top of page
Uitmelkbos

VRIEND VAN DIE MONUMENT


Blik op die Voortrekkermonument uit die skilderagtige gedenktuin

Hoeveel Suid-Afrikaners was onlangs by die Taj Mahal maar lanklaas, indien ooit, by die Voortrekkermonument? 

 Om Monumentkoppie, buite Pretoria, het ek ook lank – te lank – verbygery. Enkele jare gelede het ek op die ingewing van die oomblik ingedraai. Die besoek was voedsel vir die gees.  ‘n Mens het opnuut onder die indruk gekom van Moerdyk se grootse skepping en die nalatenskap van die heldegeslag wat daar vereer word.

 Dit was in ‘n sekere sin ontnugterend om te sien hoe buitelanders na die monument stroom, aan gidse se lippe hang en lofbetuigings in die besoekersboek neerpen, terwyl Suid-Afrikaners in groter getalle Loftus volpak.

 Dinge is egter aan die verander. Deur die idealisme van Gert Opperman, die Erfenisstigting en ‘n Gideonsbende toegewydes herwin die Monument kosbare grond in die kollektiewe Afrikaner-geheue.  Die mense woeker met die een insiatief op die ander.

 Die jongste is ‘n kampanje om mense in te katrol as Vriende van die Voortrekkemonument.  Die doel van die klub is om lede van die gemeenskap nader aan die Voortrekkermonument- Erfenisterrein te trek en, natuurlik, broodnodige fondse  in te samel.  Bewaring van daardie erfenis is ‘n reuse-onderneming en kos baie, baie geld.

 ‘n Mens kan jou aansluit as ‘n gewone lid teen R200 per jaar of lewenslank vir R2 000.  My tjekkie vir R2 000 is in die pos.  Nou wag ek op my spesiale sertifikaat  – al is my uitstal-muur vol –  en beloofde lapelkenteken, wat ek met trots sal vertoon.

 Ander voordele vir ‘n lid behels o.m.

–          Heeljaar gratis toegang tot die terrein;

–           Korting van 10% vir die Sondagmiddagbuffet by die Monument-restaurant aangebied word;

–          Verlaagde tariewe vir sosiale- en kulturele geleenthede en toere;

–          Uitnodigings aan lewenslange lede na minstens een aktiwiteit per jaar as gaste van die besturende direkteur;

–          Gereelde inligting oor alles wat by die Monument gebeur.

 Eintlik is hierdie goed bysaak.  Trots wees om te behoort en trots wees om te wees wat jy is, behoort eintlik die deurslag te gee. 

 Vir diegene wat nog twyfel, gaan kuier ‘n slag weer by Monumentkoppie, staan in verwondering voor en binne die monument self, dwaal rond in die skilderagtige, lowerryke gedenktuin waaroor die indrukwekkende struktuur troon, besoek die Erfenisstigting se omvattende boekery, ontdek die “plaas”….  

  Monumentkoppie lyk heelwat anders as die een wat ek as kind – ons was daar in matriek in 1957 op ‘n dagbesoek aan Pretoria– en student onthou. Dit vervul jou met dankbaarheid en trots.

  Heerlike wete: As ek weer daar kom, is ek nie meer sommer net ou Hennie van Deventer van Melkbos nie, maar Hennie van Deventer, Vriend van die Monument!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page