Ek het ’n scoop belowe, en hier is dit: Daar is IEB-ouers wat kla oor Anzil Kulsen se Zita voorgeskryf is in matriek. Niemand anders nie as Fanie Olivier het my gebel en gesels oor die IEB se keuse. Hy is genader deur ouers wat baie ontsteld was daaroor.
Katrina het juis oor dié boek geskryf:
Ek lees en beleef jeugverhale in die klaskamer en miskien kyk ’n mens anders daarna as jy dit vanuit die perspektief van die tiener probeer oopbreek, amper asof jy jou indink hoe ’n tiener dit sou ervaar en dit vanuit hulle perspektief benader. Soos Zita, bv. wat hierdie jaar vir IEB matrieks voorgeskryf is.
Ek sou baie graag wil hoor hoe Katrina dit ervaar.
Fanie is besig om met die rolspelers te praat, so ek het min inligting. Die vraag is egter: Hoekom?
Ek is mal oor Zita. Regtig. Ek dink dis ’n wonderlike boek. In h’t korte handel dit oor ’n meisie wie se ma drie kinders by drie mans verwek het. Zita se pa was duidelik ’n Indiër en daarom staan sy bekend as die “koeliemeid”. Hulle woon in die armdorp. Haar ouma is permanent dronk van brandspiritus. En dan wen Zita ’n beurs om na die “wit skool” te gaan waar sy lank nie tuis voel nie.
Nou goed: Die Afrikaans is dalk uitdagend vir tweedetaalkinders. Ek stem saam. Fanie kon egter nie sê presies waaroor die klagtes gaan nie – hy was steeds besig om dit te ondersoek. Was dit die Afrikaans? Groot dele is in Platafrikaans en die mense vloek hard.
Is dit die feit dat Zita se ma so baie boyfriends had?
Of is die kinders gewoon gatvol vir nóg ’n storie oor ’n kind wat moet inpas?
Erger nog, het die kinders dalk van die boek gehou, maar die ouers nie?
Nou, goed. Die boek se karakter hét issues: Sy soek haar pa, sy wantrou die wit kinders, sy wantrou haar boyfriend se attensies ... Is dit die rede?
Kyk wat sê Elizabeth jeugwerk:
Izak, ek dink tog enige boek moet geskryf word met ’n spesifieke teikengroep in gedagte. Sekere boeke sal altyd oorvleuel in hierdie verband, nes die genres, maar die intensie van ’n goeie skrywer behoort aspekte aan te raak wat byval sal vind by sekere ouderdomsgroepe. En beslis, vir tieners, niks wat prekerig klink nie!
Het Zita dus nie die teikengehoor getref nie? Sou Zita vir sommige prekerig klink?
Die Prinses sê byvoorbeeld oor Die verdrinking van Jousa van Eden:
Ek het dit ook onlangs gelees. Die eerste Afrikaanse “jeugboek” waarin daar nie ’n morele lessie opgesluit le nie. Ok, maar ek kom ook uit die donker eeue van jeuglektuur ...
Ek pes ook prekerige boeke, dis hoekom ek saamstem met die prinses oor Josua van Eden. Ek weet egter die ouers gaan kla as daardie boek voorgeskryf word!
Kyk wat Willemien sê oor die uitdaging aan skrywers:
Ek dink om boeke te skryf spesifiek vir tieners is ’n baie moeilike taak, omdat die boek so geskryf moet wees sodat tieners kan “relate” sonder om “corney” te klink. Slang word gereeld verkeerd gebruik en dit sit tieners af. Ek stem saam met Prinses oor die sosiale kwessies, behalwe dat van die boeke te veel kwessies gelyk probeer aanspreek en gereeld klink of dit mense wil skok, wat vir my simpel is. Dis maar net wat ek dink:)
Ek glo nie Zita preek nie. Maar is ek nou een van die fuddy duddies wat nie meer in voeling is nie? Ek glo ook nie die plat Afrikaans is sleng nie. Maar is ek al te gekondisioneer?
Elizabeth dink wel dis moontlik om belangrike goed aan te spreek sonder om simpel te wees, kyk hier:
Die tendense wat in vandag se tienerletterkunde heers, bevat die moderne, sosiale kwessies. Lees Marita se Hanna Hoekom ook. Sy kry dit goed reg om vanuit die perspektief van ’n tiener te vertel. Die werklikheid van egskeidings, homoseksualiteit en politiek daarin lei jeugdiges na ’n beter begrip daarvoor. Op ’n komiese wyse.
En dis wat Martie Preller sê oor die probleme wat aangespreek word in tienerboeke:
Die “issue” in tienerboeke is dikwels “opsigtelik” omdat kinders direk daarmee deal of nie. Maar dit het ’n sterk direkte invloed, gewoonlik, in hulle lewens. Miskien oor kinders so “magteloos” is en afhanklik van ander? Maar die “issues” is in alle stories - dis gewoonlik net meer “versteek” omdat ons as volwassenes gewoonlik probeer “vergeet” of dit verwerk ens ens.
So, nou is ons terug by die probleem oor “jeugboeke” en “grootmensboeke”.
Willemien sê:
Ek en my maats het al daaroor gepraat en tot die gevolgtrekking gekom dat ons graag boeke gelees het waar die karakters net so bietjie ouer as ons was, want dit het ons iets gegee om oor te droom. Bv. in die laerskool het ons Reënboogrand-tieners gelees. Later in die hoërskool (so gr. 10) het ons “grootmensboeke” begin lees, soos Marita van der Vyver. En niemand van ons was eers in dieselfde provinsie op skool nie, maar het dieselfde tipe patroon gevolg.
Sou dit dus beteken ons moet liewers weer Toorberg voorskryf? Dis ’n goeie boek, maar is dit vir kinders?
Onse Prinses sê hieroor:
Beide Bloemhof en Hugo skryf uit die oogpunt van ’n tiener, maar skryf hulle werklik vir tieners? Ek dink nie so nie. Ek dink hulle skryf vir wie ookal dit ter harte sal neem, en dit is vir my great. Dit is immers waaroor volwaardige literatuur gaan.
Ek dink egter daar is wel kinders wat “late bloom”. Ek self het Griet gelees toe ek 14 was, maar daar is baie mense wat dit nooit sal of wil lees nie, oor hul iets anders soek in ’n boek. Meer aksie dalk, minder literêre mumbo jumbo... En ek dink dit is miskien wat Joshua is, ’n goeie storie, ’n ernstige element, maar gemik op ’n wyer leesmark - ernstige lesers, en mense wat lees vir die pret. Ek het ook gedink Joshua is ’n baie volwasse ou, maar dit sal interessant wees om te weet hoe tieners die karakters ervaar....
Ek dink Martie moet die laaste sê hê. Dis wat sy sê oor die gehalte van die werk wat voorgeskryf moet word:
’n Mens moet so goed skryf as wat jy kan - altyd! En of dit ’n lekker avontuur-/ liefdesboek is en of dit iets meer kompleks / gelaag wil wees, maak nie saak nie. Hulle kap êrens ’n boom af om jou boek te druk! Die boom gee sy beste - jy moet ook! :)
Ek stem saam, Martie.
Laat weet wat julle dink, veral as julle al Zita gelees het. Sou julle dit in ’n klas wil behandel?
Comments