Ek het opsetlik nie kommentaar gelewer op die twee inskrywings gister nie. Nou wil ek egter my eiertjie lê.
Ten eerste is Zita ’n baie oulike boek en dit belig ’n deel van die samelewing wat ons, die ryk snobs, baie maklik afskryf. As jy tyd spandeer in die townships, kom jy agter Zita is nie ’n unieke wese nie. En, sou jy tyd spandeer met meisies en seuns wat, soos Zita, beurse gewen het om in duur skole te wees, dan besef jy hoe akkuraat die beskrywing is.
Ons samelewing het verskriklik gou ras vir klas verruil en ons diskrimineer tans weer heerlik – armes moet maar voertsek.
Op een punt moet ek sê dis ’n vreemde keuse vir ’n tweedetaalklaskamer: Die Afrikaans is moeilik. Ek het ’n gids gehelp skryf (wat te koop is) om Zita makliker te maak, en selfs ek het gesukkel met van die Afrikaans.
Maar, hier is my grootste probleem met wat nou losgebars het om die teks. Kyk wat skryf die Prinses, wat nog NIE die boek gelees het nie. Dis belangrik, want sy kwalifiseer dit self. Haar opinie kan net kom uit die standpunte van ander:
Maar tog, klink dit duidelik vanuit altwee se standpunte dat dit nie noodwendig die dimensie van Afrikanerkultuur is wat jy aan tweedetaalsprekers wil oordra nie. Ons weet al self ons is nie rockspaaiders nie, dalk is dit tyd dat die res van die reënboognasie dit ook agterkom.
Wie is die Afrikaner? Moet jy in Sandton bly en ’n 4x4 ry? Moet jy in Rondebosch bly en jou kind na ’n Engelse skool stuur? Ek is nie besig om die Prinses af te kraak nie, maar juis omdat ek haar altyd so ’n vars briesie vind, gaan ek hierop kommentaar lewer: - Het geen Afrikaanse meisie al kinders by meer as een man gehad nie? - Is daar geen Afrikaanssprekendes wat in sinkhuisies bly en spiritus drink nie? - Is Afrikaanse meisies nie soms regte klien bitche met hulle maatjies nie? - Moet ons alle literatuur oor arm Afrikaners nou maar afkeur en weggooi?
Wat Zita so wonderlik maak, is dat dit ’n deel van die Afrikaanssprekende samelewing belig wat nié stem het in die glanstydskrifte nie. Hulle is te arm. En kyk vir Zita self, kyk hoe sý keer vir haar wickets as die mans attensies maak. Oral om haar raak kinders verwagtend. Sy wil nie. Sy wil nie ’n tweede Zita maak nie.
En dink julle dus bullshit dat Afrikaanssprekende meisies swanger raak op skool? Dink julle dis onwaar dat meisies daar in die klein dorpies geen toekoms het nie, en dus hulle genot nóú wil hê?
Dink julle dat daar geen Afrikaanssprekende meisies is wat nie weet hulle pa is nie?
Nee, magtig mense. Een van die doelwitte van die letterkunde is om aan die klein mensie, die stemloses, stem te gee.
Lees Zita, dis ’n pragtige, hartseer boek wat jou uiteindelik baie goed sal laat voel.
Kyk weer wat sê Katrina:
Kommin? Nee, ek kyk nie neer op haar nie en dit is wat ek ook aan die leerders probeer oordra. Die boek is nou eenmaal voorgeskryf en ons moet dieper grawe om dit in perspektief te plaas sodat ons leerders daaruit kan leer.
Wat meer is, Zita is losweg op Anzil Kulsen se eie verhaal gebaseer. Dit het min literêre waarde, maar dit maak minstens dat sy weet waaroor sy skryf.
Die vraag is egter: Voorskryf? Kyk wat sê Katrina:
Maar: of dit Afrikaans as sodanig bevorder of enigiemand 'n liefde vir die Afrikaanse literatuur sal laat kweek, is 'n ope vraag. Na alles moet lg. tog die doel van literatuurstudie wees.
Ek wil sê dat die grootste probleem van die voorskryfmark júís die voorskriftelikheid is. Ek glo nie een boek kan ’n hele land se kinders opgewonde maak nie.
Ek sou beslis wou sien dat Zita vir baie lank nog op die lys van boeke moet wees vir leerders om te lees. Ek dink egter ons moet ophou om een boek voor te skryf en dit alleen te dek. Gee leerders keuses, en gee hulle die geleentheid om wyd te lees.
Laastens wil ek sê: Lees Zita. Dis ’n besondere teks. Julle sal armer wees as julle nog nie die koue Noord-Kaap in ’n sinkkaia deur haar oë beleef het nie.
コメント