Jy blaai in die argief vir 2012 Januarie.

vreemde gedrag, maar so leer mens

Januarie 30, 2012 in Sonder kategorie

Laas week toe die son so wonderlik geskyn het, het ek mos die pad gevat en onderandere by die een bloemiste die foto van haar lieflike hiasinte geneem. (foto op vorige blog).  Daar het ‘n dame uitgekom en my gevra hoekom neem ek foto’s.  Dis was toe net mooi daar wat ek suiwer Afrikaans praat sodat sy kan hoor ek is nie van hier nie.  Verduidelik toe dat dit vir my mooi is maar kan dit nie met my saamvat nie.

Die naweek stap ons by ander bloemis verby (hier is hope van hulle) wat die allerlieflikste lelies  uitstal.  Omdat ek toe nou nie weer onder kruisverhoor wou kom nie, gaan ek in en vra die man sy toestemming om sy blomme af te neem.  Verduidelik vir hom dat dit ‘n Suid-Afrkaanse vriendin se verjaarsdag is en dat sy mal is oor lelies. Hy gee toe nie om nie maar stel die voorwaarde dat ek dit so moet doen dat die prys nie sigbaar is nie.

Vertel toe vandag vir iemand daarvan ek kry haar weergawe wat haar die afgelope naweek oorgekom het.

Op Saterdae in hier so straatmark met verskeie stalletjies.  Die een ou het toe die lieflikste granate en as lokmiddel het hy een oopgebreek.  Daar lê die pragtige granaatrooi pitte en sy neem ‘n foto daarvan.  Bevlieg die stalletjie eienaar haar en skel haar dat dit skending van sy privaatheid is.  Hy’t  blykbaar so tekere gegaan dat sy die produk wat sy by hom wou koop net so neergesit het, voor hom die foto’s delete het en weggestap het.

Daar is egter heel dikwels sulke unieke goed wat net vra om af geneem te word.  Maar ek en sy het nou onse lesse geleer en sal maar altyd eers vooraf vra.

en vandag was dit sulke tyd:

dit was inderdaad net so ‘n ou dun poeierlagie sneeu, maar alles was vir ‘n rukkie omtower in ‘n sprokieswêreld.

sonskyn

Januarie 27, 2012 in Sonder kategorie

Toe ek gisteroggend by die venster uitkyk, was dit om ‘n blou wolklose lug te sien en ‘n skaars sonskyn dag te beleef.  Vinnig die  “penthouse” aan die kant geruk, my tekkies aangetrek en die wêreld gaan verken.  Maak nie ‘n fout nie, al skyn die son is die strale steeds baie flou.  In die middel van die dag het my skaduwee steeds so ent van my af weggestrek.

Dit was so net na 11uur vanoggend geneem. 

Die son is egter steeds so ver suid dat dat die skaduwees heel dag lank bly.

Die ergste koue kom volgens die weervoorspellers eers volgende week.

Dis wat ons blykbaar kan verwag.

lente is egter in die lug, al lê die temperature so laag.

waarskuwing – luister net as jy jodelmusiek kan hanteer

Januarie 22, 2012 in Sonder kategorie

Ek dink nie my musieksmaak val in die deursnee persoon se smaak nie.

Biscuits het geblog oor musiek in hulle huis en hoe hulle smaak verskil

Hierdie link van ‘n opname waarvan hy sommer baie hou, het ek deur die week van Doring af gekry.

(ja plaas dat hy werk, sit hy en musiek soek op you tube)

Hy’t geweet ek al dit ook geniet.

oor misdaad en geweld in Suid-Afrika

Januarie 22, 2012 in Sonder kategorie

Hierdie is nie ‘n navorsingsverslag nie, het geen wetenskaplike waarde nie en moet bloot gelees word vir wat dit werd is. Ek gaan nie doelbewus uit om mense hier in Europa se opinie oor Suid-Afrika in te win nie.

Ons moet egter telkens ons land van herkoms meld, soos byvoorbeeld by die ziekefonds. Hier het die klerk wat ons gehelp het dadelik vir ons vertel het hoe hy jare gelede deur Zuid-Afrika getoer maar dat hy nou nie meer op sy gemak sal voel om so trip te onderneem nie.

Een dame het met groot oge gevra of dit waar is dat ons gewapende mense huur en betaal om ons huise op te pas. Dit is hulle persepsie van sekuriteitsdienste waaraan menige Suid-Afrikaanse huishouding deesdae behoort.

Die vioolmaker en sy vrou vertel hoe hulle tydens hulle besoek aan Suid-Afrika nie dadelik hulle pad kon vind nie en hoe hulle by ‘n taxi-rank* uitgekom het. Die benoudheid van al die stories wat hulle al gehoor het van die wilde land, het vir hulle ‘n klompie benoude oomblikke besorg.

