Jaco van der Merwe – die cool Dutchman

Daar was net een boom by RAMFEST hierdie jaar. Een boom wat Vrou se hangmat kon akkommodeer. En onder daardie boom, in haar hangmat, het Vrou dan die hele dag saam met die wind en alternatiewe musiek gewieg.

Sy het dit egter alles opgegee. Die gemak, die wind deur haar hare en die bands op die main stage, toe sy Afrikaans van die dance stage af hoor pomp. Dit is hoe ons met Bittereinder, hangmat opgerol onder die arm en heel oorbluf, kennis gemaak het.

Toe die kwessie van gasspreker kort daarna opkom by die groepuitstalling, Ik ben een Afrikaner, was Bittereinder ons enigste voorstel. Nie oor Jaco (nogal) soos ? boertjie lyk nie. Nie oor sy bokbaardjie of sy ordentlike manier nie. Oor Bittereinder in Afrikaans rap, oor hulle vrek goed is en oor hulle, ek dink, die progressiewe jong Suid-Afrikaner gaan trek.

Die Financial Mail het die volgende oor sy optrede geskryf. ‘Jaco van der Merwe of Bittereinder fame performed two poems that, while lyrically playful, underscored the difficult existential question at the heart of this exhibition: “Weet ek wie ek is?”’

 


Natuurlik moes ek meer weet en ek het ek met Jaco, lead vocals van Bittereinder, oor ? louwarm Windhoek Light gesels.

Ek hoor jy is ‘n onnie?

Ek is ‘n voltydse Graad 9 tot 12 Engelse onderwyser by ‘n privaat hoërskool in Brits.

Weet die kinders wat jy na ure doen?

Ja, ja, hulle almal dink ek is n moerse celeb. Nadat ons die SAMA gewen het vra hulle vir my handtekening. Dan se ek gaan kyk na die laaste keer wat ek jou boek gemerk het, sny dit uit en plak dit teen jou muur. (Jaco kry skaam.) Ek het ‘n goeie verhouding met die kinders.

Jy is seker ‘n goeie rolmodel?

Ja, seker, ek weet nie.

Hoekom in Afrikaans rap?

Sjoe. Ek was in Engelse skole. Al my vriende, meisies was Engels. My hele grootword was Engels, maar my huistaal Afrikaans. At the turn of the century, was dit nie die mees populêre ding om ‘n Afrikaner te wees nie.

In water area?

Pretoria. Die skool was klaar geïntegreerd, daar was swart en wit kindertjies. Ek het nie regtig geweet wat Apartheid was nie, maar geweet om ‘n Dutchman te wees, is soos die uncool-ste ding op die aarde. Obviously as klein seun het ek daardeur seergekry en het ek dit verwerp. Ek het my kultuur, my mense ge-judge en weersin daarin opgebou. Ek het nooit Afrikaanse musiek geluister nie. Ek het eers begin luister na Polisiekar, Straatligkinders…

Wat was daar in elk geval voor dit, behalwe Kerkorrel en kie, wat decent was?

Daar was ‘n gap. Daar was Koos Kombuis, Valiant, maar ek het na metal geluister op hoërskool. Daar was nie Afrikaanse metal bands nie.

Ek moet môreaand ‘n show van Valiant en Anton L’Amour resenseer. Hoe is Valiant live?

Hy is flippen cool. Hy is so goeie performer. Daai dude is ‘n classic, die real deal. Hy is soos ‘n behoorlike persoonlikheid. Hy is ‘n regte kunstenaar en sy lirieke is vlymskerp. Nee, hy is cool.

Sorry ek het jou in die rede geval.

Ja ons is besig om te praat oor my verwerping en seer. (Jaco veins die verwerping met ’n glimlag en sy hand op sy hart.) So jy kan my maar weer in die rede val. Anyway, ek maak al musiek en doen gigs van ouderdom 15 af. Op hierdie stadium het ek al meer as 700 shows gespeel. Dit is besides the point. Ek was besig om te se?

Hoekom Afrikaans?

O, ja, ja. Vir lank het ek in Engels geskryf. Ek het in Engels gedink, getel, gedroom. Selfs nou is my Engelse woordeskat ses of sewe keer groter as my Afrikaanse woordeskat. In matriek het ek ‘n A gekry vir Engels as eerste taal, en ‘n A vir Afrikaans maar as tweede taal. Afrikaans was my tweede taal. Jy kan maar skryf oor daardie A’s. (Jaco lag.) Saam met die SAMA is dit my twee grootste achievements in die lewe. Ek het ‘n verdere A gekry vir kuns. Maar ook drie D’s. Moenie daaroor skryf nie.

