Jy blaai in die argief vir 2011 Desember.

2011 na 2012

Desember 31, 2011 in Sonder kategorie

Sedert die 23e kuier ons ‘n hond uit ‘n bos met kind wat in Londen bly en sy vakansie met ons kon deel.

Soos reeds gemeld, was ons saam na sy Duitse “skoonfamilie” wat ‘n baie unieke ervaring was.

Met die terugkom het ons deur etlike skilderagtige klein Duitse dorpies gery. Die Duitse vriendin het by haar ouers agtergebly om bietjie langer by hulle te kuier.

Bestuurder (eie kind) het tog ‘n slag gestop dat ek ‘n foto of 2 kon neem.  Moet my nie vra waarheen was die haas nie……..

….. ek dink ek het egter tog mooigenoeg gevra dat hy toe  maar vir my afgedraai het Cologne toe.  Daar was hulle alreeds besig om die Kersstalletjies af te breek.  Het tog  ‘n glimps daarvan gekry.

   

Die katedraal het soos seker vir elke ander besoeker, my geheel en al oorweldig.

Dit was ‘n taamlike grys kleurlose dag, daarom het ek ook ‘n foto op die internet gaan soek.  Buitendien is dit so indrukwekkende konstruksie dat my kamera geheel en al nie reg daaraan kan laat geskied nie.

volgende is ‘n terugblik vanaf die brug.  (o ja,  het ook oor die Ryn gestap)

Gister het vriendin met trein teruggekom vanaf haar ouers en vanoggend is ons die twee jong mense weer terug na Londen.

Ons sit dus hoog en droog so op die oujaarsdag en sal ook so die nuwe jaar ingaan. (let op die grou oortrokke lug)

Gelukkig het ek vele blogvriende van wie ek baie wense van voorspoed ontvang, en wil ek ook vir julle almal ‘n 2012 van voorspoed, vreugde,  goeie gesondheid en sommer alles wat mooi is, toewens.

My 2011 Kersfees

Desember 27, 2011 in Sonder kategorie

Ek weet Kersfees 2011 is al ou nuus, maar kry nou eers regtig kans om dit te deel.

Ons was saam met Oudste na sy vriendin se familie in Duitsland en het vir die hele naweek by mense gebly wat 100% eentalig is.  “Yip having a big family meeting. First time for my parents in Halsdorf. Loads of food and many conversations lost in translation “

Dit was hoe seun die  geleentheid op sy FB opgesom het.

Aangesien hy ook op Kersdag verjaar, en ons weer vir die eerste keer in 5 jaar die voorreg gehad het om dit so saam met hom te vier, was dit vir ons baie besonders.


Die vieringe het op die 24e begin met vroeë aandete en daarna geskenke uitdeel, wat ure geneem het.  Dit het gebeur om ‘n lieflike kersboom.

Teen halfelf het ons almal oorgestap na die kerkie om die laataand diens by te woon.

Die gemeenskappie is so klein dat almal teenwoordig geweet het daar was vreemdelinge in hulle midde.

Na die diens het vriende oorgekom en tot watter tyd gekuier.  My Duits is power maar Doring moes hom totaal verlaat op vertalers en die 2 of 3 mense wat tog effense Engels magtig is.

Kersoggend laterig geslaap en laat ontbyt genuttig. Teen half-drie het die res van die familie wat in naburige dorpe woon aangekom, koffie en koek geëet en nogeens gekuier en gekuier.  Omdat dit ‘n redelike groot groep mense bymekaar was, was dit ‘n buffet ete wat weereens tot watter tyd die nag in gestrek het.

Op 2e Kersoggend is ook weer laat geslaap en laat ontbyt geëet. Omdat die familie elke jaar op Kersdag almal saam bymekaar kom, word die tradisionele warm Kersete eers op die 2e Kersdag, soos hulle dit noem, geniet.

Gestopte gans met groentes.

Die vulsel was kastaiings gemeng met sukkies appel, droë appelkosies en kruie.

Dit was my eerste kennigmaking met gansvleis – Heerlik!

Vanoggend, die 27e, was alles weer terug na normaal en ons het in die pad geval terug huistoe.

Kersfees in Leuven 2

Desember 21, 2011 in Sonder kategorie

hierdie is net ‘n paar van die stalletjies

Natuurlik die sjokolades waarvoor België baie bekend is

kersversiersels

rakke vol verligte kerstoneeltjies

ook maar foefies vir binnenshuise versiering

en die wewer vanaf Latvia

Daar was ook van tyd tot tyd items aangebied, sommige goed en ander minder goed.

Hierdie spulletjie was kleurryk maar minder goed

die totale atmosfeer kan ongelukkig nie altyd met foto’s vasgevang word nie

Hierdie is die hoofstraat wat gesluit was vir gewone verkeer, nog vroegaand met min mense.

Ek wens ek kon weet wag gaan deur die outjie wat  agterop die fiets so lekker sit en rondkyk, se gedagtes

Op hierdie noot wil ek al my blogvriende ‘n feesseisoen vol vreugde en seën toewens.

Kersfees in Leuven 1

Desember 20, 2011 in Sonder kategorie

Ons dorp se amptelike kersboom


Die boom is een oggend op ‘n lowbed aangery en in ‘n mangat ‘geplant’.



Die boom

 


 

……… in die aand


Links op die foto is ‘n bladwisselende boom waarin daar ook liggies geryg is.

Saans sien mens dan net die liggies soos ‘n geweefde web.

Die bome langs die straat is ook sonder blare en met liggies verweef.

Kyk net hoe druk word die stalletjies besoek, ten spyte van die koue.




 

 

Uniondale het ‘n spook

Desember 19, 2011 in Sonder kategorie

Tot my eie nadeel is ek die ene wat nie in ’n motor kan slaap nie.


