Om te skryf in die tyd van korona. Of wag. Eers nie.

May 31, 2020 in Uncategorized

Dis goed om te skryf in ’n tyd van onsekerheid. Dit help om daardie ooraktiewe breingolwe effens tot bedaring te bring. Jy sien op die skerm voor jou, of op die bladsy onder jou skryfhand, presies wat dit dit is wat jou – ons – lewe so gewelddadig kom versteur het. Hierdie ding wat ons planeet tot ’n skrikwekkende kantelpunt gedwing het.

Ons treur, globaal, oor ’n tyd wat verby is. Grootouers wat nie ’n kleinkind kan sien nie. Werkkamerade wat nie in kantore bymekaar kan kom nie. Veel erger: Werkplekke wat toemaak. Mense wat hul inkomste verloor het. Broodlyn wat letterlik ’n lyn vir brood geword het. ’n Humanitêre en ekonomiese ramp van onmeetlike omvang.

Ons treur oor ’n tyd vóór hierdie koronavirus se Covid-19, toe ons mekaar spontaan kon omhels. Nou is daar ’n slimfoon- of rekenaarskerm tussen ons. En ’n post-Covid-19 is nog lánk nie in sig nie. En wanneer ons dalk, oor ’n jaar of twee – selfs dalk drie, sê die mense wat weet en eerlik is en sê hulle weet eintlik níé – hierdie virus in bedwang het, is daar reeds weer nuwes wat toustaan om onse wilde mensdom in die bek te kom ruk. Ons het mos gedink ons kan selfs ook met die natuur maak soos ons wil.

Daarom, dalk veral, voel ’n mens in hierdie tyd nie na skryf nie.

Dis ook goed. Miskien daarom dat ’n troostee eers die antwoord is.

***

Toe ek klein was, kon ek nooit verstaan hoe ketels sommer so begin sing die oomblik dat ons by iemand oor die drumpel stap vir ’n kuier nie. Asof almal se lewens afhang van daardie o so noodsaaklike koppie tee. En hoe ons agies met die groot ore grondlangs gespeel en geluister het hoe die tantas gesels. Ja, want daardie tyd het die ooms apart gekuier, met hul tiermelk, en die vroue, mooi soet met hul teetjies, eenkant.

Maar ek weet al lankal watter troos daar in ’n koppie tee is. En gelukkig het ons nou ’n veel groter keuse as daardie tyd se twee keuses. Ceylon-tee, of rooibos? En niks keer jou om jou eie tee te maak nie. Die brouseltjie in die teeglas op die foto het juis getrek op fyngebreekte kaneel, klein stukkies gedroogde appel, vars gerasperde gemmer, ’n paar vars skyfies suurlemoen, vinkel, kamille, groen kardamomsade, naeltjies, gedroogde lemoenskil, swart peper en rooibostee. Jy kan eintlik maar sommer in jou kruie- en speseryelaai invaar en wild na smaak in jou teekan se filtertjie gooi. As jy gewone tee byvoeg, kan jy dit nie te lank op die mengsel laat trek nie, want teeblare maak dit ná ’n ruk bitter. Vir die somer afgekoel, met ’n bietjie sodawater en ysblokkies, het jy ’n heerlike ystee.

Of hoe lyk dit met ’n Indiese chai wat van binne warm maak? Chai is Indies vir tee. As ons praat van chai-tee, is dit toutologie, ’n verdubbeling van woorde – ons sê dan tee-tee.

Jy kan op die internet kyk vir resepte, maar hier is een soos wat my jogaplek maak. Die geheim lê in die infusie van geure. Afhangend van vir hoeveel jy maak, is die mates in elk geval na smaak. In ’n potjie op die stoof, ongeveer een derde melk en twee derdes water. Voeg by: ’n sakkie of twee rooibos of gewone tee (afhangend van vir hoeveel jy maak), plus in ’n vysel gestampte heel kaneel, vars gemmer, naeltjies, kardamomsade, steranys, vinkel en peper. Bring rustig tot kookpunt. Tradisioneel word chai versoet met suiker, maar as jy nie van suiker in tee hou nie, kan jy ook ’n bietjie heuning inroer vir daardie soete saligheid wat ’n chai oor ’n mens bring. Skink deur ’n siffie, verkieslik in ’n kommetjie wat jy met albei hande kan vashou sodat die warmte ook in jou lyf kan intrek.

Môre, of volgende week, kan jy weer dink aan skryf.

1 response to Om te skryf in die tyd van korona. Of wag. Eers nie.

  1. Ek stem heeltemal saam. Woorde is nou te swaar. Maar die troos van ‘n koppie tee! Aaaa…

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *