top of page
Izak de Vries

Vryheid!

Droomkind het ’n pragtige ding geskryf oor sensuur. Lees dit asseblief (kliek hier).

Ek wil graag daarby aanhak, want nie almal van ons vier werklik ons vryheid nie. Ons is so geneig om die negatiewe raak te sien in die nuwe Suid-Afrika, dat ons alte maklik vergeet waar ons vandaan kom.

Wie van julle het al Magersfontein, o Magersfontein gelees? Ek het dit gelees toe dit nog verban was. Ek was op skool en had g’n snars verstaan nie, maar ek het ook geweet dat daar Engelse boeke in ons skoolbiblioteek was wat veel beter seks, en heelwat meer vloekwoorde, tussen hulle bladsye vasgehou het.

Of wat van Donderdag of Woensdag? John Miles het destyds vir ou John Vorster laat ophang in dié boek. Poef, toe is dit verban.

Ek het die afgelope weke een en ander geplaas oor Zuma en Malema, ons twee hofnarre. Hoekom?

Omdat ek kan . . .

Ons moet dít nooit vergeet nie. En ons moet nooit vir Zuma óf vir Malema laat vergeet wat ware demokrasie is nie.

Zuma is reg as hy sê Malema gaan eendag ’n groot rol speel in hierdie land. Ons moet dit aanvaar. Ons moet daarmee saamleef en elke oomblik aangryp om Malema se sterkpunte te ... (kweek ;-) ... laat ontwikkel.

Intussen sal ek egter elke oomblik aangryp om my vryheid te gebruik deur seker te maak die klein brandbek weet mense praat van hom.

Glo my. Daar is regeringstrolle wat hierdie blogs lees. Net soos die veiligheidspolisie destyds gesorg het dat hulle weet wat aangaan in die land, so is daar vandag spoke wat niks anders doen nie as om trefwoorde in rekenaars in te tik en te kyk wat die volk sê. (In die VSA doen hulle dit ook, moenie worry nie. ’n Paar jaar gelede het ek deelgeneem aan ’n projek waarin ons op ’n gegewe dag die woord Bush in elke moontlike e-pos ingewerk het. Die projek het wêreldwyd geloop, want ons wou kyk of ons hulle filters kon crash. Het ons? Ek weet nie, die CIA het nie ’n persverklaring uitgereik nie!)

Fanie Olivier het destyds vir John Vorster ’n bom gestuur – in die vorm van ’n gedig. Hy het die NP die moer in gemaak.

Ek het die ander dag berig oor Don Mattera se politieke pen.

Vandag vra ek: kom ons vier ons vryheid saam met Droomkind.

Hoe?

Lees, lees en lees. En skryf. Wees opbouend, maar wees krities. Gebruik jou vryheid om jou vryheid te behou. If you don’t use it, you’ll lose it. Vra die NP. Herinner vir Malema daaraan. Hou Zuma uit die stort uit. (Maar moenie ophou om kanga’s voor hom te wapper nie.)

Ek kan twee boeke aanbeveel wat heelwat sê oor ons land se sensuur:

– Koos Human se ’n Lewe met boeke is ’n besonder sober, baie leesbare teks. En dit vertel heelwat oor die lewe van ’n uitgewer gedurende die dae van sensuur.


– Minder sober, maar interessant, is André P Brink se teks ’n Vurk in die pad. Dit vertel ook hoe die regering alles gedoen het om skrywers seer te maak.


Zuma is ons Ronald Reagan. Malema gaan ons Dubya wees (behalwe dat Malema slimmer is).

Kyk hoe het Reagan en Bush met die regse kerke geheul om mense se vryheid in te perk. Dié van julle wat die Amerikaanse politiek volg, sal weet dat die regses met luidsprekers in universiteitsdorpe ingaan om anti-gay of anti-aborsieveldtogte te loods.

Die voordeel? Mense was só gatvol aan die einde van Bush, dat Obama ingekom het. Vóór Bush sou Obama nie ’n kans gehad het nie – vra vir Jesse Jackson.

Hier ter plaatse is die breuk tussen Zuma en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) beduidend. In die plek van die SARK, wat op die voorpunt van die anti-apartheidstryd was, het Zuma nou die regse Rhema-kerk omarm.

Ek voel vere wat Zuma in sy vrye tyd doen. As hy gemaklik is daar, great. Ek ken heelwat mense wat daar ’n tuiste gevind het. Maar, ek gaan nie terugsit en kyk hoe ons hardgewonne vryhede deur ’n klomp regses, soos Zuma en sy “God Squad”, van ons ontneem word nie.

Wees honger vir vryheid. Pas dit op. Kyk wat het Hugo Chávez in Venezuela aangevang. Die media het te maklik gekritiseer en die massas was te lui om hulle stemme dik te maak. Neem waar hoe saggies het hy een wet na die ander ingestel wat mediavryheid inperk.

Dus: Vier jou vryheid saam met Droomkind, en wees pro-aktief. “President” Malema sal moet leer lag vir homself – ons sal hom moet help.

0 views

Recent Posts

See All

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015 Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was...

Why? / Hoekom?

A brief explanation on why I run without shoes. (Afrikaans hieronder) Nou die Afrikaans: Hoekom kaalpoot?

Comments


bottom of page