Min mense weet dit: C.R. Swart, Suid-Afrika se eerste staatspresident, wie se standbeeld die slagoffer van kampusvandalisme was by Kovsies, was in sy jong dae joernalis (ook cowboy in die VSA, maar dis ’n ander storie).
Trouens, die uwe en Swart was verlangs “kollegas” – hy was in 1936 twee maande lank redakteur van Die Volksblad. Ons deel verder die reputasie van “vurigheid”. Sy “vurigheid” op een bepaalde dag, 16 Januarie 1936, kon ek op my vurigste egter nooit ewenaar nie.
Swart was daardie dag besig met ’n heftige aanslag op die tik- masjien toe die Volksblad-gebou in die latere Voortrekkerstraat (en nog later Nelson Mandelarylaan) skielik begin skud.
Swart het self vertel: “Op ’n warm somermiddag sit ek en hoofartikel skrywe. Dit was glo ’n vurige en aggressiewe een, want meteens begin die vensters ruk en rammel terwyl die gebou waggel en bewe. Na ’n vyftal sekondes besef ek eers ’n vreemde gedoen was aan die gang.
“Toe ek by die kantoordeur uitstorm, sien ek net meisiekinders die gang afhardloop, en al wat gewerk (of gedut) het, storm die gebou uit na die grondverdieping die straat in. Dit was ’n aardbewing wat ons so skrikgemaak het. Dit het mooipraat gekos om almal weer terug op kantoor te kry.”
Swart se kort redakteursloopbaan het nie uit die lug geval nie. Hy het van 1927/28 tot 1933 al ’n weeklikse politieke rubriek onder die skuilnaam “Rondloper” vir dié koerant behartig. As jong politikus was hy vir ’n rubriek, “Parlementêre Praatjies”, verantwoordelik en het ook Saterdag-hoofartikels geskryf.
Later was hy minister van justisie in D.F. Malan en H.F Verwoerd se kabinette.
Sy plaas buite Brandfort se naam was “De Aap”. Dat die goedige “Oom Blackie” ’n aap was, kon jy egter nie van hierdie veelsydige man sê nie. Natuurlik mag jy dit ook nie van die standbeeld-vandale se nie. Dit sou onhoudbaar politiek inkorrek wees.
Comments