Om ‘n brief te skryf

November 10, 2013 in Uncategorized

Ek het onlangs ’n brief gelees, geskryf deur Sylvia Townsend Warner , ’n skrywer wat in die 1940’s geleef het.

Die eenvoud van haar woorde en die opregtheid van haar emosies in die brief het my diep aangeraak. Dit het my met ‘n diepe behoefte gelaat om weer te begin briewe skryf. Lank gelede was dit die norm van kommunikasie. Lang tye het soms tussen poses veroorsaak tussen skrywes tussen vriende, bemindes en geliefdes.

So het ek jare gelede afgekom op briewe wat my ma en pa aan mekaar geskryf het toe hul reeds getroud was, hul eersteling reeds gebore, maar geskei van mekaar deur omstandighede buite hulle beheer en met duisende kilometers tussen hulle. Die afstand soos onoorkombare berge tussen hulle. Ek kan nie onthou of dit dalk net my pa se briewe was wat ek op afgekom en gelees het nie en of ek dalk net sy briewe vandag kan onthou nie.

Die intieme liefde wat hy uitgespreek het teenoor sy geliefde, my ma, was iets wat ek nooit tussen hulle opgemerk tydens sy leeftyd nie.

Die moontlikheid is groot dat ek dalk net nooit dit opgemerk het nie, omdat ek reeds my eie idees gehad het oor wat hul verhouding was, wie hul as individue was en natuurlik ook hoe my interaksie met hul albei, maar veral my pa, my oogklappe aangesit het.

Ek besef nou hoe min of hoe onmoontlik dit is om myself werklik uit te druk in my daaglikse lewe waar ek nie meer tyd neem om werklik te reflekteer oor gebeure nie.

En dit wat so verlore gaan in my daaglikse lewe, wat ek slegs kan terug kry as ek sit en besin, wil ek begin neerskryf. Dit sal seker doodeenvoudig wees om te skryf in ’n joernaal of dagboek, maar daardie gogga wou nog nooit aan my byt nie.

Ek het vandag my eerste brief geskryf. Dit was eenvoudig net ’n verwoording van ’n heerlike piekniek by die rivier. My gedagtes het oorgeloop van hoe heerlik die ondervinding was, maar toe ek gaan sit en begin skryf daaroor, het ek met diepe verwondering besef hoeveel meer die paar uur beteken het as wat ek ooit sou besef het as ek nie daaroor geskryf nie.

Nee wag ek is nog nie reg nie

Oktober 19, 2012 in Sonder kategorie

Dankie tog vir Zeppie wat my laat weet dat die blogs skuif! Ek sal bitter jammer gewees het as alles wat ek die afgelope amper 3 jaar net skielik weg was. Nie dat ek dink dit is belangrik of die wereld sou nou ‘n slegter plek wees sonder my bydrae hier nie, dis net….maar dis my spot hierdie…..my backyard…..en ek hou daarvan dat ek so af en toe kan kom loer het…..en wie weet dalk oor 100 jaar sou my kleinkinners afgekom het hierop en dan gedink het….jis ouma het snaaks gepraat in die ou dae…

So ek hoop dat ek nou gered word van die bloggalg en dat my blogkop aan my lyf gaan bly. Sien julle aan die ander kant…hoop ek!

Net vir die rekord

Julie 11, 2012 in Sonder kategorie

Ek sê gisteraand vir iemand, ok eintlik gister middag.

Ek is al amper twee jaar hier in Stellenbosch.

Iemand sê: ‘Regtig, dit voel nie so lank nie, maar ek het jou nie regtig geken toe jy hier aangekom het nie.’

Dis die ding. Mens word bekender met die wie jy reeds ken. Of raak vriendelik met die wat jy net gekennis het.

Ja, ek is November die jaar 2 jaar inni Bosch!

Ek gaan koop nog by KerkSpar… as ek iets vergeet het.

Ek stap nog op en af in Dorp Straat, Kerk Staat, Adringa en die wie se name ek nie geken het nie.

Maar nou is hulle my strate. Ek verstaan van ‘Anderkant Merriman’.

Bruce Springsteen se liedjie bly in my kop : ‘This is my home town…’

En dit is…. ek staan ten minste een maal ‘n week nog in verwondering oor ‘my’ dorp.

Ek sê nog gereeld ‘ So en so…ek bly hier’ net om myself te herinner.

Maar die lekkerste is, ek het vriende gemaak. Ek het mense leer ken. Ek weet wie doen wat waar.

En soms sit ek ook in Basic op ‘n Sondag soos Johan sê hy doen….maar wie van ons sal ooit weet of ons mekaar ooit raakloop.

In my kleine dorpie is daar ‘n privaatheid wat ongehoord is vir ‘n dorp.

THIS IS MY HOME TOWN!

Lekker koue groete uit die lekkerste plek op my aarde

3 weke later

Junie 20, 2011 in Sonder kategorie

Ek het wakker geword van die effense verandering in die lig in my kamer. Of was daar ‘n sagte geluid?

Hy het gebukkend van die ander kant van my bed beweeg na die voetenend van die bed.

Doodstil het ek gedink, dit kan nie waar wees nie.

Voor my spieelkas gestaan en deur my juwele wat daar gele het begin grawe. Steeds geluidloos. Of was my ore net doof van skok?

Hy weet seker nie ek is hier in die bed nie, het ek gedink.

Miskien as ek ‘n snork-slaap geluid maak, sal hy besef daar is wel iemand hier in die vertrek wat hy ongenooid ingekom het.

Hoe lank het ek doodstil gele voor ek dit gedink het?

Toe hy in my rigting kyk en verder ongestoord aangaan om deur my besitting te kies, het ek besef, hy WEET ek is hier. Hy WEET dit nog die hele tyd. Hoe lank gaan hy nog daar staan?

Here laat hy asb net gaan, het ek oor en oor gebid.

Hoe lank het ek gele nadat hy by die kamerdeur uit is, voor ek besef het, hy kan terugkom? Die keer nie vir my besittings nie. Die keer vir my?

Hoe lank het ek gele voor my spiere begin reageer het?

Is daar ‘n sleutel in die kamerdeur, het ek gewonder?

Net le en wag kon ek nie. Dit was net te veel.

Slaan die deur toe so hard jy kan, het ek gedink. Sluit die deur toe so gou as wat jou vingers kan beweeg.

Daar is geen sleutel, het my brein begin skree!

Hulle sal die deur kan oopdruk as hulle wil, het ek geweet, maar krampagtig het ek die handvatsel opgedruk gehou.

Iewers is my peper spray…..

Spring oor die bed, kyk in albei bedkassies.

Dis nie daar nie, wat nou?

Met ‘n blik doom in die een hand, terwyl ek met die ander hand die handvatsel van die deur weer opdruk, het ek aanhou bid.

Wat het ek gebid?

Ek kan nie uitgaan nie, al het ek gesien die voordeur staan oop en daar is ‘n roete na buite.

Wat as hulle twee net buite die deur vir my wag?

Ek sal maar wag….

Vir wat sal ek wag?

Iewers ver in my agterkop het iets my herinner aan ‘n oer instink. Iets wat nie vir my natuurlik kom nie. Iets wat my logiese brein ‘n paar angsbevange minute geneem het om te besef.

Ek kon skree. Ek kon skree om hulp. Wat skree mens? Help…en dan wat saam met Help!

Iemand het wel later gekom.

Ek het later by die bure gehoor dat die vrou wat geskree het tussen deur hartstogtelik gehuil het.

Was dit ek?

Ek het haar jammer gekry. Die vrou wat so geskree het. Dit was ek?

Dis nou 3 weke later….

VLOEKWOORDE VAN GISTER

Mei 13, 2011 in Sonder kategorie

Ek wonder hoekom die prentjie my by bly.

Ons kyk uit oor die kloof en die rivier wat daar vêr onder vloei.

