Jy blaai in die argief vir afrikaans.

Die kos wat ons eet…..

Maart 4, 2013 in afrikaans

Die Suid-Afrikaanse vleissituasie

Ienkie pienkie ponkie
Suid Afrika eet nou donkie
Hiekerie diekerie dok
ons maalvleis is nou bok
Taragie taragoe
ons eet biltong van kangeroe
Kul jou hie kul jou daa
ons steaks is nou Sebra

Viskoekies in die Baai
bestaan meestal nou uit haai.
daai hoender wat so dril
is dikwels krokodil
Die salami aan die hak
is dalk ʼn Taiwannese brak
en die sagte pienk polonie
dalk net ʼn Shetland ponie
maar dis als die moeite werd
die arme Britte kry net perd

die vloekende gomgat

November 28, 2012 in afrikaans

Ek sien die afgelope naweek op ‘n plaaslike TVkanaal dat hulle ‘n program gaan uitsaai oor Afrikaans versus Nederlands.

Om mee te begin word die man in ‘n voorafopgestelde situasie verwelkom deur iemand wat wel Afrikaans kan praat.  Dis egter ‘n persoon wat mens duidelik kan hoor nie die taal gereeld as 1e taal besig nie.  Daar is mos deesdae baie mense wat te grand is om  Afrikaans te praat.  Dit het my al gekrap maar het dit so aanvaar.  Daarna het hulle ‘n onderhoud met Stef  Bos gehad.  Is hy Afrikaans?  Nee, maar ek het genoeg agtig vir die ou dat dit nie vir my saak gemaak het dat hulle by hom ‘n draai gegooi het nie.  Hy het van ‘n paar goed gepraat wat hy amusant vind in Afrikaans.  Onder andere die dr*l in die drinkwater.  Ek het in ‘n huis grootgeword waar ons nie eers so gepraat het nie.  Goed toegegee, dit was weer oor eng na die ander kant en ek kan ook  nou al so van tyd tot tyd ‘n rasperige woord ingooi.

Maar toe kom die volgende.  ‘n Hoogsgekwalifiseerde taalkundige wat ‘n pragtige Afrikaans praat maar die ou maak toe ‘n politieke preek van sy insetsel. Hier gryp hy die geleentheid om Dr DF Malan (wat seker nog voor sy tyd al oorlede is ) ‘n stekie in die rug te gee.

EN toe die kersie op die koek. En hier kan julle my maar kruisig.  Ek het op tot op hede niks van die mannetjie af geweet nie buiten dat hy bestaan, en dus nog nooit enige opinie van hom gehad nie, hetsy goed of sleg.  Maar na gisteraand het ek nie ‘n enkele goeie woord vir Jack Parrow nie.  Hy kan nie 2 sinne sinvol na mekaar inryg nie.   Ek gee nie om hoe gewild hy is nie, al wat hy gedoen het is gevloek.   “F” voor  middel en agter elke sin.  Nee o maggies hy is ‘n regte gomtor en helaas  word sy voorbeeld seker eerder deur die kinders gevolg as die een wat hulle op skool en in hul ouerhuise kry.

‘n Vriendin wat ek spesiaal gekontak het om ook na die program te kyk, reken ons moet ‘n brief aan die TV kanaal stuur en ons menig lug.  Maar wat as dit ek is wat in ‘n seepbel lewe?  Is dit nie dalk wel hoe ons jongmense van vandag praat nie?  My kinders is ook al ver aan die verkeerde kant van 20 en jongste moet ek van tyd tot tyd aanspreek oor kru woorde.

Ons is tans in ‘n stad vol studente en hulle is heel luidrugtig.  As die “F” woord  in ‘n gesprek rondvlieg, is dit meestal Engelsprekende studente.

die bome is kaal