Eers die vreugde, dan die droef: ’n Lykdig

February 16, 2021 in Uncategorized

Hierdie tweede LAPA/Litnet-blog vir 2021 is iets anders as die gewone soek na sin deur sinne te maak, en sinne te bou. Hierdie is ’n lykdig, ’n huldeblyk, ’n klaaglied, vir ’n slagoffer van Covid.

Eers die vreugde,

dan die droef

’n Lykdig,’n huldeblyk, ’n requiem, ’n klaaglied, ’n treurlied

Jy,
my vriend,
huilmaat, stapmaat, skryfmaat, kameraad
Piérre

jy
wat nie meer hier is nie

onthou jy
hoe het ons gesê?

HOE as werkwoord
HOE kom ons deur die vallei van verlatenheid
HOE kom ons oor die vlaktes van verdriet
HOE maak ons sin uit hierdie weemoed
hierdie loodkombers?

ons, Piérre
ons
het aan die mees eksklusiewe klub behoort

een waarvan niemand
nooit
ooit
deel van wil wees nie

ons wat ’n kind aan die siekte verloor het
wat sommiges nie eens kan uitspreek nie
die d-woord
depressie
’n fatale depressie
wat lei tot ’n woord wat stol op mense se tonge
die s-woord
selfdood

Nee
kom ons herformuleer
sê ons
oor en oor:
ons so geliefde
o so geliefde kinders
het aan ’n terminale depressie gesterf
soos wat ander aan ’n terminale kanker sterf

maar ons
Piérre,
jy en ek
was selfs nog meer melaats

ons het ook elkeen ’n broer verloor
’n broer wat ook aan die s-woord gesterf het
dubbel-melaats
vir ander wat nie oor hierdie kanker van die siel kan praat nie

en nou, Piérre?

nou is jy ook weg
nou het ook jy deur die dun membraan
tussen lewe en dood geglip

weg in die altyd van ewig
sterstof in die ewigheid
nog ’n statistiek van hierdie virus
op Dag Soveel was daar soveel slagoffers

jy was een van hulle

maar vir jou geliefdes
was
ís
blý
jy
eggenoot en pa
seun en broer
swaer en neef en oom
vriend, kameraad, kollega

HOE het ons dan tot hier gekom?
sê my hoe
Piérre?

jy
die Man’s Man
roekelose recce
in ’n vorige lewe sou jy die Camel Man wees
aksieman
jy
wat so fiks en so sterk was?

maar ook die top-atleet
wat gedigte skryf
diepseun, ja

wat drie en ’n bietjie maande gelede ’n bundel verdriet
oor jou kind gebundel het
profeties, nou, die titel, nè

Vertrek

hoe sou ons toe kon weet net drie en ’n bietjie maande later
sou ook jý vertrek, Piérre?

hoe moet Arina en jou seuns
hul weg deur die wêreld
vind sonder jou?

hoe moet jou bome en jou tuin
nou verder groei
teen Nonna se hange
sonder jou
wat met sonop en sononder eers vir almal gaan groet
Oubaas se honne aan jou voete
jou pragtige paradys
vir jou geliefdes geskep
wat ver oor die Breederiviervallei kyk
tot daar waar die berge se blou
en die horison se blou
se einders mekaar omhels

hoe moet Klein Fontein se mense sonder jou aangaan?
hoe dink jy, Piérre?

as ons
wat in jou verder omtes deel van jou menswees was
jou weggaan tot anderkant die kamers van ons harte voel
hoe dan
vir jou Arina,
met wie jy saam die smart van jul Johs gedra het

hoe, Piérre,
moet Arina nou haar dubbellading smart dra?
en jou seuns
Piérre,
hulle wat nou rondom twee kraters
hul jongmenslewens navigeer
wat verder aan ’n toekoms
sonder hul middelboet
en nou ook sonder jou
moet bou?

terwyl jy so ’n lieflike paradys vir julle geskep het
Piérre
waar jy saans op jou stoep kon sit en
luister na die voëls se aandgesange
– opgeneem op ’n whatsapp en aangedaan aangestuur –
die wind in jou bloekoms se blare
die berge
agter en langs en doer ver voor jou

repos ici
het jy op Klein Fontein se hekpilaar geskryf
jy
die soeker wat nie kon vind
swerwer
wandelaar tussen woord en wêreld
wat
repos ailleurs
ánderkant
wat die oog kan sien,
en
ánderkant woorde
gaan soek het

daar, minstens,
was jou repos ici

maar nou is dit repos ailleurs vir jou naastes, Piérre
hulle vir wie ons nou net woorde
as troos kan aangee
soos wat ons oor soveel jare
vir mekaar
woorde heen en weer gegee het

want
HOE
Piérre
kan jy net weg wees?

