Die Musica voor anker in die Baai van Kotor.
Vreemde woorde in vreemde tale – “magnifico” in Italiaans, “imposant” in Frans, “wunderschone” in Duits en allerlei verwante uitdrukkings van verwondering in ander tale – het skielik vir my betekenis gekry waar ek, op die dek van die MSC Musica die intog in die Baai van Kotor – Boka Kotorska – meegevoer indrink.
Ek was seker dat vreemdelinge wat Afrikaans nie ken nie, sou verstaan as ek die ontvouende natuurskouspel in my taal as “verruklik” of “aangrypend” sou beskryf. Of selfs sou verstaan wat ‘n Engelse dame bedoel het met haar luide uitroep van “supercalifragilisticexpialidocious”, ‘n speelse skepping uit die musiekfilm Mary Poppins waarin Julie Andrews in 1964 haar rolprentdebuut gemaak het – ‘n woord wat jy in ‘n woordeboek vergeefs sal soek.
Vir baie van die 3 200 passasiers op die groot weeldeskip – tonnemaat 92, lengte 293 meter, hoogte 59 meter, bemanning 950 – op sy noordwaartse terugtog ná ‘n somerseisoen van vier maande in Suid-Afrika was die mirakel van Ferdinand de Lesseps se Suezkanaal (vorige blog) waarskynlik die verwagte hoogtepunt. Ander het gebrand om die ruïnes van die antieke Arabiese stad Petra in die teenswoordige Suidwes-Jordanië te gaan verken. Dit word as een van die sewe moderne wonders van die wệreld gereken.
Nou is almal se asems skoon weggeslaan deur hierdie onverwagte Noorweegse “Bergen” in die suide van Europa waar fjords en die Middellandse See mekaar as ‘t ware ontmoet: vier baaie van inkblou Mediterreense see, omring deur ruwe swart rotswande wat soos ‘n reuseskoenlapper sy vlerke oopvou voor die steeds groter besoekende plesierbote wat toenemend derduisende besoekers op die ou Balkanstaat Montenegro kom verlief maak.
Teen O8:00 het die plaaslike piloot aan boord gekom. Van toe af kruie ons twee uur lank langsaam en versigtig deur ‘n reuse-S wat deur die vier skone komme, omring deur dramatiese swart pieke (monte negro), gevorm word. Eers daarna kon die MSC Musica anker gooi en die vrag passasiers met kragtige landingsvaartuie aan wal kom vir ‘n dag in een van die wệreld se mooiste ou historiese hawestadjies. Vir hierdie liefhebber van skeepvaarte bied die omgewing van die onvergeetlikste taferele wat hy in sy lewe van ‘n boot af aanskou het. Dit is groots. Glo my.
Toe ons in Durban aan boord kom op 26 April 2019 is ons verras met dieselfde geskenk van die redery MSC as vir ons goue bruilof twee jaar gelede op ‘n vaart na Walvisbaai: ‘n ysemmer met ‘n bottel Moët et Chandon-sjampanje uit Frankryk (prys op skip: $75) en twee elegante glase met die MSC-logo daarop het in die kajuit gewag. Alle lede van die MSC se “Seniorsklub” is so bederf. Vele proppe het dalk sommer die eerste aand al tussen Durban en Mauritius geklap. Ons goue voggies het ons vir ‘n spesiale goue oomblik gebệre.
Ons goue oomblik het daardie aand aangebreek. Kan Moët et Chandom die kieskeurigste palaat (en die gees) ooit heerliker verkwik te midde van die beeldskoonste berg-en-see-tonele; om op dek 13 op die agterstewe van die Musica suinig-suinig daaraan te teug terwyl die huise van Perast en ander afgesonderde gemeenskappies in die verte al hoe kleiner word? .
Om dan Andrea Bocelli se fluweelstem die weemoedige “It’s time to say goodbye” (in Italiaaans en sonder Sarah Brightman) oor die luidsprekerstelsel deur die hele skip aanhef – uando sono solo, sogno all’orizzonte, e mancan le parole, Si lo so che non c’è luce – is voedsel vir die siel.
Comments