Goudduiwel, deur Duane Aslett. Resensie: Joan Hambidge (Rapport Boeke) Nie Hambidge op volle toere nie. Weer een van daardie resensies waarin die paragrawe so half op hul eie staan. Soms werk dit, soms nie. “Die voorblad bemark die boek egter nie heeltemal reg nie,” lui een van hulle. O ja, wil mens antwoord. Verduidelik ’n bietjie… Maar dis een van die paragrawe in die middel van die resensie wat my laat besef het Hambidge moes hierdie resensie eers ’n bietjie laat lê het voordat sy dit voorgelê het. Sy skryf: “En as leser van speurverhale (en regte speurverhale, nie die getjommel wat hier te lande as speurverhale paradeer nie), word die klassieke Edgar Allan Poe se The Purloined Letter vermeld, boeke oor die Krugerwildtuin en selfs die indertydse Prins van Pretoria, ’n hartseer grap.” Ek is nie heeltemal seker of die sin in sy geheel sin maak nie. Maar die gedeelte in hakies oor die getjommel wat hier te lande as speurverhale paradeer, dié verstaan ek goed, en ek weet dit is snert. As mens sulke breë veralgemenings maak, sluit jy Andrew Brown, Deon Meyer, Diale Thlolwe, Mike Nicol, Chris Karsten, Karen Brynard, Rudie van Rensburg, Chris Marnewick, Margie Orford, Sifiso Mzobe en vele meer in as ontvangers van jou woeste klap. Het sy regtig nagedink oor wat sy besig was om hier te sê? Ek glo nie.
Soetloop, deur E. Kotze. Resensie: Johan van Zyl (Boeke24) Een van daardie resensies wat só lekker lees dat jy die resensent enige dwalings sal vergewe. Dit gaan oor geesdrif vir die skrywer, en begrip vir die verhaal wat sy vertel. As ou bewonderaar van Kotzé se skryfwerk het ek geglimlag oor Van Zyl se reaksie op haar taalgebruik. Mens kan die bekoring daarvan nooit ontsnap nie. Ek kan darem vir hom verheldering bring oor een van sy vrae. “Prens en vrede” is afgelei van ’n ou uitdrukking – “pais en vree”. Ek wonder of die skrywer nie iewers helderte wil bring oor die ander uitdrukkings wat Van Zyl lys nie. Sal ook graag wil weet!
Comments