Aan die oorkantste berghang is daar ‘n klein watervalletjie wat rustig aangaan met wat sy doel is.

Dis so effe koud, kouer as die vorige twee dae.

Die wind waai my hare soms oor my gesig.

Ons eet braaibroodjie met jam en kaas.

Beplan voor die aanvang van die naweek reeds.

Gerooster op die vuur die vorige aand met die doel om te eet as padkos.

Dis ‘n lekker vreemde smaak vir my – vuur geroosterde kaas en jam broodjies.

Die smaak van die sout en sout met die reuk van braaivleis wat nie met die smaak inmeng nie, maar ‘n nostalgie in my wakker maak.

Ons praat nie veel vanoggend nie.

Dis nie regtig nodig nie.

Die rustigheid en eenvoud van die oomblik vasgevang in my geheue – verewig.

Ek wil vashou aan daardie eenvoud en rustigheid.

Die jare se gejaag na opwinding en oppervlakige emosionele passie, lê soos ‘n ander lewe vêr agter my.

Dit wat ek nou na streef, was vloekwoorde gister.

Ek wil nou vloek!

April 5, 2011 in Sonder kategorie

Is daar iewers ‘n ‘autosave’ op die blogs wat mens se inskrywing so tussen deur save? Of is dit net verlore as jy per ongeluk die verdomde ding toemaak?

Nou is ek lus om vieslik te vloek!

ONDER IN MY WHISKEY GLAS

Maart 18, 2011 in Sonder kategorie

Onder in my whiskey glas, sien ek  jou weer.

Onthou ek hoe ons was, en nou’s my hart so seer.

Die woorde van Koos Kombuis se liedjie hang nou al die hele dag in my kop.

Dalk mis ek hoe mense was.

Dalk mis ek mense wat was.

Dalk mis ek hoe ek was.

Mense beweeg aan,

Mense wat eens so onlosmaakbaar deel was,

Van my lewe,

Van my liefde,

Van my.

Ek kyk onder in my glas

Ek sien so baie,

Maar as die glas leeg is

Is daar niks.

Engelvlerke

Maart 11, 2011 in Sonder kategorie

‘Partykeer wonder ek wat van dié vlerke gaan word.

Almal sê dis stress.

Maar as dit so aangaan gaan daar nie meer ‘n veer oor wees om te kan vlieg nie.

Wat doen ‘n engel sonder vlerke….sonder vlieg? ‘ wonder Engelkind.

‘Kan hulle maar netsowel net hier uit die rugmurg uitrek en neergooi.

As hulle dan nou nie meer hul doel gaan vervul nie kan ek seker maar mensekind word.

Vlerkloos die aarde bewandel, in plaas van die saamsleep van dié brandsiek vlerke.

Hulle dra net te swaar party dae.

Soms sal dit lekker wees om net vry te wees van hulle gewig.’

Die ligte wind kom ritsel aan die vere van Engelkind se vlerke.

‘n Sagte rilling vibreer deur haar.

Die gevoel van die wind wat aan haar vlerke trek- trek maak haar gees meteens wakker.

Haar groot oë gaan oop en sien skielik die wydheid van die wêreld om haar.

Sy gee kort teugies asem en blaas die woorde ‘Dankie Vader’ diep uit.

Gewigloos.

Help dit om daaroor te skryf?

Maart 2, 2011 in Sonder kategorie

Miskien help dit om daaroor te skryf, dink ek by myself.

Ek het al agterkom dat dit klaarblyklik die waarheid van die woorde op papier is wat gedagtes en gevoelens meer werklik maak.

Dis asof dit meer georden word as ek dit neerskryf.

Dit is seker hoekom so baie mense ‘n dagboek hou. Ek daarenteen is nie die een vir daaglikse neerskryf van die gebeurtenisse en gewaarwordinge nie, maar ek dink vandag mag dit dalk net help.

Dis amper of ek in ‘n surrealistiese wereld vandag beweeg.

Ek het vangoggend wakker geword met die inkennistelling dat daar ingebreuk is in my Poon.

