André S Kamer het Byna liefde gelees en dit met ’n boks sjokolade vergelyk. Kliek hier om te sien wat hy daaroor dink.
Droomkind het ’n besondere kommentaar gelewer oor mense wat lees, al dan nie. Kliek hier om haar blog te sien daaroor.
En dan wil ek gou Boekevat se uitstekende stuk kommentaar plaas wat sy vroeër op my blog geplaas het (die beklemtoning is myne):
Ek wil graag drie perspektiewe op die stelling gee. As skrywer, as besorgde ouer en as leser. As skrywer is dit vir my redelik duidelik dat geen uitgewer by sy volle positiewe deesdae iets gaan uitgee in die naam van jeuglektuur/ tienerfiksie as dit nie binne die sogenaamde ‘ervaringsveld’van die leser val nie. Dit beteken dat die boek oor jongmense en hulle relevante issues moet gaan en dat daar geskryf moet word in die taal wat jong mense praat. Kyk gerus wat een van NB-uitgewers se voorvereistes vir die voorlegging van ‘n teks is: “Dui asseblief die ouderdom van die teikenleser aan: kleuter (1½ tot 4 jaar), jong kind (5 tot 8), ouer kind (9 tot 12), tiener (13 tot15) of jong volwassene (16 tot 18).” Verder sal jy as skrywer ook moet dink in watter genre jy jou boek wil skryf. Word dit ’n reeks vir meisies (dink maar aan Gosspi Girl, The Traveling Pants, ens.), of word dit dalk iets in die afdeling “fantasie” (dink Harry Potter, Artemis Fowl en die vampierreeks van Myer wat almal teenswoordig so op hol het). Ja, en uiteindelik kan jy dit ook oorweeg om sommer net ’n boek te skryf oor iets wat jou inspireer solank die karakter net die regte ouderdom het en die regte taal praat. As jy gelukkig is en die uitgewer hou daarvan word dit dalk op skool voorgeskryf. Is die boeke noodwendig goeie literatuur? Soms wel en soms nie. Maar glo vir my, die reekse gaan jou beursie ’n hupstoot gee. As besorgde ouer wil ek graag dat my kinders wêreldburgers word met die breedste moontlike perspektief op literatuur. Om dit te kan doen moet hulle van lees hou. Om die internet te kan gebruik moet hulle, so terloops, ook van lees hou! En om universiteit toe te kan gaan ook. Hoe kry ek ’n kind so ver om te begin lees? Dit is natuurlik nie ’n maklike ding om te doen nie en daar is baie kinders wat sukkel met disleksie en ander leesprobleme. Maar ja, jy skep vir hulle ’n wêreld van boeke en stories. Jy koop hulle om met lekker reekse en strips / comics. En jy kry hulle so ver om in meer as een taal te lees. En jy lees self sodat hulle kan sien hoe dit gedoen moet word. Jy lees ook vir hulle. Maar ek smokkel ook so ’n bietjie met hulle koppe en ons kyk saam na flieks van al die groot werke: Oliver Twist, Pride and Prejudice, The Secret Garden, Rebecca, Romeo & Juliet, ens. Op dié manier word hulle smaak ook beïnvloed. Die punt wat ek wil maak is dat my kinders se leesgewoontes op veel meer as net hulle leeftyd afgestem word. Ek kyk na wat in hulle lewens aangaan, wat se emosies hulle ervaar en hoe hulle stokperdjies lyk en dan gaan soek ek boeke wat daarby pas. Soms lees my kinders dit, soms nie. Hoe op dees aarde onderskei jy tussen dit wat kinders tussen 13-15 wil lees en dit wat jong volwassenes tussen 16-18 wil lees? Ek het nie ’n idee nie. Ek het nie meer kinderboeke gelees op hoërskool nie. Lank nie meer nie. Toentertyd het ons ook nie jeuglektuur voorgeskryf gehad nie. Tensy Bart Smit, Ons wag op die Kaptein en A Town called Alice jeugboeke was. As leser kon ek op leeftyd 14 al redelik goed oordeel dat ek van great stories hou. Dit maak regtig nie saak hoe oud die hoofkarakter is en welke tipe woorde hy gebruik nie. Ek dink nie dat ek so uniek was nie. Dit beteken nie dat ek my neus nou optrek vir jeuglektuur nie. Allermins!! Maar ’n mens moet mooi dink voor jy ’n ouderdomsgroep aan ’n boek gaan hang. Waar pas die volgende lysie dan byvoorbeeld in? Romeo & Juliet, Great Expectations, The Book Thief, The secret diary of Adrian Mole, The secret life of bees, Little Women, Don Quichotte, Extremely Loud And Incredibly Close, ag en so kan die lysie aangaan … Eintlik is daar nie ’n oplossing vir die jeugliteratuur-penarie nie... Buitendien moet ’n mens onthou dat uitgewers primêr besighede is wat daar is om wins te maak en dat die beste belang van die leser nie altyd ’n prioriteit in hulle gedgates is nie. Die selfde behoort nie van diegene wat besluit watter boeke vir skole voorgeskryf moet word, gesê te kan word nie..
Laastens wil ek noem dat Jaco Jacobs, jeugskrywer en uitgewer by Lapa, in die jongste koopgids van Lapa vyf voorstelle maak oor hoe om kinders te laat lees. Ek som dit hier op. Skryf gerus aan Lapa as julle die volledige teks wil hê. Die blad word gratis versprei. Hier is Jaco se vyf punte. Die opskrifte is verbatim syne, die opsommings is myne, maar sy idees:
1. Laat kinders self boeke kies2. Moenie ’n boeksnob wees nie (As hulle lees, laat hulle lees, enige genre!)3. Raak betrokke (Lees self, veral die boeke wat hulle lees, kry meer van die skrywers se boeke waarvan jou kind hou.) 4. Stel ’n voorbeeld (Lees self, wýs dis lekker.) 5. Leer én speel (Kies boeke wat pret is, anders gaan hulle rekenaarspeletjies speel.)
Mooiloop. En dankie. Ek leer baie.
Comments