Was dit dalk vir Wiskunde?

Wiskunde, wetenskap en geskiedenis. Ek hou eintlik van geskiedenis. Ek was pissed off oor daardie D. Maar anyway, in 2005 is ek Holland toe waar ek baie rappers ontmoet het. Vir hulle is dit nie weird om in Engels en in Hollands te rap nie. Party ouens rap net in Hollands. In Spanje is daar Spanish rap. In Frankryk is daar French rap. Almal rap in hulle eie taal. Die ouens in Holland het vir my gevra, So rap jy in Afrikaans? Dit was vir my ‘n skok. Wat? Wat bedoel julle? My antwoord was, Nee, moenie stupid wees nie. Maar hulle het nie verstaan nie.

Hulle het nie daardie stigma wat aan hulle taal kleef nie.

Glad nie. Daar is massive hiphop culture in elke land en oral rap mense in hulle eie taal. Toe tref dit my. Daar is niemand wat dit doen in Afrikaans nie. Ek en al my vriende het altyd grappies maak daaroor. ‘Ek en my meisie bly in ‘n huisie’. Dan crack almal op.

In 2007 is dit asof iets net in my wakker word en ek besef ek moet net probeer. Selfs al is my woordeskat klein. Ware Verhaal is die eerste song wat ek toe in Afrikaans skryf en daarin sê ek, ‘stilletjies bekruip ek hierdie onbekende grond met my woordeskat en ritme soos ‘n geweer en ‘n waghond’. Dit is al wat ek gehad het – ? klein woordeskat en bietjie ritme, so ek ‘bekruip hierdie onbekende grond’. Dit het my ‘n jaar gevat. Ek het die chorus eerste gekry – ‘sê tog die musiek beteken nog iets as hierdie ding so erg gebreek is, sal ons dit ooit kan fix?’ is die eerste Afrikaanse lyn wat ek ooit geskryf het.

Onthou daardie tyd het Jack Parow, Die Antwoord nog nie bestaan nie. Daar was nie n frame of reference nie. Ek kon nie kyk watter woorde is cool en uncool as jy dit rap in Afrikaans nie. Daar is nie ‘n lingo nie, daar is nie jargon nie. Ek moes dit alleen uit-figure. Toe bou ek voort op my tien jaar se Engelse rap en ek fokus op dieselfde ding – conscious poetry.


Hoe sit jy die lirieke bymekaar?

Hoe vra jy ’n skilder, Hoe verf mens soos hoe jy verf? My antwoord: Ek weet nie. Met die jare ontwikkel jou eie styl – jy luister na ander kunstenaars wat jou inspireer, “steel” dinge by hulle en bou daarop. Rap is ’n baie diverse tipe digkuns, met baie plek vir humor, sosiale kommentaar, baie ritmies, baie gefokus op rym – rym kan ’n baie goeie leidsman wees vir enige tipe poësie, maar rym moet nie die meester word nie.

Elke liedjie se skryfproses het maar sy eie storie en agtergrond, party skryf ek oor ‘n periode van maande, ander in ‘n halfuur. Ek krap baie dood, skuif paragrawe en lyne rond, verander rymwoorde, ens. Ek het met tyd die vrugte van gereeld en hard edit leer ken.

Ek voel nie ek sê hier iets wat meeste mense nie self al besef het nie. RAP staan vir Rhythm And Poetry. Dis waarin ek glo, dis hoe ek dit benader, dis hoe ek rap, skryf en optree.

Waar kom Bittereinder vandaan?

2008 het ek en Peach deur Pole getoer as Ajax. In 2009 was dit vir my obvious dat ek saam met hom moet werk. Ons het oorspronklik vir Louis genader vir die visuals, want in die 21ste eeu moet elke band realisties wees en besef dat branding belangrik is. Ek praat nie regtig van image nie, want image is vir my ‘n baie vlak ding, maar ek bedoel soos website, flyers, videos…

En die covers van CD’s?

Presies.

Nadat ek julle een song by Rafmest sien opvoer het, het ek na die CD stalletjie gestap en gevra om dit te sien.

Daardie maag op die cover? Dit is Louis se maag. (Jaco giggel.)

Die branding is wat my oortuig het om ons geld te oorhandig. Dit lyk na ‘n professionele produk.

Louis is baie professioneel. Ek voel definitief soos die weak link in die chain met daardie twee. Hulle is geniuses.

Jy doen die lirieke. En dit is poësie.

Dankie. Maar met daai twee, Peach van Pletzen en Louis Minnaar, dit is ridiculous eintlik. Hulle is soos Masterminds. Gaan Youtube net vir Louis. Jy gaan vir ‘n halfuur daar met jou mond oop sit.