‘n Meisie wat nog deeltyds studeer en tydelik aflos in departement waaraan Doring verbonde is was al voorheen in Suid-Afrika en wil graag weer gaan. Sy meld egter dat dit ook maar duur is. Doring stel toe voor dat sy moet aansoek doen om as uitruilstudent te probeer gaan. Nee, het sy geantwoord, hulle uitruilprojek met Suid-Afrika is gestaak toe hulle 2e uitruilstudent daar geskiet is. Tien teen een was hulle waar hulle nie moes wees nie. ‘n Student is mos altyd meer avontuurlustig en dan kon onkunde ook ‘n rol speel.

By die internasionale kerk waar ons inskakel, het ons ‘n Belg ontmoet wat vertel het dat hy vir 22jaar in Suid-Afrika gebly en gewerk het en nou so amper vyf jaar weer terug is in België. Dat hy dit geniet het daar maar nie sommer weer sal terugkeer na Suid-Afrika. Toe ons heelwat later sy Suid-Afrikaanse vrou ontmoet vertel sy ons dat hy by die dood omgedraai het nadat hy tydens ‘n gewapende rooftog in die maag geskiet was.

Die mense by wie ons in Duitsland was oor Kersfees, beplan ‘n besoek aan Suid-Afrika vroeg in 2013. MAAR net na Kaapstad en omgewing. Hulle idee van Johannesburg is iets soos Cowbow flieks waar die skote gedurig klap.

Nog ietsie wat eintlik nie by my vertelling pas nie, maar wat ek ook hier byvoeg.

Gister saam met ‘n oud-student van Doring wat homself ook hier bevind, gaan uiteet. Tipies ons mense raak ons toe nou liries oor die vryheid wat ons hier geniet. Ons gaan na ‘n konsert, loop laatnag terug na bushalte deur verlate kantoorblokke en voel heel veilig. Meisies ry donkernag met hulle fietse rond. Toe vertel hy ons van sy Belgiese hoof se opmerking. Hy bly in ‘n woonbuurt net buite Brussels waar daar toenemend Noord-Afrikane begin intrek het – hulle waag dit nie meer saans laat alleen op straat nie.

*huurmotorstaanplek klink net so yslike mondvol

vreemde woorde

Januarie 19, 2012 in Sonder kategorie

Het nou die dag by hierdie huis verby geloop en die woorde bokant die een lintel raakgesien.

Dan kan ek nie help om te wonder wat daartoe bygedra het dat hierdie inskripsie aangebring is nie.

so ietsie oor evolusie

Januarie 19, 2012 in Sonder kategorie

vra om verskoning vir die taal – het dit so gekry.

die ontlening van woorde uit ‘n ander taal

Januarie 17, 2012 in Sonder kategorie

As kind het ek by my ma raas gekry as ek ‘n Anglisisme gebuik het. Die bure se dogtertjie het altyd gevra vir ‘n stukkie brood met jam, asseblief antie. Dan wou my ma die piep kry.

Vandag gooi ek heel dikwels meer as net af en toe sulke erge Engelse woorde in my algemene gesprekvoering.

Hier in Belgi ë is ook twee ampstale naamlik Vlaams (wat maar Nederlands is) en Frans.

So kom ons agter dat die Vlaamssprekendes ook Franse woorde ontleen en gebruik.

Kersfees is ek telkens in die winkels gevra of dit ‘n “kadoutje” is.  Naderhand agtergekom dat dit verwys na ‘n geskenk, en dan het hulle dit vir jou baie mooi toegedraai in geskenkpapier met lieflike strikke daarby. Die woord het ek gaan opsoek en die volgende gevind: die Franse woord vir geskenk is cadeau. Sekerlik is daar ander ook wat ek net nog nie gehoor het nie.

Ek hoor soms woorde wat in Afrikaanse redelik in onbruik geraak het, maar wat wel nog in die Nederlandse woordeskat voorkom.  Moet dit eitlik neerskryf want ek kan nou om die dooie dood nie ‘n enkele een onthou nie.

Soms ook in Suid-Afrika Engelssprekende mense gehoor wat weer Afrikaanse woorde gebruik, soos demurin.

A Cuppa cuppuccino

Januarie 16, 2012 in Sonder kategorie

ek weet dit was nie koffie nie, maar kan sowaar nie meer onthou wat hulle geadverteer het nie.

hierdie ene is eintlik ‘n ander blogger se opvolg

Januarie 15, 2012 in Sonder kategorie

Vir Twaksak en sommer ook vir al die Weskussers en almal wat so lief is hiervoor.

Nog ‘n lekker Boere-Englies

geweet ons het hierdie foto iewers, moes dit egter eers net weer gaan soek het.

nog ietsie oor Leuven

Januarie 14, 2012 in Sonder kategorie

Gister was weer ‘n pragtige dag (Steeds koud, maar ‘n flou sonnetjie so van tyd tot tyd) en omdat ek op ‘n punt na regs ipv my gebruiklike links afdraai geneem het, het ek weer op plekke verbygeloop waaraan ek my net verstom het.

Die straatjies is smal en die geboue smal en opmekaar. 

Dan maak die pad ‘n kronkel en ek kom op die besonderse standbeeldjie af.  Sommer so tussen die geboue en huise.

net ‘n ent verder stap ek by hierdie huis verby en ek kan nie help om te wonder of daardie dakkie nie aandag nodig het nie.