Dis seker eintlik niks nie.

Dit gebeur tog elke dag met baie mense, maar dit het iets in my geroer.

Dit voel of daar ‘n naiwiteit by my gesteel is.

Ek was so opgewonde om uit te vind dat my motorversekering met meer as R300.00 per maand verminder het toe ek na die Bosch toe getrek het. ‘n Groot aanduiding dat dit tog heelwat veiliger hier is as in my gevaarlike vorige tuiste.

Nou wonder ek, moet ek dan nou weer bang word?

Moet ek nou weer ongemaklik voel as ek laat aand alleen hier in my ‘veilige’ binnehof van die kompleks parkeer?

Moet ek nou verlief neem met my ma se bekommernis as sy my nie in die aande in die hande kan kry by my huis nie?

Moet ek onsteld wees as iemand by wie ek kuier nie vra, soos my vriendin Anha altyd maak, dat ek moet laat weet as ek veilig by die huis aangekom het, na ons saam gekuier het nie?

Baie vrae waarop daar nie regtig ‘n antwoord kan wees nie.

Maar die insident het meer tot gevolg gehad as net dit.

Dit het veroorsaak dat ek vriendskappe bevraagteken.

Dat ek ‘n sekere optrede verwag het van mense na aan my.

Dit het my laat twyfel oor wat is regverdig om wel van mense of eintlik vriende te kan verwag.

Dit het my ook laat reageer op ‘n manier wat ek nie van gehou het nie.

Ek was ‘n bitch vanoggend.

Verwag ek te veel omdat ek dalk glo dat die manier waarop ek reageer en optree in sekere omstandighede die regte manier is?

‘n Groot deel van my bestaan gaan oor om onselfsugtig mense lief te he.

Lief te he in die wydste sin van die woord.

Onselfsugtig in die opsig dat daar gegee word en NIKS terug verwag moet word nie.

Hoe onselfsugtig is ek dan nou eintlik as ek dan verwag iemand moet meer hulp aanbied/ meer omgee/ meer empatie he/ daar wees vir my/ optree soos wat ek sou?

Dalk is dit wat my die meeste pla. Die vraag oor hoe onselfsugtig is onselfsugtig?

Waar pas my menswees/ my onsekerhede/ my hartseer en alleen wees in die onselfsugtig in?

Ek weet nie.

Ek weet net ek gaan nie toelaat dat iemand wat selfsugtig was en my naiwiteit kom steel het, my negatief gaan maak nie.

Dis ‘n lekker koel dag in die Bosch.

Ek dink ek moet gaan stap sodra die vingerafdruk mense van die Polisie hier was.

Die Polisie…..hulle was hier in my voorhuis binne ‘n half uur nadat ek die oproep gemaak het. Verklaring geneem en kortliks daarna ‘n sms gekry met ‘n saaknommer.

Dis ongelooflike diens!

Ek het baie om voor dankbaar te wees. Ek het vergeet om my sekuriteitsdeur te sluit laas nag.

So met die deur en sekuriteitshek wa-wyd oop geslaap….veilig!

Hoe dan nou anders as om dankbaar te wees vir die beskerming wat ek geniet het terwyl my radio en ander items uit my kar gesteel is?

Dankie Vader!

En dankie Anha.

MUFFINS RECIPE EN ANDER BAK STORIES

Februarie 21, 2011 in Sonder kategorie

Die storie is bietjie lank, maar ek kon nie iets kry wat ek kon uithaal nie, so vir die langasems is daar ‘n storie:

EK BAK NIE!

Ek beskou myself as ‘n lekker kosmaker en selfs dalk ‘n kooker. ‘n ‘Cook’ nie ‘n chef nie.

Al my pogings om te upgrade na Bakker was hartseer, lagwekkend en wel uiters onsuksesvol.

Dit laat my dink aan die advertensie op tv wat die seuntjie vir sy ouma vra wat het hulle gedoen toe hulle jonk was en dan se die ouma : ‘We cooked’ en dan vra hy later wat het hulle dan vir ‘fun’ gemaak en dan se ouma: ‘We baked’.