Anyway, Louis het self net begin elektroniese musiek maak. Toe besluit ons, terwyl Peach nou so besig is met aKing, Van Coke en Tumi, dat ek en Louis aan skeleton idees begin werk. Hy maak net rof beats dan kan ek my lirieke begin neerlê. Toe is Louis so undiscovered musical genius. Songs soos ‘Wakker word’ saam met Inge Beckman het Louis amper alleen produce. Hy het regtig geblom.

Vir ons al drie is Bittereinder meer as net nog ‘n projek. Dit is soos deel van ons identiteit. Wanneer ek op ‘n stage stap saam met Bittereinder is dit anders as enige iets wat ek al ooit gedoen het.

Iets het ge-click?

Ek voel soos heeltemal lewendig. Asof Bittereinder dit is wat ek die heeltyd veronderstel was om te doen. Dit is amper soos ‘n heilige ding.

Daar is religieuse undertones/beeldspraak in julle musiek (“dis ‘n stem wat God ken, ‘n suiwer stem wat duidelik praat oor Hom en ek onthou in ‘n oomblik aan wie die woorde regtig behoort die Begin en die Voleinder van elke noot, elke woord) asook in julle ‘about’ afdeling (Bittereinder’s music … French kisses your ideas about God.) Wil julle bekend staan as ‘n gospel band? Is dit maar een faset in ‘n komplekse groep idees?

Ons wil nie bekend staan as ‘n gospel band nie. Ons probeer om so min as moontlik “labels” te attach aan wie Bittereinder is – ons wil verskriklik graag hê die musiek moet self praat sodat ons nie te veel hoef nie. Op die manier kan almal op die planeet (wat Afrikaans kan praat) na ons musiek luister sonder verwagtings in een of ander rigting, en sonder om eers deur 30 “labels” te worstel voor hulle die musiek regtig kan hoor vir wat dit is. Ons hou daarvan as mense dink oor musiek en oor lirieke, dis deel van wie ons is en wat ons verteenwoordig.

“indien jy ook nie kan glo, verdien ons tog die antwoord, ek’s jammer julle maar daar kan net een antwoord wees en ek belowe jou hy lê nie in daai onheilige gees nie” Is dit ‘n klap na Die Antwoord toe? Wat dink jy van hulle?

Ek dink as mense 1,000 jaar van nou af die aarde se samelewing in 2011 wil verstaan, hoef hulle net Die Antwoord se album te koop en 1 keer deur te luister. Ek hou nog altyd baie van wat Waddy doen, van Songs From the Mall tot The Fantastic Kill. Ek het die diertjies vir Good Morning South Africa ook ge-love. Hy verdien genuinely elke oomblik en elke sent van sy sukses, daai man werk al flippin lank flippin hard, en hy’s ‘n baie intelligente rapper.


Waaroor gaan ‘Die Waarskuwing?’

Ek dink elke goeie gedig moet selfstandig wees, ‘n “aparte” ding, nie meer deel van die digter nie. Ek interpreteer self Die Waarskuwing elke nou en dan op ‘n nuwe manier.

“vir lank het ek gedink geskiedenis forseer my om verleë te reageer wat het ons geword? ‘n horde verneukers wat kla en alles blameer behalwe onsself, miskien is die skuld regtig al te diep ingedelf, en ek weet ek is dieselfde ‘n skynheilige stem wat saamswem in die modder, maar goeie donner ek sien nie meer een positiewe gedagte hier onder nie blanke skaamte, jy weet nie wat jy doen, jy breek af aan alles wat ons versoen” Verwys jy na die Afrikaners? Is jy ‘n Afrikaner? Wat dink jy beteken dit vandag?

Ja, ek is definitief ‘n Afrikaner. Ek is bewus van die tegniese moeilikhede rondom die definisie van presies wat en wie ‘n Afrikaner is, en of daar enigsins so iets bestaan, maar ek dink dit is wie en wat ek is, ‘n seun van Afrika se enigste wit stam. My mense ken die veld en die bos van hierdie land, dis in ons bloed. Ons behoort nie in Europa of enige ander plek nie. Ek vind maar saam met almal anders uit wat dit vandag beteken.

 

Vir meer info oor Bittereinder besoek www.bittereinder.com.


2 thoughts on “Jaco van der Merwe – die cool Dutchman

  1. Ek sê weer dat rap nie my geliefkoosde genre is nie, maar hierdie groep sal ver kom met hul intelligente rap-poësie. Hulle haal dalk uiteindelik die “coarse and twisted” uit die “hairyback”-stigma van Afrikaners uit. Dankie, ek het iets geleer, vandag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *