Poon uit en slaap daar penorent in Poon, helder oor dag, morsdood, langs die meer in Sedgefield.

Nou die wat my ken sal onmiddelik my ingeboek het vir volledige mediese ondersoeke, want die smartass doen nie sulke goed nie.

Ek skat ek het seker so halfuur daar geslaap. Toe ek wakker word, was my grootste begeerte om ‘n kamer te vind wat ek my eie kan noem. Ek wou net ‘n plek kry waar ek op die bed kon le, niemand hoef te sien nie. My eie spasie.

Na ‘n redelike rondgesoek, en ‘n paar jammerkry trane, het ek toe in ‘n Hotel in Wildernis, ‘n kamer gekry.

Teen 7uur was ek in die kamer met al die bagasie wat nodig was en vas aan die slaap.

Teen half elf die aand word ek wakker en besef dat ek seker iets sal moet kry om te eet.

Room service, was toe reeds nie beskikbaar nie. Ek stap toe deur die dorp en aangesien ek toe net wakker geword het en nog myself baie jammer gekry het, wou ek nie iewer gaan sit nie. (dink die ondervinding van ‘persona non grata’, was dalk nog te vars in die geheue)

Pizza plek kondig aan dat hulle nie met pizza kan help nie, want die deeg is sopas op.

Die altenatiewe is plekke waar daar ‘n klomp jongerige 20 somethings uithang wat reeds te veel gedrink het, en daarvoor sien ek ook nie kans nie.

Die garage se pie’s is uitverkoop!

Kos my toe in die kar klim, 5km ry na die volgende garage. Hulle pie’s is so droog dat selfs die girl wat daar werk vir my se sy sal nie daardie pie self eet nie.

My aandete was: blikkie bakebeans met vienas in! En coke Zero. (gelukkig is ek nie te vol nonsens oor blikkie kos nie). Was teen half twaal weer vas aan die slaap en so deurgedruk na volgende oggend 9uur.

Ek  het intussen besef dat, die verlore gevoel wat so oorweldigend was, te doen gehad het met die feit dat ek hierdie jaar so ‘n huishen/kluisenaar geword het, dat ek werklik my eie spasie nodig het om ‘veilig’ te voel. Dit was les nommer een wat ek sover geleer het op hierdie dapper muis journey van my.

Ek het intussen baie meer goed van myself geleer, maar ek dink sal julle later van die res vertel…..