 Wel, ek het nog nooit ‘fun’ gehad nie.

Die laaste koek wat ek gebak het kan ek net elke keer oor smile as ek daaraan dink. Ek het skelm gaan bak by Smartassma se huis. Verassings verjaarsdag koek vir my Smartasskind. Die gourmet koek uit Tulbach, het geklink na ‘n bereikbare doel.

Ek het net nie raakgesien dat die koekpanne wat gebruik moes word amper dubbel die grote was as die wat smartassma het nie. Middernagtelike ure het sjokolade koekmengsel soos ‘n vuurspuwende berg oorgeloop oor die rand van die panne. Na baie kopskut en gelag deur ma, het ek my fout agtergekom.

Met die koek net so in die panne het ek na Smartasskind se slaaptyd, in die huis ingesluip om die gourmet gesmelte sjokolade versiering te maak.

Tip nr 2. Haal die koek uit die panne terwyl dit warm is, SOOS DIE RESEP AANDUI.

Na lang gesukkel om die nou koue koek uit die panne te kry, was daar geen alternatief as om die  pan se inhoud in kwarte te sny nie.

Ek was effe beneuk teen die tyd, maar my logika het vir my gese, dat ek die storie aanmekaar geplak en gehou kan kry met die versiersel.

Tip nr 3. Jy kan nie koek aanmekaar plak/hou met ‘n loperige sjokolade en versiersuiker bedruiping nie.

Soos ek die bruinmassa oor die koek gooi, so gebeur daar koek-aardbewings en skuif al agt stukke uitmekaar….

Maar koek moes koek word en 2 chinese chopsix later, was dit min of meer aanmekaar getimmer. Gelukkig het smartasskind nie te veel gelag oor die pragtige sjokolade koek waaruit 4 stukkies hout uitgesteek het nie.

Maar hay, dit was ‘n lekker koek!

Met die lang storie as agtergrond wil ek nou met julle die volgende deel:

