Foto van die vakansie. Geneem deur Organ Ongeni.
Nog 75 salige dae op ons kerfstok geplaas in Sabiepark hierdie winter. Kan amper sê: soveel dae, soveel hoogtepunte. Elke dag lewer sy vreugdes.
Kom ek probeer die hoogste hoogtepunte identifiseer:
1. Die herbesoek aan Boulders met sy rotskoppies, bedrywige watergat, gedugte buffeltroppe en klipspringertjies. Toe die drie vlakvoor ons houtgerus kom water drink in die klip-voëlbadjie was ‘n magiese oomblik.
Drinktyd vir ‘n klipspringer.
2. Smiddae se gereelde olifantparades by die piekniekplek. Organ Ongeni se foto van die vakansie van my en Tokkie wat in die strelende sagte namiddagson na die olifante sit en kyk, sal altyd hiervan ‘n herinnering bly.
3. Die vreemde gedrag van ‘n impalarammetjie by ‘n dooie makker by Satara. Die spronge met sy voorbene op die dooie lyf van die ander outjie lyk dalk soos aggressie. Maar hoe verklaar jy die verwilderde kyk in die oë, die streling met die neus en die lekkery aan die nek? Dalk ‘n Dawid en Jonathan van die diereryk gewees?
Bokkie se leed?
4. Die ongekende ervaring om binne vyf dae al Vyf Grotes by die piekniekplek te sien, waaronder Vin Diesel, formidabele luiperdmannetjie met die nek van ‘n Springbokstut.
5. Die nagtelike besoek van twee olifante aan Tarlehoet se watergat – die eerste keer dat ek tuis uit die bed spring weens die gekraak van takkies, en met my flits op die groot gedaantes skyn.
6. Die kennismaking met Orpen, karaktervolle wildtuinkampie ten weste van Satara, saam met die span Kollegemanne van die 50’s, boonop met ‘n eie Kollegekoek met Sarge Bourke se afbeelding daarop. Eers was daar Balule 1 tot 5. Nou word die Orpen-tradisie gevestig. In 2018 is daar ‘n Orpen 2. Almal is vuur en vlam.
7. Die ontdekking van die boskamp Talamati en sy verligte watergat waar die olifante gereeld saamdrom. Tokkie lag nou nog as sy aan die klein outjie dink wat sy tyd by die water verspeel het. Toe hy begin hardloop met sy swaaiende slurp en flappende ore, kon jy amper sy hart in sy keel hoor klop!
8. Die reuse-swerms kweleas wat oor die Sabierivier duik en met ‘n suising van vlerke by Tarlehoet uit die bome op die veld neerdaal en weer opstyg. Watter skade hulle dalk veroorsaak het, weet ek nie. Hul kom en gaan was egter telkens skouspelagtig.
Tradisionele foto by die naambord.
9. Natuurlik, natuurlik die kuiertjie van die kleinkinders in die skoolvakansie en die groot vure wat hulle elke aand gestook het. Die babatjies wat in doeke die eerste keer in die bos kom kuier het, is nou drie groot seuns. Die tweeling, Jacob en Thomas, is 13, Christopher is 8. Hulle is drie selfstandige seuns, propvol selfvertroue. Die bosliefde bly brand in hul harte. Daaroor kan ‘n mens nooit dankbaar genoeg wees nie.
Op my kamera is honderde kosbare foto’s: kinders, olifante, buffels, leeus, luiperds, renosters; Sabiepark se resident-najalabul; bosbokkies wat die bloedrooi worsboomblomme by die piekniekplek verorber; die nekke van die nuwe span kameelperde wat bo Sabieparkbome uittroon; troppe, troppe wildebeeste en sebras bokant Satara; hope koedoes; kweleaswerms wat die lug swart kleur.
Van die wintervakansie van 2017 sal die foto’s die albums laat swel.
Een ou sal ek nooit weer afneem nie: Brood, die vlakvarkbeer met die indrukwekkede tande. Hy het ‘n luiperd ten prooi geval.
So stapel die jare op – elk met sy eie dinge.
Comments