‘Oktober’ geresenseer in Rapport.

Dankie aan Prof Human vir die opbouende kritiek en ‘careful reading‘.

“Aanklag teen vooroordele wat al moes gesterf het

2012-05-05 12:25


Thys Human


By die eerste optel van Réney Warrington se debuutroman, Oktober, val ’n paar dinge my op: die bladuitleg is besonder lesersvriendelik en die formaat is effens breër as ander romans.

Die boek rus ook voelbaar swaarder in die hand vanweë die gehalte van die papier waarop die swart-en-wit foto’s aan die begin van elke hoofstuk en die kleurafdrukke daarvan in die middel van die roman gedruk is. 

In die kolofon lees ek Warrington, ’n bekende fotograaf, het nie net die foto’s in die fotodeel van die roman geneem nie, maar ook die twee foto’s wat vir die omslag gebruik is.

En dan besef ek skielik wat my oog van die begin af getrek het: die twee vadoeke op die voorblad en die skelrooi voorskoot op die agterblad.

Hoe interpreteer mens vandag vadoeke en voorskote op die romanomslag van ’n vroueskrywer? As moedswillige verwysing na die kombuis as bestrede terrein? 

Feministiese afrekening van die uitbeelding van die vrou as vloerlap of kaalvoet en swanger voor die Kenwood? Dalk as postfeministiese hertoeëiening van ’n eens veragte ruimte?

Gelukkig is dit die skrywer self wat tot my hulp kom. In ’n onderhoud lees ek Warrington het die foto’s laatmiddag in haar eie kombuis geneem en dat sy dit as simbool beskou van ’n warm, liefdevolle huis, ’n plek waar jy veilig en beskermd voel. Sy noem ook pertinent dat dit die soort verhouding is wat sy in Oktober wou oordra. 

Omdat daar eintlik ’n verskeidenheid verhoudings in die roman uitgebeeld word, neem ’n mens aan Warrington verwys hier spesifiek na die ontluikende liefdesverhouding tussen Jo Bester, ’n Suid-Afrikaanse fotograaf, en Leigh Osbourne, ’n Amerikaanse popsanger, wat mekaar in Johannesburg ontmoet.

Dié twee se ouwêreldse hofmakery, wat deur die uitgewer as “’n liefdesverhaal vir die 21ste eeu” beskryf word, vorm die hartklop van die roman.

Wanneer Jo ná ’n onsmaaklike familietwis alle kontak met haar susterkinders ontsê word en na Londen uitwyk, loop sy Leigh weer raak.

Omdat elkeen haar eie duiwels het om te besweer, begin hulle ’n verhouding met ’n baie besliste vervaldatum. Maar soos ons almal weet, word die hart nie sommer deur ’n datum voorgesê nie.

Gaan die steelfoto’s van Jo en Leigh wat in ’n Britse Sondagkoerant verskyn het, hul verhouding voortydig kelder? Of is hulle die gelukkige einde van ’n konvensionele liefdesverhaal beskore?

Binne die raamwerk van dié byna idilliese verhouding tussen Jo en Leigh word ’n verhaal van hartseer en gemis blootgelê aan die hand van die twintigtal foto’s waarmee elke hoofstuk begin.

Want Jo is veel meer as net ’n vrou wat verlief raak op ’n vrou; sy is ook ’n dogter wat moet toekyk hoe haar ma onder jare se hartseer vou, ’n suster wat nie weet hoe lank die gebroke lyf van haar broer gaan hou nie, en ’n tannie wat enigiets sal gee om haar susterkinders weer vas te hou.

Op Leigh se aanbeveling begin Jo foto’s neem van die dinge wat haar op die een of ander manier aan Jonathan en Ruby herinner: “Take photographs for them of the things they might like, or might have seen had they been with you. I don’t know, think of a theme. Exhibit these pictures. Make them public. Like a public photo album you keep for them. Something to find when they Google or Facebook you one day.”

Jo stel hierdie foto’s inderdaad ook later in haar werkgewer se Londense galery ten toon. Anders as die skerp gefokusde foto’s op die romanomslag is die meeste van die foto’s wat Jo ten toon stel uit fokus. Dit word op aangrypende wyse ’n testament van haar verwarring en ontreddering.

By geleentheid merk sy byvoorbeeld teenoor Leigh op: “Dit is die naaste wat ek aan hulle kon kom. Die kamers waarin hulle gespeel en geslaap het. Die vensters waaruit hulle gekyk het op die lewe.”

As skrywer is Réney Warrington op haar beste wanneer sy aan die hand van ’n paar oordeelkundig gekose woorde ’n hele verhaal of versweë geskiedenis te kenne gee.
So verkry die kort romandele ge­titel “Brian”, “Jonathan se geboorte”, “Ruby se geboorte”, “Jonathan se doop”, asook die aangrypende derde en vierde hoofstuk van die roman, ’n deurleefdheid en oortuigingskrag wat soms elders ontbreek.

Warrington het gewis ’n oor vir karakteropenbarende dialoog. 

Daar­om is dit nogal steurend dat die verteller, Jo – veral tydens die eerste ontmoeting met Leigh – haar eie woorde so duidelik vir die leser interpreteer en so eksplisiet kommentaar lewer op dit wat haar gespreksgenoot te sê het.

Die leser is, myns insiens, heeltemal slim genoeg om Jo se “galge­humor” uit haar dialoog af te lei, of om te besef wanneer iets ’n “flou grappie” is of skalks bedoel word. 

Hier en daar val Jo se anglisistiese taalgebruik ook hinderlik op die oor.

Dit is egter bysaak in ’n roman wat daarin slaag om in woord en beeld gestalte te gee aan die verskillende fasette van die liefde wat mense aan mekaar kan verbind. En terselfdertyd ook aanklag te wees teen die soort vooroordele wat ’n mens gehoop het lankal gesneuwel het!

* Prof. Thys Human is hoof van die departement Afrikaans aan die UJ.”

13 thoughts on “‘Oktober’ geresenseer in Rapport.

  1. Ek moet bely, ek’s nou vir die eerste keer lus om jou boek te lees. En gaan dit koop sodra ek weer by ‘n boekwinkel kom. Goeie artikel oor resensies. Dankie.

  2. hi.

    na ek lank nagedink het oor die saak het ek twee dinge geleer uit die artikel.

    1. laat ander mense skryf oor my werk wat hulle wil.
    2. my resensies van ander mense se werk (meestal film) kan verbeter.

  3. Ek het vandag gaan kyk by Exclusive Books, Cresta, die rekenaar wys daar is een eksemplaar, maar die verkoopsmeisie en ek kon dit nie opspoor nie 🙁

Leave a Reply

Your email address will not be published.