‘HOW TO MAKE/BAKE MUFFINS’ by SMARTASSBLOND

  1. Koop Spray and Cook by Checkers tydens die Hayday Sale en kry een pakkie muffin mix gratis;
  2. Bedink die moontlikheid van ‘n gebakkery vir ten minste 5 dae.
  3. Bespreek die afwesigheid van muffin pannetjies en die moontlikheid van muffinbrood met ten minste 2 mans vriende;
  4. Ontdek met opgewondenheid baba broodpannetjies by een mansvriend se huis;
  5. Neem ‘n besluit dat dit nie so moeilik kan wees nie en kondig trots aan, aan ten minste 2 mans vriende, dat daar gebak gaan word en dat baksel saam geneem gaan word na eksperimentele gaan-stap-en-kamp-in-die-Cederberge-naweek;
  6. Ontdek dat een van die 6 pannetjies geroes is. Lees pakkie muffin mix vir die 5de keer en sien dat dit genoeg is vir 12 muffin pannetjies;
  7. Bekyk die bababrood pannetjie en besluit hulle is tog groter as muffin pannetjies en sal deug as ‘n dubbele muffin of oorweeg die alternatief van net die helfte van pakkie muffin mix gebruik;
  8. Lees die pakkie muffin mix weer en besluit dat olyfolie nie dieselfde gaan smaak as die sonneblomolie soos aangedui op muffin mix pakkie.
  9. Ry net na 8 gou na Kerkspar;
  10. Veg jou pad oop deur koshuiskinders wat mag uit die koshuis wees vir 15minute terwyl hulle suster/broer skool se teenoorgestelde geslag ook in baie klein Kerkspar rondloop om Coke te koop;
  11. Voel die selfvertroue van ‘n bobaas bakker in jou opwel en koop kaas om so bietjie die resep mee te ‘verbeter’;
  12. Soek mengbak en gooi muffin mix in;
  13. Soek groter mengbak, gooi muffin mix van te klein mengbak oor na groot mengbak;
  14. Gryp benoud na muffin mix pakkie om te lees of iets nie gesif moes word nie;
  15. Lees weer hele muffin mix pakkie;
  16. Google Whirlpool Microwave Muffin resep om vas te stel teen watter verstelling, temperatuur en tyd muffin mix gebak moet/kan word;
  17. Maak intussen visvingers gaar in microwave op 100% vir 3 minute, draai na 1 en half minuut, gooi ruim hoeveelheid suurlemoensap op en maak babablikkie spagetti in tamatiesous oop;
  18. Eet bogenoemde terwyl nuwe AVG internet sekuriteitsprogram aflaai, aangesien een resepwebwerf klaarblyklik wil spioeneer op my resepte wat ek op my rekenaar gestoor het;
  19. Maak solank aartappelslaai terwyl die rekenaar homself aan en af sit;
  20. Verloor belangstelling in rekenaar en gaan soek handboek van Whirlpool Microwave. Lees deur elke moontlike resep en besef dat die 5 jaar oue wondermasjien wat in die kombuis staan net op gewone konveksie hitte ook kan bak;
  21. Voorverhit die microgolf oond na 175 grade Celsius;
  22. Lees weer muffin mix pakkie;
  23. Verhoog temperatuur stelling na 200 grade, aangesien muffin mix pakkie aandui dat 180 grade die aangewese temperatuur vir bak is;
  24. Onderbreuk die verwarming van oond en microwave op 100% vir half minuut die 4 gevriesde baba cocktail worsies wat jy intussen besluit het ook lekker gaan wees saam met die kaas wat jy gaan byvoeg tot die mengsel;
  25. Voorverhit weer oond na een van die 2 temperature hierbo, aangesien jy intussen besluit het ‘you will fly by the seat of your pants’, maak dit nie meer saak watter een jy kies nie;
  26. Meng alles saam soos muffin mix pakkie aandui;
  27. Verstik aan spray and cook waarmee jy die 5 bababroodpannetjies spuit dat hulle blink soos ouma se stoep;
  28. Soek 3 van die 24 glas rammakins wat jy voor egskeiding gekoop het;
  29. Vind 3 van die 12 glas rammakins wat jy oor het na die egskeiding;
  30. Spray en cook hulle terwyl jy dink aan jou Ex wat nou alles wat jy so mooi gedeel het verkoop aangesien hy nou saam met liefie Europa toe trek;
  31. Snuif diep aan die Spray and Cook wallems en dink: ‘Bygones’.
  32. Snipper worsies en rasper kaas na skatting. Minder as die hoeveelheid wat jou laaste dieet toegelaat het as een porsie protein vir aandete maar meer as 4 eetlepels;
  33. Eet die ‘oops-te-veel-kaas-gerasper’ gerasperde kaas wat oorgebly het;
  34. Wonder hoekom die storie in die mengbak dan nou so damn taai lyk;
  35. Verdeel na beste van vermoe mengsel tussen bakke gealokeer aan muffins mix;
  36. Brand jouself, natuurlik terwyl jy die pannetjies in oond sit;
  37. Sms opgewonde ‘Ek bak’ aan die laaste persoon wat jy gebel het;
  38. Lees beantwoordende sms wat se dat duime vas gehou word;
  39. Gaan loer vir muffins elke 3 minute;
  40. Na 10 minute verleng tyd na die 20 minute soos aangedui op die muffin mix pakkie;
  41. Haal uit nadat 2 muffins effe te bruin is aan die bokant;
  42. Besef dat jy nie stupid is nie en nie weer te lank gaan wag nie en haal onmiddelik muffins uit panne;
  43. Neem foto en stuur aan die een wat steeds duime vashou;
  44. Sit op stoep en besluit dit het so goed afgeloop dat jy maar die resep kan publiseer;
  45. Wonder of iemand tot hieronder gaan lees;
  46. Save resep en besluit later of jy sal gee vir iemand om te lees; 
  47. Gaan sit op stoep met selfvoldaning! Sug!