jou kind se boek

Die Boek van Johs
Vertrek
op jou kring van naastes se bedkassies
ons wat nou deur nóg meer trane
weer lees
herlees
ná jou vertrek
ná jou kind se vertrek

al daardie woordpaaie wat jou verdriet
jou laat neem het
gewhatsapp
saans
soggens
smiddags
die pyn
hierdie verdriet
hierdie weemoed
onhoudbaar

en nou is ook jy deel van die ewigheid

en ons verstáán nie
Piérre

die begaafde so talentvolle so briljante
ortopeed
wat ook mense se harte kon dokter

die
skilder
wat met kwas en kleur
pen en penseel
landskappe op doek laat lewe het
die ortopeed
kenner van anatomie
wat in ’n figuurstudie
die ritmes van die liggaam perfek kon pas
en jou portretstudies
ja
ook jou reeks van Afrikaanse digters

want dié was jy ook
digter
woordkunstenaar
wat met woorde
weemoed aanmekaar geweef het
vir ons minder begaafdes
immers

in Vertrek weerklink jou liefde vir die woord:
ons hoor Totius, Wyk Louw, Eybers

en toe

jy, Piérre
laat weet begin Desember:
“Die kiem het my.”

en hoe jy tuinterapie doen
foto’s van jou beet en raap
jy vertel hoe jy met jou bome praat
o ja, ook:
jy het die virus in ’n dubbele Nelson
wyl jy intense gesprekke met jou bome voer
“Dis ware vreugde”
whatsapp jy

jy wat nog uitvra oor my boek
ag, Piérre
antwoord ek
dis mos maar eintlik
net van akademiese belang
maar newwermaaind
jou en Arina se eksemplaar lê op my tafel
ons moet nou net bymekaar kan uitkom
hy wag geduldig op julle tot ons weer kan sien
jul name op die koevert
hierdie virus
moet nou net eers die wyk neem

jy:
“Dankie. Mis jou baie.”

my antwoord:
ja, my vriend, ons mis mekaar
maar Piérre,
ons sal onsself nooit weer vind nie
ons het ons kinders verloor
ons het ook onsself verloor
want as ’n kind sterf
sterf ook die ma en pa

jou antwoord:
“Te midde van soveel voorregte, beskutting, gesprek, inkomste en nog baie.
Die onvermoë ooit weer gelukkig te wees.”

Ek vertel van ’n dokterkollega
ondenkbaar
wat haar tweede kind verloor het
die eerste aan die kanker van die siel
die tweede aan die kanker van die liggaam

Jy:
“Ek sukkel om dit te hoor.”
“Te hard en te hartseer”
skryf jy
“Dis te veel. Te veel.”

al hierdie weemoed
Piérre
wat soos ’n meteoriet
op ons afkom

op Saterdag, 12 Desember,
hierdie van jou:

Curriculum Vitae
“Gee my ’n papier
met wynvlekke
swart vingervlekke
omgekrulde hoeke
plek-plek geskeur
onvolledig
’n bladsy
uit ’n
ou koerant
want as ek dan
die waarheid
moet skrywe
laat ek dit
op eerlike papier
skrywe
sonder ’n uitveër
en sonder klein blou lyntjies”

Dieselfde dag, ’n tweede:
2 Tim 4:7
“Ek het die goeie stryd gestry
Ek het die wedloop voleindig

Hoe bekyk mens
die einde
wanneer dit insink
dat sketse en planne
verhoudings en lywe
blou lug en skoon seewater
mense op perde
penne
soos dié een
skoon skryfpapier
geen geordende
Godsbepaalde
vredige
voleinding
bereik nie

dat dit ewig onvoltooid
onrustig
met leë hande
sal bly
en ons
die gelukkiges
(onder kluite)
dit
genadiglik
nie hoef te leef nie”

my antwoord:
die sleutel, Piérre,
vir my
is in jou “ewig onvoltooid”
dit waarmee ons elke dag stoei
en:
dankie vir die deel

Jy:
“Dankie vir die saamloop.”

ons prate
praat
soos tog maar altyd
min weet ons die dae is getel
die horlosies tik
maar eintlik
sou ons toe gesê het
as ons geweet het:
ons weet mos ons dae is getel

soos ook myne
terwyl ek hier skryf

net daarna, in nog ’n gedig
dié keer van langs die see
jou smag na jou Johs-kind:

“ … sou ek
na al die jare
hier
op hierdie rotse
in hierdie wind
sy stem
iets van hom
miskien
kon vind?”

op 28 Desember stuur ek vir jou en Arina
die lieflike seën waaroor Max duP in Vryeweekblad skryf:

Lesotho se nasionale spreuk is
Khotso, Pula, Nala
Vrede, reën, voorspoed
ons soek en vind dit in medemense soos ons
wat weet wat die onvrede van die siel is
die droogte van ’n dor bestaan
en
die teëspoed van die uiterste verdriet beleef het
Vrede, reën, voorspoed
vir jou en Arina en jul onderdak se geliefdes

Jy antwoord met ’n Leonard Cohen-aanhaling:
“My songs have come to me.
I’ve had to scrape them out of my heart.
They come in pieces at a time and
in showers and fragments and
if I can put them together into a song and
I have something at the end of the excavation
I’m just grateful for having it.”

Op 29 Desember skryf jy
julle het op Kleinbaai aangekom

maar
“Ek is weer olik.”

op Oujaar, jou laaste gedig,
maar ons weet dit nie
die horlosies tik

Oujaar
“Ag ek het gedink
om vir jou, Lizette
’n oujaarsvers te skryf
hoekom
wil ek nie nou
na grawe nie
hier
op my geleende stoep
kan ek vêr oor die kaai
die meeue hoor roep
ja,
ook ná my
sal ons maar net
hande vat
hier,
op die seesand gaan sit
seuntjies
met lyn en kurk
klein plastiekemmertjies
vol seewater
en geluk
klein voetjies
wat die vlak water beproef
eers die vreugde
en dan die droef?”

My oujaarsverdrietige antwoord
dankie, dierbare vriend
dankie
maar ek weet nie of ek nog ’n oujaar kan deursien nie
ek kan nie nog ’n jaar sonder my kind nie

Jy:
“Ons kom in 2021 bymekaar asseblief.
Mekaar nodig.
Dankie vir antwoord.”

Ek:
ja, ons maak ’n plan in die jaar onses levens 2021
gelukkig
die hele jaar om die plan te maak

maar op 2 Januarie skryf jy:
“Update: huistoe gery.
Wag vir CXR en bloede.
Laaste twee nagte was sleg.
Rigors en temp pieke ++++
Gaan anti ligg doen en depper herhaal.
Internis opinie is steeds COVID.
Mooi bly.”

dieselfde dag:
“Toegelaat. Hoop dit draai!”

my antwoord
terwyl die benoudheid om my vou:
ek hoop jy kan nou daardie so nodige rus
vir liggaam en siel kry

sodat jy hierdie dem virus kan wen

en:
dink aan jou
stuur armsvol energie en krag
om deur hierdie diep drif te kom

Jy:
“Dankie vir soveel liefde. Beteken baie.”

en op 5 Januarie,
wat jou tweede laaste boodskap sou wees,
net
ons het dit nie geweet nie:
“Môre Lizette
Dankie vir die onderskraging.
Hopelik vanmiddag huistoe.
Ek is definitief beter. Mooi dag!”

en jou laaste boodskap
my vriend

ons het dit net nie geweet nie

’n enkel kloppende hart
wat nou in die kuberruim
vibrerend verder
klop en klop en klop

daarna hou Arina ons op hoogte

Piérre se koors
het weer opgevlam
suurstofsaturasie laag
terug in hospitaal
binneaarse antibiotika
gaan bietjie beter
gaan nie beter nie
oor na ICU
Piérre te moeg om vol te hou met die CPAP-masker
gaan hom sedeer
intubeer
aan ventilator koppel
en
en
en

en Saterdagoggend 16 Januarie
een dag voor jou 62ste
die werklikheid wat al dae lank klop in die kuberruim:
“ons harte is gebreek,
ons het laasnag vir Piérre verloor”

En nou,
Piérre?
Nou skryf ek vir jou hierdie simpel ding
Piérre
’n lykdig
verskrikking
’n huldeblyk
dubbelverskrikking

die dodemars het begin
ons het dit net nie gehoor nie
want ons wou nie

so stop nou die horlosies
laat die honde ophou blaf
die dodemars het begin
hoor jy ook hoe sag die tromme roffel?

HOE nou
Piérre?

eers die vreug
dan die droef?

repos ailleurs?
repos ici?

requiescat in pace

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *