Ek was, ek is, ek sal wees

January 21, 2021 in Uncategorized

Die straataansig van Chanel Miller se kunswerk in die San Francisco Asian Art Museum.*

Nuwejaarsvoornemens? Wat praat jy van nuwejaarsvoornemens? Was mos glad nie ’n nuwe jaar met nuwe energie nie? Waar wil jy hê moet voornemens vandaan kom?!

Jy’s reg.

Eerlik gesê, ons gaan die jaar eintlik selfs meer lam en letargies binne as wat ons die oujaar uitgestrompel het. Eintlik stom. Met voete wat lood geword het. Met hierdie virus wat ons in sy tweede golf onderstebo geslaan het. Met immer-teenwoordige angs oor die variant wat so onsigbaar wag om jou uit te vang. Soos wat hy nou al met soveel bekendes en onbekendes gedoen het. Méér: Voorheen het ons skaars van mense geweet wat die virus gekry het. Nou is dit ’n geval van die oorlog kom huis toe. Nou is dit geliefdes wat siek word. Wat sterf. Wat aan ventilators tussen lewe en dood swewe.

So wat praat jy van energie? Laat staan van om te kom met nuwejaarsvoornemens?

Nee, suster, bly ver. Ek en my hopie verdriet is al wat ek kan verduur. Nuwejaarsvoornemens is eenvoudig te banaal. Om iemand ’n voorspoedige nuwe jaar toe te wens, klink mos sommer vulgêr, man. Hoogstens kan ons hoop op goedheid en gesondheid. Veral laasgenoemde.

Ja, en so is dit. Ons het net genoeg energie vir die hier en nou. (En, o gee my krag, praat tog nie uit jou beurt van beurtkrag nie …)

Maar wag. Ons is Suid-Afrikaners. Ons KAN. Want Suid-AfriKANers KAN.

Kopiereg: C Miller, Asian Art Museum, San Franciso

Tel op jou kop. Daar ís hoop. Kyk net na die illustrasie hierby, eintlik ’n lyntekening: “Ek was. Ek is. Ek sal wees.” So eenvoudig. Maar so raak. Maak dit jou inspirasie vir hierdie hele 2021 wat so meedoënloos voor ons lê.

Die kunswerk is deur die Asiaties-Amerikaanse Chanel Miller. Sy is in 2015 as student op die kampus van die Stanford Universiteit verkrag – iets waarmee ons kampusse en ons samelewing met alomteenwoordige gender-gebaseerde geweld kan identifiseer. In die hofsaak daarna was sy as “Emily Doe” bekend. Haar anonieme getuienes het viraal gegaan. Binne vier dae is dit 11 miljoen keer gelees. In 2019 het sy ’n pryswenner-memoir onder haar eie naam gepubliseer: Know my name. Verlede jaar het San Francisco se Asian Art Museum ’n kunswerk van haar uitgestal, sigbaar van die straat af, want die museum is natuurlik ook toe weens Covid. Die muurskildery is 21 m lank and 4 m hoog, elke skets met sy titel van “I was”, “I am”, en “I will be”. Miller se woorde resoneer met die woorde van die anti-oorlog-aktivis Rosa Luxemburg wat op 15 Januarie 1919 deur die proto-Nazi Freikorps in Duitsland vermoor is. Die aand voor haar dood, en bewus daarvan dat sy die volgende oggend tereggestel gaan word, het sy geskryf: “Ich war, ich bin, ich werde sein!”. Ek was, ek is, ek sal wees!

As daar ’n boodskap vir ons in hierdie tyd van Covid is, dan’s dit hierdie een. Knip hom uit, plak hom voor jou waar jy werk, of op jou yskas. “Ek was, ek is, ek sal wees.” Want ons sál oorkom. Daardie dam trane waarin ons ons bevind: Ons sál uit hom opstaan. Maak nie saak wat gister gebeur het nie. Maak nie saak wat vandag gebeur nie. Môre is ’n nuwe begin. Môre sal ons weer opstaan.

Dis reg: Reflekteer oor wat verby is; wees bewus van die nóú. Maar doen dit alles met wat jy weet wat kan wees. Stel jou ’n nuwe môre voor, een waar ons van voor kan begin. Daardie skoenlapper wat uit haar beklemming breek. Die toekoms wag. Ondanks die kettings van Covid; dis alles net tydelik. Want: Jy was. Jy is. Jy sal wees. Skraap nou al jou energie bymekaar om selfs net hierdie prentjie uit te knip en iewers te plak waar jy dit kan sien. Dis genoeg vir vandag. Want môre is nog ’n dag.

* Fotobron: https://exhibitions.asianart.org/exhibitions/chanel-miller-i-was-i-am-i-will-be/

1 response to Ek was, ek is, ek sal wees

  1. Dankie Lizette. Ons het almal inspirasie nodig om hierdie nuwe jaar mee aan te pak. Alles is net so deurmekaar. Onwerklik. Ons word verswelg deur ware nuus en fopnuus en watter een is erger? Ons weet nie meer wat om te glo nie. Mense is gefrustreerd, moeg, moedeloos en word armer by die dag. En het bitter min hoop vir die toekoms. Maar al is die hoop hoe min, is dit nog daar. Hierdie woorde, geskryf deur n anonieme persoon het baie vir my beteken: HOPE is hearing the music of the future. Faith is dancing to it now. Ek dink jou skrywe sal ook vir ander baie beteken. Wel gedaan, Lizette!

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *