persepsies
Februarie 29, 2012 in Sonder kategorie
Hoe langer ek my hier in die vreemde bevind, hoe meer verbaas ek my oor verskillende mense se persepsies van Suid-Afrika.
Ek het al gemeld dat iemand gevra het of dit waar is dat daar gewapende mense deur die strate ry om ons te beskerm. Dit was sy persepsie van sekuriteitsdienste.
Laas week het ek egter ‘n ander invalshoek tov dieselfde sekuriteitsdienste in Suid-Afrika aangehoor. Die persoon vertel dat daar gewapende mense in die strate rondry en hulle skiet alle nie-blankes wat hulle teëkom in die woonbuurte waar nie-blankes nie mag woon nie. Hy wou my nie eers glo dat daar lankal nie meer sulke areas bestaan nie.
Die afgelope Sondag in die kerk is ‘n meisie terug verwelkom vanaf Suid-Afrika. Haar Belgiese ouers werk die afgelope paar jaar as mediese dokters iewers in die Oos-Kaap en dink nie dit is meer vir haar veilig in Johannesburg (hoop ek onthou reg) waar sy studeer het nie. Die aankondiger se opmerking??? Hier is nou al baie vlugtelinge uit Suid-Afrika in die gemeente.
Toe ek teenoor ‘n Belgiese persoon meld dat ek na die stadshuis moet gaan. (dit is maar hulle ekwivalent van ‘n plaaslike owerheid) wou sy weet of ek gaan om vir asiel te gaan aansoek doen. Groot was haar ontsteltenis dat ek baie beslis terug gaan na Suid-Afrika.
Die jonger studente kom hier aan met beurse, sien hoeveel anders mens kan leef, en laat geen steen onaangeroer in hulle poging om hier permanente verblyf te bekom. En ek verwys hier na studente van alle Suid-Afrikaanse rasse. Hoewel hier ook baie mense van ander lande is, veral Nepal, China en ook vele ander Afrika lande, is ek nie altyd bewus van wat hulle situasie is nie.
Wil net weereens meld dat ek nie rondloop en politieke praatjies aanknoop nie. dis net wat uitkom
Onlangse kommentare