Agter in die motor is bed gemaak vir die kinders wat nog klein was. Onthou iemand nog die luikrug Ford Escortjies? Baie plek vir bedmaak gehad. ( Moet my vandag net nie vra waar die bagasie dan was nie.)


Donker trek ons van George af weg op ons jaarlikse binnelandse wintervakansie. Die man des huises bestuur. Was seker net-net oor die Outeniquapas toe hy besluit dat hy eintlik ook nog te moeg is om te bestuur. Ek vat toe maar die wiel.


Buiten dat dit ‘n koue wintersoggend was, het daar so vlaag op vlaag drizzle ons al die pad vergesel. Agter lê die kleingoed knus en slaap. Langs my tree Morpheus ook vining sy volgende slagoffer aan. Agter die stuurwiel sit ‘n eensame siel wat moet koershou deur die grys mistroostigheid.


So paar kilometer voor Uniondale loop daar langs die pad ‘n eensame siel in ‘n lang jas wat hom teen die aanslae van die natuur moet beskerm. Hy was nog ‘n goeie entjie weg en eintlik net ‘n skim so in die swak lig.

Simpatiek dink ek daaraan dat ek minstens die beskutting van die kar het, toe ‘n ander gedagte my tref.


Kliphard kom my woorde: “Daar is sy sowaar!”

 

Langs my word hy vervaard wakker en sit vining regop.

 

Agterna vertel hy, vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde het hy ook gedink hy’t haar gesien.

Tydelik vasgevang

Desember 18, 2011 in Sonder kategorie

hierdie ouens sit net en wag vir middernag om lewe te kry en toe te slaan.

Die Kaapse joernalis

Desember 14, 2011 in Sonder kategorie

Twee seuntjies speel krieket in n parkie in Kaapstad, toe die een deur ‘n Rottweiler aangeval word.
Die maatjie dink vinnig, vat sy kolf, wikkel dit by die hond se nekband in, draai en breek die hond se nek sodat hy kan ophou.
‘n  Joernalis wat verby stap, kom nader en wil ‘n onderhoud met die seuns voer.
Hy begin die opskrif van sy berig “Jong WP ondersteuner red vriend se lewe uit bek van vreeslike dier”. 

Die seuntjie sê: “Maar ek is nie ‘n WP ondersteuner nie”.
Die joernalis vra om verskoning en sê hy het aangeneem hulle is oor hulle in Kaapstad is.
Hy begin weer skryf. “LEEUS ‘fan’ red vriend van vreesaanjaende aanval”.
Weer sê die seun: “Ek is nie n LEEU ondersteuner nie.”
Die joernalis vra:” Nou vir watter span skreeu jy?” 

Die seuntjie sê: “Ek’s ‘n Bloubul-ondersteuner.”
Die joernalis draai die blaai om en skryf:


“KLEIN TWAK VAN PRETORIA  VERMOOR FAMILIE-TROETELDIER KOELBLOEDIG.”

tweedehandse winkels

Desember 13, 2011 in Sonder kategorie

Die woonstel wat ons vir die jaar huur was geadverteer as gemeubileerd.  Ja hy is inderdaad gemeubileerd – met die heel basiese.  Wat egter ‘n luukse is, is die wasmasjien wat ‘n vorige huurder aangeskaf en hier gelaat het.  Dit word as  ‘n reël nie bygereken as standaard nie.

Beddegoed, skottelgoed,  yster, ketel en nog paar ander word ook nie gereken as standaard nie, buiten dit wat vorige huurders agtergelaat het.  Beddegoed kon by Hema aankoop word –  ‘n winkel omtrent soos iets tussen Suid-Afrika se Mr Price en Pep .  Die goed moet immers net ‘n jaar hou, daarom werk dit.  Ketel ook daar aangeskaf.

Doring was voor my hier en het ‘n goeie yster gekoop, wat ek beslis sal terugneem  huis toe.

Dan kom ons by skottelgoed.

In België word die woord ‘kringwinkel’ vir 2e handse winkels gebruik.  Is vir my nogal heel oorspronklik – die produk beweeg in ‘n kring van vorige eienaar via die kring na ‘n volgende.

Klompie messe, vurke en lepels  teen 15 sent  (R1.50 in SA geld) daar gekry.  Dis in kokende seepwater gegooi,  geskrop  en siedaar.  Hoop die restaurante se skottelgoed word altyd so deeglik skoongemaak.  Alles is natuurlik odds, dit dien egter hulle doel. 

Om ‘n stel van iets te kry is ‘n luukse daarom is ek baie trots op my bordjies.

die 6e ene het my broodjie ingehad toe ek die foto geneem het.

Vir bekers het die kettingwnkel se promosie veldtog gesorg.  Ons eet egter nou nog aan al die sop wat ons moes koop – ons het 7 bekers (enough said).

maar terug by die kringwinkel.  Daar word tot 2e handse onderklere verkoop – en ja hier is mense wat dit koop

effe anders as die normale

Desember 12, 2011 in Sonder kategorie

Daar is voorwaar nie ‘n tekort aan kreatiewe mense nie.

Laas jaar Desember was ons by my broer-hulle en skoonsus het hierdie besondere idee vir ‘n kersboompie uitgedink.

hierdie het ‘n vriendin bedink omdat sy nie onnodig geld wou spandeer nie

Dan het ek hierdie die afgelope naweek by die plaaslike straatmark gesien. 

dit kos ‘n klein fortuin, maar gee mens ‘n goeie idee om iets unieks te skep

modderkoekie

Desember 10, 2011 in Sonder kategorie

Hierdie is hier in België vir vriendin afgeneem omdat hierdie botteltjies ons die laaste ruk in Suid-Afrika so ontwyk het. 

Sy is veral so gek oor die lime.