As dit by louere kom, het ek hulle. Veral op die gebied van skeidsregters. Ek het in die dae toe ek saam met my eks rugby gekyk het al die grootste waarhede oor en teen die refs uitgespreek, op die pawiljoen sowel as voor die kassie. Jy kan die aster uit Fochville uit haal, maar jy haal Fochville nooit uit die cherrie nie.
Omdat ek Paasnaweek niks beter gehad het om te doen nie, het ek geluister na Michael Lewis se reeks podcasts, Against the Rules. Hy reken dat ons in ’n era leef waarin die skeidsregter afgeskaf is. Op Facebook, Twitter en sommer oraloor waar mense menings uitspreek sonder dat een of ander ref of ombudsman hul met ’n liniaal oor die vingers tik oor die onwaarhede wat hulle verkondig.
Ek het nuus vir hom. Dit maak nie vir my saak of Twitter en Facebook eintlik die skuld moet kry vir al die humongeuse druttels wat Donald Trump op die grasperk van my onskuldige siel uitgedruk het nie. Ek weet net dat ek ’n behoefte het aan die skeidsregters in ’n tyd van geestesbesoedeling.
Ja, ek praat van boekresensente. Die mees miskende skeidsregters sedert Moses met sy tablet van die berg afgekom het. Die mense wat met insig reageer op boeke, wat dit op ’n vlak doen verhewe bo die onwelriekende flatulensie in die benederyk van die sosiale media.
Die verskil tussen rugbyskeidsregters en boekresensente is natuurlik dat slegs super-intelligente mense rugbyskeidsregters kan word. Dit kan nie anders nie. As jy die rugby-reëlboek gesien het, of soos ek, die app afgelaai het kort voor 2019 se wêreldtoernooi, sal jy weet wat ek bedoel. Só ingewikkeld dat selfs Stephen Hawking ’n grammar-toetser sal moet gebruik om dit te snap.
Boekresensente is van ’n ander stoffasie. Hulle moet intelligent wees én empatie hê. En hulle moet, soos ds Nick van Achterbergh altoos gesê het, in touch wees met hulle gevoelens. (Stil susters, ek haal mos nie vir Meat Loaf aan nie!)
So, nou begryp julle die konteks waarbinne ek Annelise Erasmus se resensie oor Marita van der Vyver se ’n Baie lang brief aan my dogter (Rapport) gelees het. Wag, ek jok. Ek moet ook net sê dat ek niks gehad het om Paasnaweek te doen nie omdat ek die Donderdagaand/nag ’n Baie lang brief aan my dogter verslind het.
Dis seker nie nodig om alles te sê wat Erasmus sê nie. Julle is fluks genoeg om die resensie self te gaan lees by https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/marita-vertel-ons-almal-se-storie-20210404
Wat ek wil noem, is dit wat Erasmus volgens mij impliseer sonder om verder te verduidelik. Veral “Dit is informeel en onpretensieus soos wat ’n mens sou verwag van ’n brief aan ’n dogter. Dit wroeg nie, wat ’n verligting is, maar dis ook nogal onemosioneel, so al asof afstand altyd gehandhaaf moet word.”
Ons almal weet die bekoring van biografië en outobiografië lê daarin dat ons die kans kry om te besef presies hoe uniek die onderwerp is. Hoe hulle verskil van ons gewone sterflinge. Erasmus se opmerking dat ’n Baie lang brief aan my dogter “nogal onemosioneel” is, “so al asof afstand altyd gehandhaaf moet word” is die kern van hierdie resensie, en van haar reaksie op die boek.
Goed, Erasmus het voor hierdie opmerkings reeds genoem dat sy haarself in baie dinge erken het, dus die soort ervarings met Van der Vyver gedeel het. Die onemosionaliteit en afstand het egter met iets anders te make. As mens “onemosioneel” aan jou dogter skryf, sodat sy jou later beter sal kan verstaan, dan doen jy dit omdat die bakleie wat daar tussen ma en dogter gebeur, reeds agter die rug is. Die geskrou en koppies stukkend gooi en dikbek gesittery agter geslote deure is afgehandel, die vrede is gemaak. Pewerteit het gekom en gegaan en die ma het nodig om die kind te laat besef hoekom ons almal só is en presies hóé ons almal anders is.
Annelise Erasmus is ’n skeidsregter van formaat. In haar twee afsluitingsparagrawe spring sy van dogter na lesers. ’n Goeie ma wat weet dat haar dogter nie al haar geheime hoef te weet nie, verbreed na lesers wat die leidrade raaksien van die briewe se dieper konteks, naamlik die groeiende bewussyn van Marita van der Vyver in die vroeë deel van haar lewe.
Erasmus sien dus raak dat Marita van der Vyver soos ’n goeie losskakel ’n dummy verkoop het aan die opponente. Die brief aan die dogter is die fop-beweging; die brief is eintlik aan die groot leespubliek van nou en in toekomstige tye gerig. Die lesers in 2080 eweseer as die lesers van 2021. Binne die reëls van die letterkunde is dit volkome toelaatbaar. Want die ref weet: Franssprekende dogter, Afrikaanse lesers.
Dít is uiteindelik presies wat die skeidsregter oor ’n Baie lang brief aan my dogter uitwys. Erasmus haal Van der Vyver se woorde oor die skeidslyn tussen werklikheid en verbeelding aan, en dis Wet No 1 in die groot reëlboek oor literatuur. ’n Baie lang brief aan my dogter is relevant vir die verstaan van Griet skryf ’n sprokie net soseer as van Eenkantkind. Ons lees veel meer as net dit wat voor ons oop lê.
Dit is hoekom ons vandag nog skeidsregters nodig het. Soms verskil mens met die ref, maar dit word dikwels net deel van die groot vooroordeelfest van ons tyd, die sieserige miasma wat aan Facebook en Twitter kleef. Almal lê eiertjies, maar net die waaragtige resensente s’n is nie vrot nie.
Terwyl ek hier sit en skryf, land daar ’n whatsappie van ’n vriendin wat alarm maak oor ’n bloutjie wat Marita van der Vyver op Facebook geloop het met ’n oningeligte plebschurk, ’n troll met ’n eie agenda. Niks illustreer die noodsaak van ons behoefte aan skeidsregters beter nie.
En onderwyl Van der Vyver uit haar pad gaan om die skade wat daardie troll aangerig het tot niet te maak, kan ek almal maar net na die skeidsregter verwys. Annelise Erasmus se oordeel staan in skerp kontras met ’n troll se poging tot karaktermoord.
Lank lewe die waaragtige resensente!
תגובות