You are browsing the archive for 2020 August.

Jou Covid-dagboek

August 6, 2020 in Uncategorized

As jy ook nou al so ietwat moeg is om te hoor hoe almal Die Pes van Albert Camus aanhaal (hy was joernalis, filosoof, skrywer én tweede jongste ontvanger van die Nobelprys vir letterkunde, in 1957, op ouderdom 44)? Stop net daar. En begin om jou eie storie te skryf.

Ja, jou eie Die Pes. Hou dagboek. Jou kleinkinders gaan eendag in verwondering lees hoe jy hierdie dae van ’n pes – goed, ’n virus – in die 21ste eeu beleef het.

Dagboeke is fassinerende leesstof, want dit gee mense ’n intieme binnekyk op iemand anders se lewe en ervarings. Veral in hierdie grensverskuiwende tyd hier in die eerste jaar van die derde dekade van die 21ste eeu, hierdie 2020 wat so vol belofte was, kan jy jouself verbaas oor hoe jy daardie skryffonteintjie aan die vloei kan kry. Skryf van hoe ons treur oor alles wat was. Tot ietwat meer mundane dinge. Soos hoe piesangbrood nooit weer so gewild sal wees soos in die grendeltyd nie. Hoe almal later tog maar iets meer uitdagend as net ’n roerbrood probeer het. Wat weer veroorsaak het dat selfs die supermark se pakkies suurdeeg op ’n kol uitverkoop was.

Boweal: Hoe alles wat ons so vanselfsprekend aanvaar het, ewe skielik besonders en buitengewoon geword het. Soos om net na jou kantoor te kan gaan. Die verlang na werkplekke met hul kameraderie rondom ’n goeie koffie. Om dus nie te praat van die gat in almal se persoonlike lewens omdat kinders nie by ouers mag kom nie, en grootouers nie vir kleinkinders stories kan lees nie. Of hulle vir wie daar nou ’n “vir altyd” is: Dat ’n geliefde aan hierdie virus gesterf het. Hoe alles skielik so verskriklik anders geword het toe ons planeet gekantel het.

Want wat normaal was, is verby. Nou is daar die “nuwe normaal”, ’n nuwe manier van doen. Gits, net om te gaan inkopies doen, is nou ’n dapper daad. En as jy, mindere held, met jou inkopies by jou voordeur aangeland het, ontsmet jy jouself en elke item met vasberade verbetenheid om tog net seker te maak jy bring nie daai virus die huis binne nie.

Een van die name in die wêreld van woorde, Daniel Defoe, geleef van 1660 tot 1731 – eintlik net Daniel Foe, maar hy het homself adellik gemaak deur De vooraan sy naam te voeg – het ook oor die pes geskryf. As stigter van die eerste tydskrif in Engeland word hy as baanbreker beskou. En natuurlik, dis ook hy wat Robinson Crusoe geskryf het. Sy eerste prototipe tydskriffie het hy boonop so te sê uit die tronk gepubliseer, weliswaar tydens ’n kort verblyf, want ja, hy was ook die soort ou wat gereeld alles en almal rondom hom uitgedaag het.

Maar hier gaan dit nou oor sy pesdagboek. Sy A Journal of the Plague Year is eintlik misleidend. Hy het die pes wat daardie tyd deur die mensdom geswiep het, nie self beleef nie. Dit was ook ’n anderste soort pes as die pandemie wat ons nou ervaar. Daardie een was die builepes, deur vlooibyte oorgedra. Nou beveg ons ’n onsigbare virus, hoewel dit oorspronklik ook van diere na mense oorgedra is.

Maar terug na Defoe se Journal wat nie regtig sy eie joernaal was nie; hy het eenvoudig ander se werk gebruik om sy “dagboek” te skryf. Daar was baie publikasies oor daardie tyd se pes-uitbrake, want daar was baie wat hulle gewend het tot skryf om die tragedies rondom hulle te probeer verstaan – soos ons ook maar. Onder die skrywers was van godvresende puriteinse predikers wat gesê het dis God se straf op die drinkende, vloekende mensdom (Thomas Vincent se God’s Terrible Voice in the City, vandag nog te kry) tot ’n medikus wat sy beskrywing van die pes in Latyn geskryf het. Hy was Nathaniel Hodges; sy boek Loimologia is in 1672 gepubliseer en eers in 1720 in Engels vertaal. Defoe het blykbaar heerlik veral uit Hodges se boek “geleen” oor die buile (daarom builepes), so groot soos hoendereiers, wat op slagoffers se lyf uitslaan, die kruise op mense se deure om die pes af te weer, en hoe die mensdom met hul vreesaanjaende snawelmaskers gedink het hulle sal daarmee nie die pes inasem nie. Ons is toe nou nie die eerste generasie van Gemaskerde Wonders nie; ons kom al aan deur die eeue, in all shapes and sizes.

Maar van Defoe en sy nagemaakte pes-joernaal na jy en jou eie, egte Covid-dagboek.

Ons pes is ’n onsigbare vyand wat in menslike speeksel, en daarom ook luglangs, versprei. En hier sit ons, soveel maande later, soos verslaafdes gefikseer op die getalle: Waar styg dit, waar daal dit? Wat sê die viroloë? Wat sê die epidemoloë? (En is daar al pandemoloë?) Wanneer, dalk, is daar ’n entstof teen hierdie dodelike ding wat ons van ons so gewone, so alledaagse, so wonderlike lewe beroof het?

Daarom, om te help om al die angste te besweer, skryf. Hou dagboek.

Benader dit selfs as ’n “positiwiteitsdagboek”. Ja, daar is so iets ook. Met ten doel om jou uit hierdie negatiewe put te help grawe. Terug na die lug en die lig.

Hoekom ’n positiwiteitsdagboek? Omdat dit jou sal help om ’n ander perspektief te kry. Om die klein vreugdes te herontdek. Om jou só op te lig uit jou put van virusverdriet dat jy dalk sélf ’n verskil wil maak. Want elkeen van ons kán bydra tot daardie “Bou Beter Terug” in ons gemeenskappe met hul so groot nood en ons land met haar nog groter nood.

Buitendien: Wat is die alternatief?

Maar sal ’n dagboek jou help om jou lewe te verander? Miskien tog. Dit gaan beslis vir jóú help om na jouself en dit wat ons beleef, op ’n ander manier te kyk.

Hoe begin ’n mens? Een stukkie raad is natuurlik om met ’n postiewe gedagte te begin, al is dit net een woord. Al voel jy ook hoe negatief. Kyk hoe daardie woord vir jou inspireer om nóg woorde rondom daardie positiewe draad te vleg.

Natuurlik is dit nie ’n towerstaffie wat jou gaan help om van al die negatiwiteit ontslae te raak nie. Maar een positiewe woord lei tot ’n volgende, en ’n volgende. Hier is ’n webwerf met wenke wat jou aan die gang kan kry as jy vashaak in jou labirint van gedagtes: https://www.healthyplace.com/self-help/positivity/why-keep-a-positivity-journal. Onder die raad is hierdie maklike een: Skryf neer waarvoor jy dankbaar is. Tot effens moeiliker uitdagings, soos om hierdie sin te voltooi: “Vandag gee ek myself verlof om …” Of skryf ’n paar van jou bekommernisse neer en kyk of jy oplossings kan vind.

Want dís die pad wat woorde vir jou uitstippel: Hoe jy oplossings kan vind – maak nie saak hoe groot of hoe klein die bekommernis is nie. Begin jou eie Covid-dagboek, sommer nou.