Gistermiddag lui my Selfoon. Die dame groet en weet dat sy met miesies Van praat.
“Hoe gaan dit met mevrou?”
“Goed dankie” maar ek wonder hoekom sy wil weet
“Mevrou ek is …..(kon nie hoor wie nie), maar wil niks aan jou verkoop nie, ek wil net seker maak dat julle wel die regte diens by julle versekeraars kry en dat julle nie dalk onderverseker is nie, hiervoor wil ek net gou vir jou ‘n paar vrae vra, Mevrou, besit jy ‘n motor of ‘n huis?” Alles sommer so in een asem.
“Nee” kom my antwoord. Hoef mos nie vir haar te sê eiendom is gesamentlik op my en Doring se naam – dit was nie haar vraag nie. En om tegniese redes is motors ook op Doriong se naam. Het op daardie stadium vergeet die bakkie waarmee die kinders rondploeter is op my naam, maar ek dink sy waarde lê hier by net duskant niks. Dus het ek tegnies nie gejok nie.
“O, maar dan kan ek u nie help nie.”
Woeps, plak sy die foon in my oor neer
Het ek haar gevra om my te help???
Ander storie: Doring kry eergisteraand SMS : indien u belangstel dat ek u versekering moet hanteer, skakel asseblief vir ………
Laaste storie: Jare terug was daar klop aan ons voordeur. Dit was in die tyd voordat elke huis ‘n kasteel geword het en sy eie ringmuur moes kry.
Maak oop, vreemde man voor die deur wat homself voorstel en aankondig dat hy ‘n eiendomsagent is wat in ons buurt wil spesialiseer. Ek groet hom en sê dat ons geen planne het om te koop of te verkoop nie. Nee, hy gaan net rond, stel homself voor en ontmoet die buurt se mense. Kan hy maar gou inkom en ons besonderhede ook kry?
Plaas het ek hom weggejaag. Hy’t hom op die bank neergeplak en vertel van al sy groot suksesse as sakeman en hoe hy ons buurt gaan bemark. bla bla bla vir hoe lank.
Naderhand sê ek dat ek eintlik ander dinge moet doen, kan hy my asseblief verskoon.
Dan wil hy voor hy loop net gou my besonderhede neerpen. Dit was voor almal met laptoppies rondgeloop het.
Naam?
Miesies Van
Adres?
Hy ken die straatnaam en ek verskaf net die nommer
Telefoon nommer?
Ek KRIEWEL maar antwoord
Verjaarsdag?
30 Februarie!
En hy’t dit wragtag so neergeskryf!!
Onlangse kommentare