Hallo Izak - gaan woes hier aan die begin van die jaar. Zita! Aspekte wat die anonieme onnie hier genoem het stem ek mee saam, met ander nie. Zita sou 'n uitstekende boek gewees het in 'n ander milieu, dink ek, maar dis beslis 'n turksvy wanneer 'n mens voor 'n klas staan, soos ek, waar 'n mens alle kulture het. Iemand het iewers gesê dat 'n mens nie die volwassenheid van tieners moet onderskat nie, wat inderdaad so is, maar daar is sekere kwessies wat groot ongemak veroorsaak. Ek het reg aan die begin probeer om aan die seuns (dis net seuns!) te verduidelik waarom 'n sekere boek waarskynlik voorgeskryf word, naamlik om hulle bloot te stel aan 'n wêreld wat hulle vanuit hulle bevoorregte perspektief nie ken nie. Maar, dit versag nie woorde soos 'koelie-gevreet' nie en elke keer wat ek dit lees, is daar 'n onderstroming, al probeer ek dit so neutraal moontlik hou en binne konteks van die boek plaas. Die Noord-Kaapse Afrikaans is inderdaad heeltemal anders as Wes-Kaapse Afrikaans, wat dus jou les in 'n vertaalsessie laat ontaard om te probeer verduidelik. En ja, die boek help nie om goedgesindheid teenoor die taal te bevorder in die politieke klimaat waarin ons leef en met die agtergrond van skuldtoekenning op grond van taal nie. Dit is egter nie nuut in die klaskamer nie en 'n mens leer om dit te hanteer. Ek sou nie sé dat die roman nie literêre meriete toon nie. Wat ek egter wel dink, is dat wie ook al dit voorgestel het, nie werklik nagedink het oor die samestelling van die leerders nie. Dit sou beslis beter vir Eerste Taal gewerk het. Ek het nie 'n probleem met Zita se wêreld en haar vlak van beskaafdheid nie - sy het immers in Kieriekroek grootgeword en leer om haarself in 'n nuwe wêreld te moet handhaaf. Kommin? Nee, ek kyk nie neer op haar nie en dit is wat ek ook aan die leerders probeer oordra. Die boek is nou eenmaal voorgeskryf en ons moet dieper grawe om dit in perspektief te plaas sodat ons leerders daaruit kan leer. Maar: of dit Afrikaans as sodanig bevorder of enigiemand 'n liefde vir die Afrikaanse literatuur sal laat kweek, is 'n ope vraag. Na alles moet lg. tog die doel van literatuurstudie wees. Die gebreke is egter nie 'n vrypas om martelaar te speel nie - ag nee, ek hoop my kollega sien iewers vorentoe lig in die tonnel! Trek maar die wa deur die drif, al is dit met kreun en steun.
Wat seg julle?
Comments