Ek het gister ’n teoretiese raamwerk probeer skets wat ons kan gebruik om Weerloos, Annelise se tweede, mee te probeer verstaan.
Vandag wil ek op die boek self konsentreer.
Ten eerste is Weerloos ’n lekkerlees, erotiese boek. Dit is nogal anders as Maanvrug.
In Weerloos loop daar twee storielyne langs mekaar en hulle vou op ’n stadium inmekaar in.
In het korte: Ons loop vir Dakini, ’n toenmalige priesteres in ’n vrugbaarheidskultus, raak in die hiernamaals. Sy is nie in die geykte hemel of die hel nie, nee, sy is in Mefisto. Tog, in haar eie woorde: “Ek vermoed ek is in die Hel.” Dis egter ’n heerlike hel hierdie, een waarin jy al jou vreugdes en drifte kan uitleef net soos jy wil.
Ten tweede handel Weerloos oor ’n vrugbaarheidskultus op aarde. Ons sien hoe die kultus se priesteresse stelselmatig vervolg word deur diegene wat boeke en ’n monoteïstiese, patriargale god aanhang.
Op hierdie punt is dit dus reeds duidelik dat diegene wat ’n Amerikaans-evangeliese godsbeeld het, baie ver moet wegbly van Weerloos af. Dis nie ’n boek wat Rhema sal aanbeveel van die preekstoel af nie.
Julle is gewaarsku.
Is hierdie boek anti-godsdiens? Nee. Kyk mooi: Agapië is ongetwyfeld die plek waar liefde in agape uitgeleef word – die ware Christenliefde, dus. In Mefisto? Wel, hier jol die ouens.
En dis Agapië, die “anderkant”, wat uitreik en vriendelik is teenoor die inwoners van Mefisto. Jip. Daar ’n oproep van Agapië af om te gesels.
Onse Dakini word gevra om hulle leermeester te gaan ontmoet – iets waarvoor sy nie baie lus is nie. Haar lus verdamp verder as die geleerde Agapiër, Desirio, begin boeke oopmaak.
Tog, deur hierdie gesprekke leer Desirio vir Dakini om van boeke te hou. En dít is belangrik, want, toe Dakini nog geleef het, was dit boekgeleerdes wat haar gevang, gemartel, verkrag en uiteindelik as heks op die brandstapel vermoor het.
Wat ek gister deur Bert Olivier se woorde probeer sê het, word hier in storievorm vertel. Die priesteresse word vervolg deur die boekgeleerdes. Hulle word uiteindelik as hekse verbrand. Hoekom? Want Dakini, die priesteres, weier om aan een man te behoort: Sy behoort aan die stam.
Nou, in die hiernamaals, maak Dakini vrede met boeke. Sy gee haarself ook, op ’n priesterlike wyse, aan Desirio. En só word erotiese liefde met die agape-liefde verbind.
Lees gerus self. Weerloos is sonder pretensie. Dit lees baie maklik en baie vinnig. Al sny dit moeilike temas aan, bly dit baie ’n toeganklike, leesbare boek. Weerloos is glad nie ’n filosofiese werk nie en dit probeer nie voorgee om enige iets anders te wees as ’n verhaal oor verskillende soorte liefde, en ’n skoot haat, nie.
Weerloos het hierdie manlike leser lekker op aandag laat staan. Waarsku dus
geliefdes wat Eros dalk net besoek kan aflê tydens die lees van Weerloos.
Comments