top of page
Uitmelkbos

WARM PLAASBROOD EN VYEJêM


TWEE debute geskied vandag hier: JvW ná die pleeg van vyf miljoen joernalistieke woorde (aldus Tobie Wiese, gewoonlik betroubare bron) oplaas as outeur van ‘n boek, en HvD as spreker by die loodsing van ‘n boek van  betekenis, boonop ‘n blitsverkoper.  Die tradisie is mos dat net hoog aangeskrewe literatore, uitgewers, ander boek-geleerdes (soms ‘n edele of wat) by sulke deurlugtige okkasies slimmighede kwytraak.

Die begrip blitsverkoper is eintlik te konserwatief. Dis ‘n bielieboek. ‘n Onstuitbare stormram soos die Cheetah-stut Coenie Oosthuysen.  Dit word opgeraap nes vars, warm  plaasbrood en vyejêm by ‘n boerebasaar. (Vyejêm want dit is die lekkerste jêm!)

As ek so oor die gesigte hier heen heen kyk, tref dit my:  “So was dit” is boonop waarskynlik die grootste verenigende faktor sedert die Gupta-debakel.

Dit geval my werklik dat ek, sommer net koerantman, die “biezondere” eer te beurt val om hier die wierook te brand. Skrywer en spreker kom ‘n langerige  pad saam.  ‘n Halfeeu verby.  ‘n Veelbewoë halfeeu –  veral soms! Jy onthou seker ook hoe die kiaatdeur van die redakteur se kantoor soms in die kosyne gerittel het, Johan? 

Desondanks en nieteenstaande: ‘n Feesrede is ver verkieslik bo ‘n lyksrede. Van laasgenoemde het die uwe tot dusver in 2013 ietwat van ‘n oordosis had.  Margot Asquith (1864 – 1945) het op haar oudag gekla: “All I have to live on now is macaroni and memorial services.” Vandag is genadiglik geen memorial service nie.   Ek sien oral wyn, nie macaroni nie.

Niks saai, vervelig of treurig hier nie. Net plesierigheid. Hoop ek kan plesier toevoeg deur ‘n stukkie te lees uit my eie beskeie debuutboekie, “Scoops en Skandes”, wat in 1993 ook by Tafelberg gepubliseer is.  Ek lees uit die hoofstuk “Stop van Syne” – natuurlik n.a.v. die rubriek wat kollega Johan 25 jaar lank by Die Volksblad so weergaloos behartig het.   

As iemand meen ek raak te voor op die wa, het ek my verweer gereed. Oor Johan se eerste roemryke era – noem dit kortweg sy humor-era – is dié hoofstuk na my oordeel steeds ‘n geldige bron as jy die fenomeen Johan van Wyk wil probeer ontrafel.   (Lees uit  “Stop van Syne”.)  

In Scoops is ‘n tweede JvW- hoofstuk, “Hef ‘n bedpan”.  Toemaar, ek gaan nie daaruit lees nie, al is dit, na my oordeel, nogal orraaiterig.  Weens die historiese belang rapporteer ek darem net, en wel met ‘n sekere mate van pyn en onbehae, hoe ek doer in ’82 rond moes voetwerk doen om ‘n dorre, droë regter’ – baie Ingels – met hoogdrawende argumente te prober oortuig: Om vir ‘n dokter “hef ‘n bedpan” toe te voeg, beteken nie jy stuur hom om te gaan “dinges” nie. Nie noodwendig nie, altans.  

My argument was in die volgende trant: Dat “hef ‘n bedpan” in die konteks van Johan se eiesoortige interpolasies (onthou bekendes soos “hef ‘n siegret” en “hef ‘n mietpaai”) nie ongewoon of neerhalend bedoel is nie. ‘n Bedpan was bloot ‘n hospitaal-simbool. Johan kon vir dieselfde prys geskryf het: “Hef ‘n koorspen”. Of:  “hef ‘n stetoskoop.”

Huh? Vir sy edele regter Oscar Galgut, voorsitter van die Persraad, was die “Oom” van Stop se humor Grieks, en die jong redakteur se betoog totaal onindrukwekkend.  Twee maande later het die geaffronteerde dr. Pauw, in opdrag van die regter, sy apologie gekry, wat hy, by nadenke, dalk tog wel verdien het.  

Daardie jare al het kollegas begin praat van ‘n Johan van Wyk-boek. Herman le Roux het gemeen dit sou ‘n “moerse” boek wees.  “Moerse” is ‘n geliefkoosde Herman-woord wat hy selfs in ‘n hoofartikel sou wou gebruik as daar nie ‘n redakteursveto was nie.  Ek het so ‘n boek by Tafelberg aanbeveel. Danie van Niekerk was te vinde. Maar iemand moes sif. Johan self was min lus. Wat van sy melkbeeste?  Iemand anders het na vore gekom nie.  Hoekom nie ek self nie? Het nie juis ‘n waterdigte saak nie. Ek het immers nie melkbeeste gehad nie.

‘n Boek in die 80’s, 90’s sou waarskynlik sterk na die humor-genre oorgehel het. Mettertyd het in Johan se styl van skryf en vertel groter beleënheid ingetree. (“Beleënheid” is, terloops, ‘n woord wat ek neergepen het voordat ek Johan se Skrywersnota gelees het. Daarin lees ek toe hy beskou goeie skryfwerk self ook as ‘n “beleë kuns”, soos – in sy woorde –  “goeie wyn en goeie seks, geslyp deur jare se ervaring en ‘n dwingende begeerte na die onbereikbare”.)

Met die groter beleënheid, het die tintelende Van Wyk-humor (stoutheid?) nie verdof nie. ‘n Nuwe dimensie het egter sy skryfwerk verdiep en verryk.  Die meer beleë Johan van Wyk is een wat steeds met humor, ja, maar ook met deernis en meesleurende nostalgie allerlei hartsverlanges uitstort. Ons vind ‘n aansteeklike hunkering na die dae van windpompe en skuurdanse, na Calvinia en die uitgestrekte vlaktes van die Hantam, Aga-stowe, baaisiekels en boorgate … Ek leen van hierdie woorde op die agterplat. 

Hierdie “vreemde hunkering” – sy eie beskrywing van sy emosies toe hy sy baba die eerste keer vashou – het hom nog by meer lesers aanklank laat vind. Sy bydraes in Landbouweekblad, Weg en Die Burger word  gretig deur ‘n nuwe lojale gevolg verslind. Op Melkbos ruil ons dit onder mekaar uit.

Vroeg in 2011 maak Herman le Roux se indrukwekkende lys van Volksblad-skrywers sy buiging.  Hy bevind 60 Volksbladmense het saam 600 boeke geskryf.  Van hulle is hier teenwoordig.  (Noem Deon Meyer, wat teenwoordig is.  Noem ook C.M. van den Heever, Jaap Steyn,  Chris Karsten, Dot Serfontein, Wille Martin ……..  Verder: Rudie van Rensburg (debuteer  binnekort met “Slagyster”). Johan van Wyk se naam skitter in sy afwesigheid. 

“Dit is mos absurd,” het ons garde opnuut onder mekaar gesels. Ons het half verleë gevoel dat van ons name op ‘n lys is waar ons “enigmatiese” kollega (ek leen ook hierdie nommerpas-woord op die agterplat) so skreiend kortkom.  Ons het opnuut begin rondkyk na daardie ontwykende “iemand” vir die “jop”.  Tobie se naam het sterk opgeduik – ‘n jonger, flukser, skrander oud-kollega (ek wil darem nie sê skranderder nie) met ‘n reputasie van byna oordrewe deeglikheid. Ons het saamgestem: Tobie is die man. ‘n Bonus: Die twee is “biker”-bloedbroers.    In die winter van 2011, as ek reg onthou, het die boek begin spoed optel.  Hoera vir Herman se lysie!

Maar jakkals moet ook sy eie stert prys. Nog ‘n skakel in die ketting, so vlei ek graag myself, was toe ek in daardie tyd Johan se roerende Stop oor ‘n plaasbegrafnis raak-Google. Ek het daardie Stop – op bl. 126 van die boek – vir hom gestuur met die vraag: “Onthou jy dit nog?”  Ek het dit onder kollegas rondgeblits – ook vir Tobie. My kommentaar was dat hierdie hartseer-mooi-rubriek in ‘n kompetisie vir sy mooiste skryfwerk voor sal hardloop, met in die pylvak aan sy skouer die stuk oor sy 85-jarige pa se afskeid van sy geboortgerond  Dit was in Landbouweekblad en is nou die treffende slothoofstuk op bl. 233.

Herman (of dalk Sarel Venter) onthou toe die elegante Zandra het ‘n plakboek van Stop-juwele gemaak, onder meer van briewe aan sy kinders. “Pappa” gee aan “my liefste Boetie” vaderlike advies: ‘n Deugsame vrou is die sout van die aarde …. “veral as haar pa groot grond sonder Landbankverbande het.” “Liefste Boetie” (Kedousie)  is deesdae vlieënier in Hongkong. Sy pa se nuwe bekommernis is dat hy sal vergeet om die Airbus 340 se wiele uit te te laat voordat hy die gevaarte neersit!

“Sussie” word vermaan teen te veel in kuierplekke en op dansbane rinkink, al is “Pappa” nie “danig daarteen nie, want ek het dit self gedoen”.  “Sussie” , Anna-Mart, is nou ma van twee op ‘n wynplaas by die Paarl. Die “ietwat onwillige oupa” (sy woorde) bars van die trots, o.m.   oor die babakamer wat “soos die opslagplek van die leër se kwartiermeester-generaal lyk”. 

‘n Wenk oor die plakboek se bestaan is na Tobie gestuur, wat van toe af  maar geduldig moes kennis neem van ‘n duisternis ander wenke, wense en advies – voorskrifte? – oor wat moet in en wat nie.  Tydgenote het gunstelinge opgediep en aangestuur.  Tobie is met ‘n raamwerk na Tafelberg. “So was dit” was oplaas onstuitbaar op pad –  soos die Oranje-Snel op ‘n epiese nagtelike jaagtog deur die Karoo met ‘n John Waynerige treindrywer wat die pap dik aanmaak agter die deadman’s handle.  Lees als daarvan op bl. 59. 

Van die kantlyn af had ek net ‘n vae idée hoe ontsaglik hard Johan en Tobie gewerk het aan hierdie broodnodige boek waarin soveel liefde gestort is, wat so ‘n groot leemte in Afrikaans vul, en wat soveel vreugde in die harte van soveel van Johan se ou en nuwe “fêns” bring.   ‘n Stuk loutere leesplesier. ‘n “Fantastiese, wonderlike boek”, soos Nicol Stassen van Protea Boekhuis dit noem.  ‘n “Moerse boek” in Herman le Roux se idioom. 

Geluk, Johan, geluk, Tobie (ook vader van die vaardige en waardige Voorwoord), geluk Annie Olivier van Tafelberg. Dis hartskos dié.  In die kloeke Tobie se woorde: Dis “onnabootsbaar”.  Tobie is eenvoudig te puntenerig om die woord uniek te gebruik.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page