Diere kyk terwyl jy slaap. Dit is die raak beskrywing van skoondogter, Mariza, van ons nuwe Sabiepark-plesiertjie met die bespiedkamera wat aan ‘n haak-en-steek by ons Sabieparkse watergatjie gemonteer is.
Ons Hollandse vriende Gert en Caroline Pols wat ons op die spoor hiervan gebring het – hulle s’n het nou in hul afwesigheid raaiselagtig van hul muur verdwyn – noem dit ‘n “trapcam”. Op die boksie van die ingevoerde LtL Acorn-5210a sien ek dat dit ook as “game camera” bekend is.
Hoe ook al, die stewige buks neem outomaties beweging af, en is veral snags ‘n aanwins. Jy sien ten minste wat op jou werf aangaan terwyl jy salig in droomland verkeer. Onder meer ‘n luiperd, hiënas en ‘n muskeljaatkat het al voor die Polse (van Gwarrieboslaan) en die Australiese trefferskrywer Tony Park (van Maroelalaan) se kameras verbygestap.
Die eerste twee aande kon hierdie tegnologies-ongeletterde nie kop of stert van die nuwe speelding se geheime ontsyfer nie. Die frustrasievlak het gevaarlik hoog in my gemoed opgestu. Maar met e-pos-raad van die kenners, die avontuurlike betrokkenheid van die agtjarige tweeling Jacob en Thomas en verskeie doelgerigte probeer-en-tref-slae van die uwe se kant kry ons die kamera se oog aan’t flonker.
Die eerste aand met die kamera in posisie neem ons net die swaaiende arms van die proefkonyne (dis nou Jacob en Thomas) af. Verder lewer die nag se oes ‘n paar mooi stillewes van die watergat.
Die nag van 3 Januarie, my 72ste, sluip ‘n haastige hiëna om 22.08 verby. Die volgende aand om 22:26 kom ‘n spannetjies sebras water drink. Dit ontdek ons teen 06:00 in Oupa en Ouma se kooi toe die tweeling ingestorm kom, hoogs mededingend oor wie se beurt dit is om die foto’s terug te speel. Die kamera veklap tyd , datum en selfs temperatuur op daardie oomblik.
Die sebras se besoek val plus-minus saam met steune en kreune uit die kinderkamer. Jacob kry nagmerries. Hy’s ‘n seun met humorsin – lekker gelag toe sy oupa hom inlig sy nagmerries was sebramerries.
‘n Dag of wat later kom ‘n (insomniese) hiëna daarlangs (om 02:45). Die kamera tel hom mooi op. Ook die sebras maak weer ‘n draai, hierdie keer net ná sonsondergang (om 19:00). Die kamera neem ‘n halfuur lank lustig foto’s – heel sebras, halwe sebras, voorkwarte en agterkwarte.
Dalk klink die eerste proeftyd se oes nie so indrukwekkend nie. National Geographic, of selfs die SABC se 50/50, sal nie juis oor hul voete val om HvD se geheuekaart te bekom nie. Maar glo my , daardie Acorn dra ná 15 jaar in Sabiepark – ‘n Duisend Dae Langs die Sabie, soos in my voorlaaste boek se titel – ‘n nuwe element by met die potensiaal om nog baie vreugde tot Sabiepark-kuiers toe te voeg.
‘n Stukkie waardevolle advies: Moet net nie vergeet om die kamera aan te skakel voordat jy jou te ruste wend nie ….
Comments