You are browsing the archive for 2020 November.

As jy vermoeid en belas is … skryf

November 30, 2020 in Uncategorized

Foto: Dean Moriarty | Pixabay

As hierdie Covid-jaar ook vir jou nou net te lank en te nimmereindigend voel, gebruik daardie laaste bietjie energie en tel ’n pen op, of gaan sit agter jou rekenaar. Begin skryf.

Die ganse mensdom was seker bitter lanklaas kollektief so uitgeput, so teen die grond, so gedaan, en ja, so der dagen zat, soos hier aan die begin van die laaste maand van ’n jaar wat in ’n diep donker gat afspiraal het. Terwyl ons mekaar aankyk en vra: Waar het die tyd verbygevlieg? Hoe is dit moontlik dat ons almal intussen ’n jaar ouer geword het? Nee. Eintlik ’n hele leeftyd afgelê het? En tog is dit of tyd gaan stilstaan het?

Bomskok. So voel dit. Asof liggaam en siel gebombardeer is deur ’n fisiese aanval en ons eenvoudig kláár is. Al van daardie eerste mid-Maart-aankondiging, letterlik op Sondag, 15 Maart, wat in Shakespeare se Julius Ceasar verewig is deur die waarsêer se waarskuwing van “Beware the Ides of March”. Óns Ides van Maart was op Sondagaand 15 Maart toe ons president die ramptoestand afgekondig het. Gevolg deur die volgende Sondag se aankondiging van diepgrendel wat 26 Maart sou begin. As jy jou skool-Shakespeare wil verfris: Die waarsêer het in Julius Ceasar die keiser gewaarsku om op te pas vir die “Ides van Maart”, oftewel 15 Maart. Wat nie gehelp het nie, want Julius is toe op 15 Maart vermoor. Een van sy moordenaars was een van sy beste vriende, Brutus. Wat weer gelei het tot die frase “et tu, Brute” wat gebruik word as ’n getroue vriend jou ondergang bewerk.

Maar skool-Shakespeare daargelaat.

Hier is ons nou soveel maande later, en ons ly kollektief aan bomskok. Vra rond, en hoor die lamentasies van hoe mense net nie meer kan byhou nie. Kyk rond, en sien hoe desperaat almal bokant hul maskers uitloer. Asseblief, laat hierdie virus tog net ons en ons naastes verbygaan.

Miskien gee ons gemoedstoestand vir ons iets van ’n idee van hoe mense moes gevoel het ná die Tweede Wêreldoorlog met alles rondom hulle in ruïnes. ’n Puinlandskap. Nee, ’n pynlandskap. Met geen kos nie, en geen dak oor hul kop; verhale van ma’s wat gras gekook het om as bredie vir hul kinders te kon gee. Uitgebom, letterlik en figuurlik.  

Ons situasie is ver daarvandaan, maar tog voel ook ons “uitgebom”. Terwyl ons eintlik maar net ’n glimps kan kry van hoe erg so ’n trauma en tragedie moes wees, het die koronavirus tog ’n Derde Wêreldoorlog van ’n ander aard veroorsaak sonder dat ’n skoot geklap het.

Mense wat hul lewens verloor het. Mense wat hul lewensonderhoud verloor het. Menslike en ekonomiese rampspoed oral. Besighede tot niet; paaiemente wat nie meer betaal kan word nie want daar is nie meer ’n maandelikse salaris nie. Alles wat afgestel of uitgestel moes word, van kunstefeeste tot troues.

En van dit alles is ons die roadkill, die hasies in die hoofligte wat nie betyds uit die pad kon kom nie. Covid wat álmal van ons psigies aangetas het. En hoe.

Maar tog ook dankbaarheid wat ’n nuwe betekenis gekry het. Dankbaarheid vir wat ondanks alles tog nog kon reg afloop. ’n Kind wat matriek kon skryf. ’n Ma wat darem nog ’n werk het, al is dit nou teen half-betaling. ’n Bejaarde pa wie se operasie uitgestel is weens Covid, sy pyn en ongemak by die dag meer, en toe breek die oomblik tog aan dat die hospitaal weer kon “oopmaak” vir normale mediese prosedures.

En daarom, jou “opdrag”, al voel dit dalk te veel gevra: Skryf.

Klits jou korona-kuur saam uit die hele alfabet met al sy moontlikhede. Gebruik letters en woorde en sinne en paragrawe en skryf oor hoe jy hierdie jaar beleef het. Óórleef het.

Ja, almal wat vermoeid en belas is, neem die pen op, of gaan sit agter die rekenaar. Skrýf oor die Tyd van Covid. Laat jou gedagtes hul loop en hul afdraaie en kronkelpaaie neem om uiteindelik tog by ’n tuiskoms uit te kom.

Skryf hoe jy voel. Skryf wat jy beleef. Wat jou grootste uitdagings was. Wat die klein plesiere was, die vreugdes. Ondanks die verdriet. As jy ’n geliefde verloor het in hierdie tyd: Maak dit ’n huldeblyk aan iemand wat jy altyd in jou hart sal dra, wat altyd deel van jou sal wees. Skryf oor die Tyd van Covid en ontdek dat jy ’n klein bietjie sin kan maak met die sinne wat jy maak.